Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Siekte stuit nie Tukkie se vierde graad

Erika Barnard (30) het pas haar graad in teologie, haar vierde graad, van die Universiteit van Pretoria ontvang. Sy het dié vierjaargraad in drie jaar afgehandel, al ly sy aan disoutonomie.

Disoutonomie is ’n siekte wat ’n mens se senuweestelsel aftakel en kan tot verskeie simptome lei. In Barnard se geval kan haar liggaam onder meer nie self bloeddruk, hartklop, temperatuur of selfs die knip van haar oë reguleer nie.

Erika Barnard het ’n graad in teologie aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Foto: Marthinus Koekemoer

“Ek was baie jonk toe ek sommer sonder rede flou geword het. Ek is telkens inderhaas hospitaal toe gebring en tipies is lae bloedsuiker vir my probleem aangevoer.

“Toe ek 21 was, is disoutonomie die eerste keer korrek by my gediagnoseer.”

Simptome kom en gaan, en almal, van Barnard se familielede tot haar vriende en selfs die mense in haar klas, weet al om haar uit te los sodat sy haar bewussyn self kan herwin wanneer sy flou geword het.

“Dokters sê ek moet my bewussyn op my eie herwin, maar hulle sê ook daar gaan dalk ’n dag kom dat ek nie my bewussyn sal herwin nie en dan is ek dood.”

Barnard is nie liggeraak oor die dood nie, maar het vrede daarmee gemaak. Haar toestand het amper haar verlowing met Jaco beëindig.

“Ek het vir Jaco sy ring teruggegee, want ek wou hom nie met my probleme opsaal nie, maar hy wou niks weet nie en het gesê dis ’n reis wat ons saam sal aanpak.” Hulle is sedertdien getroud.

“Hy is ongelooflik goed met my aangesien ek konstant in pyn is en daarom dikwels geïrriteerd of kwaad is.”

Barnard se siekte is ongeneeslik en medisyne kan net help om haar simptome in ’n mate te beheer.

Sy het reeds ernstige probleme met haar hande en voete. Sy sukkel om fyner bewegings uit te oefen met haar hande, wat aanhoudend pyn. As sy nie medisyne gebruik nie, voel dit asof iemand spykers in haar hande kap.

My droom is om met vlugtelinge in die Midde-Ooste te werk. As ek die geleentheid kry, sal ek dit heeltyds aanpak.
Erika Barnard

“Ek kan amper glad nie meer skryf nie en moes die eksamen vir my graad almal mondelings aflê. Eenvoudige take, soos om ’n bottel oop of toe te draai of om ’n ritssluiter te trek, kan ek nie meer doen nie.”

Maar Barnard is ’n optimistiese mens wat nie in sak en as gaan sit en wag op die einde nie. Sy reis graag en was al in 19 lande, sy speel sewe musiekinstrumente en sy is tans besig met ’n driejaarplan waarmee sy hoop om in 2021 die Comrades-ultramarathon te voltooi.

Geregtigheid is vir haar een van die belangrikste dinge in die lewe.

Benewens haar werk as jeug- en musiekleier in die NG kerk Monumentpark is sy ook die bedryfsdirekteur van Garsfontein Youth Upliftment. Hier help sy meisies wat om watter rede ook al uit hul ouerhuise verwyder is om weer op die been te kom.

Haar ander groot passie is haar werk onder onderdrukte Christenvroue in Egipte en Irak.

“My droom is om met vlugtelinge in die Midde-Ooste te werk. As ek die geleentheid kry, sal ek dit heeltyds aanpak.”

Intussen is sy reeds goed op dreef met haar meestersgraad in teologie waarin sy die Ou Testament onder die vergrootglas plaas. Sy hoop om dié graadstudie volgende jaar te voltooi en direk daarna haar doktersgraadstudie in dieselfde rigting aan te pak.

Meer oor:  Pretoria  |  Gradeplegtigheid  |  Siekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.