Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Seuns kry dalk berading ná ‘verhouding’ met onnie

’n Onderwyseres wat beskuldig word van seksuele wangedrag met leerlinge by die spogskool Bishops Diocesan College in Rondebosch in Kaapstad is deur ’n sielkundige van die skool beskryf as ’n pligsgetroue en gerespekteerde leerkrag van wie almal gehou het.

Die skool het vroeër bekend gemaak dat die onderwyseres, (wat intussen as die 30-jarige Fiona Viotti geïdentifiseer is) onmiddellik bedank het en dat die bewerings ondersoek word.

Rapport berig die skool het haar bedanking Saterdag in ’n brief aan ouers oorgedra nadat bewerings van die verhoudings met “sommige van ons seuns” aan die lig gekom het.

Viotti, ’n waterpolo-afrigter wat in 2006 Suid-Afrika se waterpolo-span by die Statebondspele verteenwoordig het, het na bewering ’n verhouding met ’n matriekseun (18) gehad, berig die Weekend Argus. Die verhouding het blykbaar rugbaar geword toe die seun dit glo wou beëindig.

fiotti
Fiona en Pavo Viotti. Foto: Bishops College Magazine

Peter Farlam, ’n sielkundige by die skool se Bishops Support Unit (BSU), wat volgens sy webblad op die been gebring is om optimale sielkundige, emosionele, maatskaplike en intellektuele ontwikkeling van leerlinge, individue en families in die gemeenskap aan te moedig, wou by navraag nie kommentaar lewer nie omdat hy (volgens hom) dalk berading sal moet gee aan seuns wat moontlik geraak word.

Hy het wel gesê Viotti was ’n pligsgetroue en gerespekteerde onderwyseres van wie almal gehou het. “Berading sal verskaf word aan enige seuns wat moontlik hierdeur geraak word.”

Adv. William Booth, wie se dienste Viotti intussen bekom het, sê by navraag omdat die saak deur die skool ondersoek word, wil hulle nie in dié stadium kommentaar lewer op die aangeleentheid of die pad vorentoe nie.

Viotti is volgens ’n nuusbrief van die skool verlede jaar in September in Plettenbergbaai met Pavo Viotti getroud. Hulle is blykbaar intussen uitmekaar, berig die Sunday Times.

Volgens dié koerant het Adam Pike, die voorsitter van die Old Diocesans’ Union, in ’n brief aan lede oor die aangeleentheid geskryf hulle moenie spekuleer op ’n wyse wat die ondersoek kan benadeel of aanhits nie.

Kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, sê by navraag nog geen klagte oor die voorval is by die polisie ingedien nie.

Dit is onbekend hoe oud die seun was toe die beweerde verhouding begin het.

Viotti se oom is die oud-Springbokrugbyafrigter Nick Mallett. Sy is die dogter van Mallett se broer, Dave, wat die skool se eerste rugbyspan afrig. Haar oupa, Anthony Mallett, was die skoolhoof van 1964 tot 1982, berig die Sunday Times. Sy het ook in 2009 in Sports Illustrated verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.