Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Hoof slaan vure dood ná herrie oor skool se wit senior raad
Die omstrede senior raad van die Hoërskool D.F. Malan in Bellville. Foto: Facebook

’n Stryery het op Facebook losgebars toe ’n bekende skool in Bellville, Kaapstad, sy senior raad vir volgende jaar aankondig het en al 24 lede is wit.

“Het die Hoërskool D.F. Malan geen persone van kleur in die skool nie? Of het persone van kleur nie leierskap-potensiaal nie?” het mense dadelik gevra.

Iemand anders wil weet: “Wil jy vir my sê in die jaar 2020, in ’n skool op die Afrika-kontinent, uit 24 posisies, kon hulle nie een persoon van kleur kry nie?”

Ander mense wat glo self in die skool is of was, het gesê die verkiesingsproses is baie streng en regverdig teenoor almal.

Die plasing met die 24 verkose leerlinge, 10% van die getal matrieks vir volgende jaar, se foto’s en hul name is op die skool se Facebook-blad gedeel en honderde mense het daarop kommentaar gelewer.

Volgens Sias Conradie, skoolhoof, het die skool alles in sy vermoë gedoen om leerlinge aan te moedig om aansoek te doen, maar geen leerlinge van kleur het aansoek gedoen nie.

“Ons het leerlinge oor en oor aangemoedig om hulself beskikbaar te stel, en ons het selfs die afsnydatum uitgestel om hulle meer tyd te gee,” sê hy.

Oor sommige se opmerkings dat die skool persone van kleur moes aanmoedig om te staan, sê hy: “Die skool se leierskap wil nie by die verkiesingsproses inmeng nie, want dan is dit nie demokraties nie. Dit was nog altyd demokraties en die raad het in die verlede uit verskeie bevolkingsgroepe bestaan.

“Die skool doen baie moeite om verskeie leierskapsposisies te skep wat leerlinge kan vul.” Dié raad het volgens hom uitgebreide funksies soos om te help met die organisering van geleenthede, verwelkoming van gr. 8’s, dissipline en geesvang.

Ons het leerlinge oor en oor aangemoedig om hulself beskikbaar te stel, en ons het selfs die afsnydatum uitgestel om hulle meer tyd te gee.

Na aanleiding van vrae oor die verkiesingsproses het die skoolbeheerliggaam ’n verduideliking op die skool se Facebook-blad gedeel.

Volgens die plasing is leerlinge nie vir die raad benoem nie en elke gr. 11-leerling wat belang gestel het in ’n leierskapsposisie kon daarvoor aansoek doen.

“Leerlinge het drie weke tyd gehad om aansoek te doen. Die spertyd is ook met een dag uitgestel om almal te akkommodeer.”

Die beheerraad sê aansoekvorms is aanlyn met ’n skakel via gr. 11-registergroepe aan alle leerlinge beskikbaar gestel.

“Registerpersoneel moes ná elke boodskap terugvoering gee om te bevestig dat elke klas die boodskap ontvang het. Elke registerklas van gr. 8 tot gr. 11 het ’n harde kopie ontvang met datums en tye wanneer raadsverkiesings open en sluit.

“Gr. 11-leerlinge moes vanjaar vir die eerste keer aanlyn aansoek doen weens beperkinge weens Covid-19. Indien hulle probleme met die aanlyn aansoekproses ondervind het, is hulle genooi om in die I-sentrum en by die tegniese ondersteuningspan hulp te vra.”

Die verkiesing het aanlyn plaasgevind en personeel en leerlinge het via ’n skakel elektronies gestem. Leerlinge sonder data of selfone kon ook op ’n vorm in harde kopie stem.

Conradie het Vrydag gesê hy kan nie data verskaf oor wie almal gestem het nie, maar ’n leerling se stem en ’n onderwyser se stem het elkeen dieselfde gewig gedra.

“Die Wes-Kaapse onderwysdepartement is nie formeel bewus gemaak van die bekommernisse oor die verkiesing nie,” het Bronagh Hammond, woordvoerder, laat weet. “Ons het ook nog geen klagtes in die verband ontvang nie, maar die skool is in die proses om ’n interne komitee saam te stel om die saak te hanteer.”

Volgens Conradie is daar tans geen planne om ’n herverkiesing te hou nie, maar die proses wat volgende jaar gevolg word, sal moontlik van vanjaar s’n verskil.

Die verkose raad het volgens inligting al met opleiding begin, maar is glo ontsteld oor die reaksie op hul verkiesing.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement is nie formeel bewus gemaak van die bekommernisse oor die verkiesing nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.