Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Sedtrade sê oor besware teen koshuis in Bloem

Die beoogde studentekoshuis op die terrein van die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks in Bloemfontein waar geestesongestelde pasiënte versorg word, sal omhein word.

Beskuldigings dat die studente gaan raas waar siek pasiënte die reg op veilige en voldoende versorging het, dat hulle moontlik drank, dwelms en ander onwettige middels aan pasiënte kan verkoop en dat die studente se motors die omgewing onveilig vir die pasiënte gaan maak, is bloot aannames.

So sê Leon van Rensburg van die Vaalplan-stads- en streeksbeplanners in Vanderbijlpark en Rudolf van Vuuren, stadsbeplanner van die A4 raadgewende en konsulterende maatskappy in ’n verslag aan die Mangaung-metro se stads- en streeksbeplanningsafdeling in Bloemfontein.

Die dokument is opgestel namens die ontwikkelingsmaatskappy Sedtrade ná besware uit verskeie oorde teen planne om die koshuis op die terrein te bou.

Die kennisgewing wat vir die publiek by die studentekoshuisontwikkeling opgeplak is om hulle in te lig dat ’n studentekoshuis op die terrein van die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks ontwikkel gaan word.Foto: Marietjie Gericke

Sowel die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) as geestesgesondheidsversorgers het beswaar aangeteken.

Dié studentekoshuis is fase een van die onderverdeling en hersonering van erf 1921 in Oranjesig vir die projek Letsatsi Hub, ’n ontwikkeling van miljoene rand.

Dié bouwerk aan die koshuis staan egter nou al maande lank botstil. Die werk is stopgesit nadat beswaarmakers hul erge misnoeë te kenne gegee het.

Netwerk24 het ook reeds verskeie kere hieroor berig.

Van Rensburg en Van Vuuren meen egter in hul verslag daar is geen rede om te glo dat die studente op die terrein van die siek mense sal oortree nie.

Sowat 80% van die mense wat op die interne toegangsroete na en van die koshuis beweeg, sal voetgangers wees wat hoofsaaklik die pad, sypaadjie en fietsrybane sal gebruik.”

Toegang tot die terrein van die bestaande ingangsroetes sal ook net tydelik wees totdat ’n serwituut geregistreer en ’n pad gebou is. Ander ander motoriste ry reeds na die sportterreine, stoorgeriewe, kantoorgeboue en ander geriewe.

Die ou verpleegsterstehuis op die terrein van die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks waaraan groot verbou- en aanbouwerk reeds aangebring is sonder dat die grond onderverdeel of vir die ontwikkeling gehersoneer is. Foto: Marietjie Gericke

Van Rensburg en Van Vuuren sê in ’n dokument, wat in Netwerk24 se besit is, hulle hanteer die besware teen die stadsbeplanningsaansoek vir die onderverdeling van erf 1921 Oranjesig en die hersonering van dié spesifieke grond.

Hulle sê geskrewe besware teen die ontwikkeling is ontvang van Urban Perspectives & Labuschagne Land Surveyors namens SUT en van die geestesgesondheidsversorgers/-verbruikers wat waarskynlik verteenwoordig word deur die departement van psigiatrie/sielkunde van die Vrystaatse departement van gesondheid.

Van Rensburg en Van Vuuren sê besware van die twee partye verskil, daarom word dit afsonderlik hanteer.

Hulle sê SUT opper sewe besware:

 Die gebrek aan kommentaar van die direktoraat van vervoer;

  • Die onvoldoende of gebrek aan toegang tot die onderverdeelde erf 1921;
  • Die verwarrende terrein-ontwikkelingsplan;
  • Die nie-nakoming van die voorskrifte van die Wet op Nasionale Erfenis-hulpbronne;
  • Geen soneringskedule is saam met die aansoek ingedien nie;
  • Die beskikbaarheid van munisipale dienste wat onvoldoende aandag kry; en
  • Die onvoldoende kennisgewing aan die publiek.

Groot aanbouwerk is reeds gedoen aan ’n historiese gebou, die bestaande verpleegsterstehuis, op die terrein van die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks in Bloemfontein om ’n studentekoshuis hier op die been te bring. Dit terwyl die grond vir die ontwikkeling nog nie onderverdeel of gehersoneer is nie.Foto: Marietjie Gericke

Van Rensburg en Van Vuuren sê hulle verstaan nie waarom die direktoraat van vervoer kommentaar moes lewer nie. ’n Direktoraat van ingenieursdienste bestaan wel en dié direktoraat het op 28 Januarie vanjaar sy kommentaar gegee.

“Waar dit gaan oor die invloed wat die ontwikkeling gaan hê op munisipale paaie wat deur die stadsraad goedgekeur moet word, behoort dié departement die aangewese een te wees.”

Hulle ontken ook dat daar nie genoeg toegang tot die koshuis sal wees nie en sê ’n serwituut gaan geregistreer word.

“Die beswaarmaker bevraagteken toegang tot die parkeerterrein, maar dit is aan die noordelike grens van die voorgestelde onderverdeling,” sê hulle.

Van Rensburg en Van Vuuren sê ’n permit is wel van die Nasionale Erfenishulpbronne-agentskap bekom om aan die ou verpleegstershuis te mag verbou.

Hulle sê ’n hersoneringskedule was op 16 November 2018, saam met siviele ingenieurs- en elektriese ingenieurs-verslae, asook ’n verkeersverslag, ingedien.

Mangaung het ontvangs op 7 Desember 2018 erken.

Die openbaredeelnameproses het in Januarie 2019 begin.

Van Rensburg en Van Vuuren sê daar was genoegsaam kennis aan die publiek gegee deur ’n kennisgewing wat by die beoogde ontwikkeling opgeplak is.

Meer oor:  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.