Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Seksonderrig: Tyd om kop uit sand te trek
Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys. Foto: Morapedi Mashashe, Daily Sun

Omdat moeilike gesprekke oor seks nie tuis plaasvind nie, val die verantwoordelikheid nou op skole om leerlinge daaroor in te lig, anders sit ons met waarmee ons nou sit: ernstige geslagsgeweld.

Só sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie vir Suid-Afrikaanse Skoolbeheerliggame (Fedsas). Hy sê daar moet gepraat word oor seksonderrig en gemeenskappe moet weet waaroor dit gaan.

“Swangerskappe word weggesteek, of in erger gevalle word agterplaasaborsies gedoen. Dis tyd dat daar oor dié goed gepraat word,” sê hy.

Sy kommentaar volg in reaksie op die nasionale departement van basiese onderrig se geskrewe seksonderriglesse wat tans by sowat 1 500 skole landwyd getoets word.

Die departement het verlede week in ’n verklaring gesê die doel hiervan is onder meer om leerlinge “meer bewus te maak van geslagsgeweld”.

Die departement sê seksonderrig en onderrig in die voorkoming van MIV word reeds sedert 2000 aangebied as deel van die vak lewensoriëntering (LO). Maar die hoë koers van leerlinge wat swanger raak en MIV opdoen, wys daar was geen verandering in die gedrag van leerlinge nie. “En baie onderwysers is ongemaklik met die aanbied van seksonderrig.”

Luidens die verklaring het die getal swangerskappe onder leerlinge van 71 234 in 2009 tot 99 041 in 2013 toegeneem.

Luidens die verklaring het die getal swangerskappe onder leerlinge van 71 234 in 2009 tot 99 041 in 2013 toegeneem.

Die departement het dus in 2017 begin beplan om geskrewe seksonderriglesse by die kurrikulum te voeg.

Lesplanne is gevolglik uitgewerk vir onderwysers wat LO aanbied vir leerlinge van gr. 4 tot gr. 12.

“Die planne is ontwerp om onderwysers te help om wetenskaplik akkurate, ouderdoms- en kultuurgepaste seksonderrig aan te bied,” lui die verklaring.

Dié geskrewe lesplanne word tans in 1 572 skole in die Vrystaat, Gauteng, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en die Wes-Kaap getoets voordat dit landwyd ingestel sal word.

Luidens die verklaring het verskeie ingrypings gehelp dat swangerskappe onder leerlinge van 99 000 in 2013 tot 82 000 in 2017 gedaal het.

Deacon sê gesprekke oor seks en geslag vind nie meer plaas in ouerhuise nie omdat gesinstrukture verander het.

“Maar as jy kyk na wat die afgelope twee of drie weke gebeur het (die kollig wat onlangs op geslagsgegronde geweld begin val het), het ons op die punt gekom dat dié moeilike gesprekke nou in skole en gemeenskappe móét plaasvind.”

Deacon sê dit beteken egter nie dat ouers kan agteroorsit omdat die gesprekke in skole gevoer word nie.

“Ouers moet nader aan die vuur staan. Ons het almal se hulp nodig.”

Prof. Elda de Waal, ’n navorser in die veld van openbare skole aan die Noordwes-Universiteit (NWU), sê dit bekommer haar dat die las op onderwysers al hoe swaarder word.

“Daar is verskeie onderwerpe wat roep om aandag, maar dit raak te veel. Onderwysers se werklading raak net te groot vir een persoon om te kan hanteer.”

De Waal sê onderwysers moet objektief wees wanneer hulle seksonderrig aanbied. “Maar hoe bly ’n mens objektief met só ’n teer onderwerp? Wat nog te praat van verskillende gelowe se sienings oor seks?”

Sy sê om bloot elke keer die kurrikulum te verander as ’n probleem in die samelewing opduik, gaan nie die probleem oplos nie.

Meer oor:  Fedsas  |  Geslagsgeweld  |  Seksonderrig  |  Seksvoorligting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.