Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skande dat US verengels, sê Giliomee
Hermann Giliomee

Dis ’n “absolute skande” dat die Universiteit van Stellenbosch nou Engelsmedium is, het prof. Herman Giliomee, geskiedkundige, met die bekendstelling van sy biografie op die Vrystaat Literatuurfees gesê.

Hy het wel gesê daar is tog nou bruin akademici wat bereid is om hulle uit te spreek teen wat hier met Afrikaans gebeur. Die verwydering wat tussen wit en bruin in die verlede gebeur het, sal egter nog uitgepraat moet word.

Hy het verwys na ’n gesprek met Aaron Cupido, ’n onderwyser, wat destyds aan hom gese het: “Die probleem met julle blankes is dat ons julle ken het. Ons het in julle huise gewerk. Maar julle het ons nie geken nie. Julle het nie eens geweet waar ons bly nie.”

Prof. Johann Rossouw, dosent in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), wat die gesprek gelei het, het ook verwys na die “geweldige onetiese wyse” hoe van Afrikaans op die UV ontslae geraak is.

Hy het ook sy verbasing uitgespreek dat so min Afrikaanse akademici hul nek vir Afrikaans se behoud uitgesteek het.

Giliomee het in antwoord daarop gesê dit is “verstommend hoeveel van hierdie akademici wat nie vir Afrikaans wil veg nie, oud-Broederbonders is”.

Op ’n vraag oor geskiedenis wat as vak uit Afrikaanse skole verdwyn het, het hy gesê met sy onlangse optrede in Orania het hy gehoor een gevallestudie in die leerplan van die plaaslike skool bespreek apartheid, die Klu Klux Klan (KKK) en volksuitwissing. Dis ’n radikale delegitimisering van die Afrikaner se geskiedenis.

. . . verstommend hoeveel van hierdie akademici wat nie vir Afrikaans wil veg nie, oud-Broederbonders is”.

Dit is die plig van wit ouers om die geskiedenis vir hul kinders te leer soos wat swart ouers dit gedoen het. Dit kan deur dokumentêre programme gedoen word, wat hy juis nou besig is om te maak.

Giliomee het in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê universiteite in Suid-Afrika het nie ’n blink toekoms nie. Daar is soveel maniere waarop swart en wit studente hul verwagtinge van universiteite probeer vervul en in konflik is met mekaar. Daar sal gekyk word hoe gemeenskapsinstellings soos Solidariteit dit doen. Daar moet ook gekyk word hoe jy saamwerk met Vlaamse universiteite soos die Universiteit van Gent.

“Daar is ’n mark vir Afrikaanse universiteite. Die feit dat dit in Stellenbosch verlore gegaan het, is ’n absolute skande. Dit is gewoon eiebelang en totaal onrealisties dat jy in hierdie huidige staat wêreldklas universiteite opbou. Dis is net nog een van die hengse uitdagings waarteen die Afrikaners in hul geskiedenis te staan gekom het, soos die Oosgrens, die Boererepublieke (se einde) en die armblankevraagstuk.

“Ek sien al hoe meer tekens dat mense begin dink en besef dat sekere instellings wat vasbeslote is om Engels te word, dan verlore is vir Afrikaans. Jy moet dan jou optelsomme maak en besluit ons gaan iets op ons eie bou. Ons het dit al vantevore gedoen. Ons kan dit weer doen.”

Ek sien al hoe meer tekens dat mense begin dink en besef dat sekere instellings wat vasbeslote is om Engels te word, dan verlore is vir Afrikaans.

Op ’n vraag wat hy sal sê vir ’n redelike persoon soos prof. Francis Petersen, nuwe rektor van die UV, het hy geantwoord hy kan nie dink dat daar nie sekere parallelstrome ingestel kan word nie. Die universiteit wat werklik verbeeldingryk wil dink en moderne video-middele wil gebruik, behoort ’n ordentlike Afrikaanse stroom te kan instel.

“Eintlik moes julle man (Petersen) op Stellenbosch aangestel gewees het. Dit lyk my na presies die regte soort man om te hê. Dan moet ek sê die jongste uitsprake van prof. Jonathan Jansen (vorige rektor van die UV) is verskriklik. Die ironie is die meeste mense wat daaronder ly, is die bruin mense. Hy gee ook net niks daarvoor om nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.