Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Masturbasie nie deel van gr. 4-leerplan
Angie Motshekga Foto: Daily Sun

Onderrig oor masturbasie gaan nie deel wees van gr. 4-leerlinge se nuwe lewensoriëntering-kurrikulum nie.

Die nasionale departement van basiese onderwys volstaan by sy verklaring dat mediaberigte wat beweer dat leerlinge gaan leer oor masturbasie in dié nuwe kurrikulum nie waar is nie.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van dié departement, het Sondagoggend by navraag gesê die presiese inhoud van die nuwe kurrikulum is nog nie beskikbaar aan die publiek nie.

“In die algemeen publiseer ons nie die inhoud van handboeke terwyl ons nog skryf nie. Die proses is onderweg en om nou enige deel daarvan bekend te maak sal teen ons norme en standaarde wees,” sê hy.

’n Vroeëre verklaring deur die onderwysdepartement maak dit egter duidelik dat die inhoud nie oor masturbasie handel nie.

“Die inhoud in die handboek rakende seksonderrig in dié graad word gelei deur die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) se internasionale riglyne vir seksonderrig. Dit word ook gelei deur die insette en leiding van navorsing van hoogs gerespekteerde Suid-Afrikaanse instellings,” lui dié verklaring.

Volgens die onderwysdepartement sal gr. 4-leerlinge op ’n ouderdomsgepaste en sensitiewe manier leer hoe baba’s gemaak word.

“Die les handel ook daaroor om uniek en spesiaal te wees, gesonde leefstylkeuses te maak, die belangrikheid daarvan om ander en jouself te respekteer, om te verstaan wat ’n persoonlike grens is en die konsep van privaatheid.”

Die inhoud moet op só ’n vlak wees dat dit ’n nege- en tienjarige sal help om ’n meer ingeligte besluit te neem.

Die gr. 4-leerlinge sal sekere vaardighede oefen, soos om gevaarlike of veilige gedrag te identifiseer binne die konteks van persoonlike leefstyl. Voorbeelde daarvan sluit in hoe om die pad veilig oor te steek en gedrag wat goed of sleg vir die omgewing is.

Mhlanga sê die behoefte om dié graadgroep se kurrikulum vir lewensoriëntering te verander spruit uit ’n ministeriële taakspan se ondersoek in 2014 rondom matrieks se prestasie in die vak.

“Een van die breedvoerige bevindinge was dat die vak versterk moet word om die beoogde doel vir die vak te behaal. Die werk wat nou gedoen word pak die probleem. Ons monitor en evalueer die kurrikulum voortdurend om leerlinge se uitkomste te verbeter.”

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) is egter ontevrede oor dié veranderinge.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU). Foto: Leánne Stander

Chris Klopper, uitvoerende hoof van dié vakbond, sê geen rolspelers in die onderwyssektor is genader deur die onderwysdepartement om insette te lewer oor die wysigings aan die kurrikulum nie.

Hy sê ervare onderwysers se insette sou aansienlike waarde toegevoeg het tot die verbetering van die kurrikulum, “maar ongelukkig is daardie waardevolle hulpbron nie gebruik nie”.

Die SAOU doen verder ’n beroep op die onderwysdepartement dat die inhoud van die nuwe kurrikulum gepas moet wees vir die spesifieke ouderdoms- en portuurgroep.

“Die inhoud moet op só ’n vlak wees dat dit ’n nege- en tienjarige sal help om ’n meer ingeligte besluit te neem. Die kurrikulum moet ook die morele waardes van verskillende gemeenskappe in ag neem in verwysing tot seksonderrig.”

Die SAOU dreig verder om die nuwe kurrikulum te boikot indien die onderwysdepartement nie die vakbond, ouers en ander rolspelers by die implementering daarvan betrek nie.

Intussen het die SAOU ’n opname onder meer as 600 onderwysers gedoen oor hul mening rondom die wysiging van die kurrikulum.

Luidens dié opname het sowat 75% van onderwysers aangedui dat ’n verandering nie nodig is nie.

Sowat 85,8% van onderwysers het aangedui dat hul skole nie toegang gehad het tot die amptelike voorgestelde aanpassings nie en 95% van onderwysers het nie die geleentheid gehad om insette te lewer oor die wysigings nie.

Meer oor:  Chris Klopper  |  Angie Motshekga  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.