Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Schweizer: SAOU gereed as nog koppe rol

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) is besig met die opstelling van hofstukke om dadelik te kan reageer indien Noordwes se onderwysdepartement nog ’n onderwyseres en die hoof van die Laerskool Schweizer-Reneke skors.

Chris Klopper, bestuurshoof van SAOU, het Maandag gesê die hofstukke bevat onder meer foto’s wat wys hoe gr. R-leerlinge van verskillende rasse by dié laerskool saam speel. “Ons sluit ook karaktergetuienis in.”

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie sluit onder meer dié Facebook-inskrywing van 2018 by hul hofstukke in om te wys hoe die kinders by die Laerskool Schweizer-Reneke geïntegreerd is en saamspeel.Foto: Facebook

’n Foto van gr. R-leerlinge op die eerste skooldag vanjaar in Elsabé Olivier se klas waar wit en swart leerlinge apart sit, is op sosiale media versprei en het tot ’n rasseherrie gelei. Olivier was Maandag steeds by die skool, maar ’n swaard hang nou oor haar kop sedert Noordwes se onderwysdepartement ’n ondersoek gelas het na die omstandighede wat tot dié omstrede foto gelei het.

Sello Lehari, LUR vir onderwys in Noordwes, het met ’n besoek verlede week aan die skool gesê die ondersoek na die foto is byna afgehandel en dat ’n aankondiging oor die moontlike skorsing van twee personeellede by die skool binnekort verwag kan word. Hy het nie name genoem nie, maar daar is ’n sterk vermoede dat Olivier en Alwyn Henning, die skoolhoof, se koppe kan rol. Albei is departementele aanstellings.

Klopper sê indien die twee geskors word, glo die SAOU dit sal substantief en prosedureel onregmatig wees. “Ons is gereed om ons lede by te staan.”

Dié foto van Elsabé Olivier se gr. R-klas op die eerste skooldag van 2018 wys hoe swart kinders in haar klas tussen wit kinders staan. Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) bied dié en ander foto’s in hul hofstukke aan om te wys dat daar nie rassisme by die skool is nie. Foto: Verskaf

Intussen het die skool se beheerliggaam en die onderwysdepartement Elana Barkhuizen, die gr. R-juffrou wat die foto in Olivier se klas geneem het, met volle salaris geskors hangende die uitslag van die ondersoek. Die beheerliggaam het haar aangestel.

Solidariteit bring nou na verwagting einde vandeesweek ’n dringende aansoek in die arbeidshof in Johannesburg dat haar skorsing ter syde gestel moet word omdat dit glo onwettig was.

Solidariteit en Barkhuizen voer in hofstukke aan die swart en wit kinders het apart gesit omdat die swart kinders nie Afrikaans verstaan nie en met die hulp van ’n tolk gehelp is. Ander foto’s wys egter hoe die kinders ander tye op dieselfde dag saamsit en -speel.

SAOU gaan soortgelyke foto’s by hul aansoek insluit om te bewys die skool is nie rassisties nie en dat die kinders meestal meng.

Hierdie foto van Elana Barkhuizen se gr. R-klas op die eerste skooldag in 2018 wys hoe die swart en wit kinders in haar klas almal deurmekaar sit en staan. Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) bied dié en ander foto’s in hul hofstukke aan.Foto: Verskaf

Twee swart ouers het onafhanklik van mekaar aan Netwerk24 gesê hulle is baie ontsteld oor die hele debakel omdat die skool nié rassisties is nie. Albei het gesê hul gr. 1-kinders is baie gelukkig in die skool. Die swart pa het gesê die kinders speel ongehinderd saam en dat wit ouers sy seun soms in die township gaan haal om by hul kinders te speel. Dié pa sê hy word gedreig en wil daarom nie sy naam laat publiseer nie. Hy het beaam die kinders word weens taalverskille aanvanklik in een klas apart hanteer, maar dat die swart kinders gou Afrikaans leer en met die wit kinders integreer.

Die onderwysdepartement moet teen Dinsdag beantwoordende verklarings op Solidariteit se aansoek indien. Die departement het reeds aangetoon hy gaan Solidariteit se aansoek teenstaan.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die kanse is goed dat die aansoek Donderdag in die arbeidshof aangehoor sal word.

Noordwes se onderwysdepartement kon nie Maandag vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Chris Klopper  |  Schweizer-Reneke  |  Afdankings  |  Foto  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.