Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Setlaars sing ‘Die Stem’ toe hulle voorvaders moor, sê UWK-leier

Die adjunkvoorsitter van die studenteraad aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) het vir ’n relletjie gesorg nadat hy op ’n onlangse gradeplegtigheid gaan sit het tydens die Afrikaanse en Engelse gedeeltes van die volkslied.

Songezo Booi, wat uit hoofde van sy amp op die verhoog saam met akademici gestaan het op die UWK se herfs-gradeplegtigheid vroeër die maand, sê hy het gaan sit omdat Die Stem” ’n lied is wat “deur rassistiese setlaars gesing is terwyl hulle ons voorvaders doodgemaak het”.

’n Video van die voorval het vroeër die week aan die lig gekom nadat dit deur Matshela Koko, die omstrede voormalige waarnemende hoof van Eskom, op Twitter gedeel is.

Koko se kommentaar daarby was: “Kyk na die comrade in die swart toga. Respek vir hom. Kom ons eer hom wanneer ons 8 Mei gaan stem en stem om die volkslied te verander.”

Die video en sy kommentaar het groot aftrek gekry en is amper 400 000 keer gekyk en deur sowat 2 000 mense gedeel. Die kommentare wissel van afkeurend tot baie ondersteunend. Een Twitter-gebruiker skryf: “Hy is kinderagtig en onnodig, Afrikaans is nie gelyk aan apartheid of rassisme nie.’’ Floyd Shivambu, adjunkpresident van die EFF, prys Booi egter vir sy “leierskap”.

Die UWK het Vrydag by monde van hul woordvoerder, Gasant Abarder, gesê niemand het by die universiteit gekla oor die voorval nie en hulle gaan beslis nie teen Booi optree nie.

“Die universiteit respekteer die verskeidenheid van menings en die regte van studente om die regte in ’n multikulturele en polities diverse kampusomgewing uit te druk.”

Hy sê studente het die reg om te protesteer solank dit nie op die regte van ander inbreuk maak nie.

Booi het nie op Rapport se versoeke om kommentaar gereageer nie.

Op Twitter het hy egter gesê “Die Stem” moes nooit in die volkslied opgeneem gewees het nie. “Dit is dieselfde lied wat deur rassistiese setlaars gesing is toe hulle ons voorvaders vermoor het. Ons sit wanneer dit gesing word omdat dit die minste is wat ons kan doen om ons ontevredenheid met die 1994-ooreenkoms, wat ons mense in gedrang geplaas het, te kenne te gee.”

Booi sê twee antagonistiese liedere kan nie saamgevoeg word “net omdat ons as divers gesien wil word nie”.

Jackie Seroke, ’n PAC-woordvoerder, het by navraag aan Rapport gesê alhoewel die huidige volkslied se (Enoch) Sontonga-deel hom op God en Christelike waardes beroep, besing die bygevoegde Afrikaanse en Engelse dele die besetting van die grond. Seroke sê die PAC voel die weergawe wat nou gesing word, is deur regeringsleiers afgewater vir politieke opportunisme om ander etniese groepe tegemoet te kom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.