Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Sittings begin oor onderwys as noodsaaklike diens

Die eerste van ’n reeks landwye sittings oor die DA se versoek om basiese onderwys tot noodsaaklike diens te verklaar, het Woensdag in Port Elizabeth begin.

Die sittings word gehou deur die Komitee vir Noodsaaklike Dienste, ’n statutêre instansie wat deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie geadministreer word.

Nomsa Marchesi, DA-woordvoerder oor onderwys, praat Woensdag in Port Elizabeth oor die DA se voorlegging. Foto: Lulama Zenzile

Sonja Boshoff, DA-LP en lid van die parlement se portefeuljekomitee oor basiese onderwys, en Edmund van Vuuren, DA-woordvoerder oor onderwys in die Oos-Kaap, het voorleggings gedoen. Hulle vra dat ’n minimum diensvlak vir skole ingestel word sodat leerlinge nie tydens ’n staking sonder toesig gelaat word nie.

Nomsa Marchesi, DA-woordvoerder oor onderwys, sê hulle wil hê wetgewing moet dit verplig dat ’n aantal onderwysers aan diens is met ’n staking. Hoeveel onderwysers “hang af van wat die Komitee vir Noodsaaklike Dienste besluit”, maar die DA wil hê dit moet genoeg wees om die leerlinge se veiligheid te verseker.

Sy meen dit behoort nie ’n vrywillige opsie te wees nie. Die DA wil hê dit moet in wetgewing verskans word.

Die DA wil nie onderwysers se reg om te staak wegneem nie, maar meen die veiligheid van leerlinge moet ook in ag geneem word.

Boshoff het gepraat oor die chaos wanneer onderwysers en ondersteunende personeel by skole vir leerlinge met spesiale behoeftes staak.

Marchesi sê die voorstel is nie ongehoord nie en dat sulke maatreëls in ander lande geld.

Sy sê die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) se reëls steun die DA se aansoek. Die IAO vereis dat ’n sekere aantal personeel die fort hou tydens ’n staking, veral waar veiligheidskwessies ter sprake is. Daarom glo sy hul aansoek sal slaag.

Die onderwysvakbond Sadou sê hy steun nie die DA se aansoek nie.

Nomusa Cembi, woordvoerder van Sadou, sê verteenwoordigers van die vakbond sal die sitting in Johannesburg bywoon om voorleggings teen die voorstel te doen.

Ons moet egter onthou dat dit kragtens die definisie van noodsaaklike dienste moeilik kan wees om onderwys tot noodsaaklike diens te verklaar aangesien geen lewe bedreig word as die diens onderbreek word nie.
Elijah Mhlanga

“Arbeidswetgewing maak nie daarvoor voorsiening dat onderwys as ’n noodsaaklike diens beskou moet word nie.

“Die DA dink deur dit tot noodsaaklike diens te verklaar, sal daar minder stakings wees, terwyl die realiteit is dat daar reeds minimaal gestaak word.

“Dit is ook nie stakers wat onderrig in die land belemmer nie, dit is die tekort aan hulpbronne, oorvol klasse en die swak toestand van infrastruktuur.”

Cembi sê hulle is nie verbaas oor die DA se poging “om onderwysers se menseregte in te perk nie” en meen dié versoek is bloot ’n politieke skuif.

Die departement van basiese onderwys sê hy kyk eers die kat uit die boom.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, sê daar was al voorheen so ’n aansoek, maar dit was onsuksesvol.

“Ons sal dié ronde met belangstelling dophou.

“Ons moet egter onthou dat dit kragtens die definisie van noodsaaklike dienste moeilik kan wees om onderwys tot noodsaaklike diens te verklaar aangesien geen lewe bedreig word as die diens onderbreek word nie.”

  • Daar sal ook op 13 Julie in Durban ’n sitting wees, op 16 Julie in Kaapstad en op 17 Julie in Bloemfontein. Die laaste sitting word op 18 Julie in Johannesburg gehou.
Meer oor:  Iao  |  Sadou  |  Kvba  |  Port Elizabeth  |  Politiek  |  Da  |  Basiese Onderwys  |  Sittings  |  Komitee Vir Noodsaaklike Dienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.