Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Selfs op die bus het Constance (59) geleer vir haar graad
Constance Mkize (59) van KwaZulu-Natal met haar sertifikaat vir haar BA-graad in onderwys. Foto: Verskaf

Constance Mkize (59) van KwaZulu-Natal is ’n ware rolmodel en ’n bewys dat ’n mens nooit te oud is om te leer nie.

Eers was sy ’n skoonmaker en toe ’n teedame. Sowat twee maande gelede het Mkize haar BA-graad in onderwys verwerf.

Deur die dag het sy heeltyds gewerk en saans op die bus en by die huis het sy met haar neus in die boeke gesit. Vandag kan sy die vrugte daarvan pluk.

Mkize is oorspronklik van Umzimkhulu en woon tans buite KwaMashu in die informele nedersetting Richmond Farm.

Sy was in diens van ’n skoonmaakagentskap toe sy in 1999 as ’n skoonmaker by die Danville Park Girls’ High School in Durban-Noord begin werk het.

In die oggende het sy die badkamers skoongemaak en smiddae het sy die klaskamers uitgevee en afgestof.

Constance Mkize (59)Foto: Verskaf

Terwyl sy as ’n skoonmaker gewerk het, het sy soms in die kombuis uitgehelp as teedame totdat die skool haar eendag permanent in dié posisie aangestel het.

In 2018 is Mkize bevorder tot die skool se administrasiedepartement, waar sy tot vandag toe in beheer is van die fotostaatkamer.

Mkize het in 2013 ’n oorbruggingskursus aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) gedoen en in 2014 met haar onderwysstudies (intermediêre en senior fase) begin.

Sy het verlede jaar haar studies voltooi en einde Mei vanjaar haar graad ontvang.

Nou droom Mkize daarvan om vir leerlinge in gr. 4 tot gr. 9 skool te gee en het reeds by skole aansoek gedoen. Sy kan Zoeloe, Engels en sosiale wetenskappe aanbied.

“Ek wou nog altyd ’n onderwyser wees. Ek het hierdie beroep gekies, omdat ek kinders wil help om op ’n vroeë ouderdom skoolonderrig te kry,” sê Mkize.

“Toe ek grootgeword het, het ek baie swaarkry en lyding ervaar. Ons was arm en het niks gehad nie.”

Mkize sê sy kon wel skool klaarmaak.

Sy wou nie verder oor dié moeilike tye uitbrei nie, maar dis toe dat Mkize besluit het om kinders te help.

Mkize het ’n lening aangegaan om haar studiekoste te dek.

Hoewel dit uitdagend was om haar studies aan te pak terwyl sy heeltyds werk, sê Mkize haar lewensmaat het haar baie ondersteun. Hulle is nie getroud nie en het nie kinders nie.

“Tydens my studies het hy in die aande as ’n veiligheidsbeampte gewerk. Wanneer ek deur die dag by die werk is, sou hy slaap en vroeg opstaan om vir ons kos te maak,” sê Mkize.

“Ek het nie nodig gehad om te kook nie. Dit is dan wanneer ek tyd gekry het om te leer.”

Mkize sê sy het op haar lewensreis geleer dat alles binne jouself is.

“Geen wonderwerk sal gebeur om ’n situasie te verander nie. ’n Mens moet opstaan en deurdruk, en dan kan jou drome waar word.”

Alhoewel sy harde klippe moes kou om uiteindelik haar BA-graad te bekom, is sy gelukkig.

“Ek het daarin geslaag om baie mense te motiveer, soos vriende wat ná werk dieselfde bus as ek huis toe neem. Daar is sommiges wat my voorbeeld volg en ook studeer,” sê Mkize.

“Ek het op die bus my boeke oopgemaak en geleer, terwyl al die ander met mekaar gesels het.”

Meer oor:  Student  |  Onderwyseres
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.