Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Hoërskool Elspark: ‘Mesaanval oor foon, nie oor ras’

’n Mesgeveg Maandag by die Hoërskool Elspark in Germiston, waarin twee gr. 11-leerlinge gesteek is, het glo uitgebreek oor ’n selfoon wat Vrydag by die skool gesteel is.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het Dinsdag die skool besoek en sy bedenkinge uitgespreek dat die mesgeveg rassisties gemotiveer was.

Panyaza Lesufi (regs), Gautengse LUR vir onderwys, en Marius Kuilder, beheerliggaamvoorsitter van die Hoërskool Elspark, praat Dinsdag met die media. Foto: Dennis Delport

“Ek twyfel sterk dat dit ’n rasgegronde voorval was en ek sê dit nie om die skool te beskerm nie. Daar is in hierdie stadium nie genoeg inligting tot ons beskikking om sulke afleidings te maak nie.”

“Ek gaan nie net aannames van rassisme rondgooi sonder bewyse nie. Soos julle weet, haat ek rassisme met ’n passie, en dat ek lief is vir nierassigheid, maar daar is geen manier dat ek vinger sal wys indien ek nie die nodige bewyse het nie. Dit sal roekeloos wees,” het hy gesê.

Lesufi het gesê hy is inteendeel trots op die Hoërskool Elspark se vordering om alle leerlinge by die skool in te neem.

Die Hoërskool Elspark in Germiston, Gauteng waar ’n mesgeveg Maandag uitgebreek het. Foto:Dennis Delport
Die mes waarmee twee leerlinge Maandag by die Hoërskool Elspark gesteek is. Foto: Skermgreep
’n Hewige rusie het Maandag by die Hoërskool Elspark uitgebreek. Twee leerlinge is met ’n mes gesteek. Foto: Skermgreep

“Hulle het die massiewe stap gedoen om hul deure oop te maak vir al ons kinders. Die probleem is diegene wat steeds weier om dit te doen.”

Hy het gesê dit sal egter naïef van hom wees om te dink dat daar nie rassespanning sal wees in ’n skool wat tans deur transformasie gaan nie. “Indien die skool ondersteuning tydens die transformasietydperk nodig het, sal ons dit aan hulle bied.”

Marius Kuilder, voorsitter van die skoolbeheerliggaam, het gesê rassisme word nie by die skool geduld nie. “Ons ondersteun geensins rassisme nie. Alle leerlinge is welkom by ons. Ons wil hê dat alle leerlinge veilig moet wees hier,” het hy gesê.

’n Video wat Maandag wyd op sosiale media versprei is, wys ’n hewige rusie tussen leerlinge wat met ’n gestamp gepaardgaan.

Vuisgevegte breek dan onder verskeie leerlinge uit waarna ’n leerling skree: “Mes! mes!”

Twee leerlinge, albei 17 jaar oud, het meswonde opgedoen. Die een seun is in sy sy gesteek toe hy sy boesemvriend teen ’n groep seuns wou beskerm, het sy ouers aan Netwerk24 gesê.

Die polisie en metropolisie was Dinsdag by die Hoërskool Elspark nadat twee leerlinge Maandag in ’n mesgeveg beseer is. Foto: Dennis Delport

“Hy het baie gebloei,” het hulle gesê.

Hul seun is reeds uit ’n staatshospitaal ontslaan, maar volgens sy ouers sal hulle hom na ’n private hospitaal neem omdat dit nie beter met hom gaan nie.

“Die dokter het gister (Maandag) gesê ons seun se nier is amper raakgesteek.”

Die ander seun se middelvinger is byna morsaf gesny en word binnekort in ’n operasie geheg.

Kapt. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek die mesgeveg en klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

“Die polisie sal alle relevante mense vir ondervraging inneem,” sê Masondo.

Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

• Die ouers se name word weerhou om die minderjarige leerlinge se identiteit te beskerm.

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Germiston  |  Geveg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.