Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skenkings bewaarheid haar onderwysdroom

Anne-Marie Kruger (22) van Waverley het verlede week haar droom bewaarheid toe sy by die Hoërskool Montana begin skool gee het.

Maar haar droom was bykans aan skerwe.

“Ek het in 2017 ’n BA Tale-graad by die Universiteit van Pretoria met die hulp van ’n studielening voltooi,” sê Kruger, wat in Pretoria gebore is en grootgeword het.

Anne-Marie Kruger het met die hulp van ’n paar skenkers haar droom om ’n onderwyser te word vanjaar bewaarheid.

“Verlede jaar het ek by dieselfde instansie vir finansiële hulp aansoek gedoen om my onderwysdiploma te voltooi, maar ek het die inligting wat ek van hulle ontvang het, verkeerd verstaan en was dus aan die einde van verlede jaar die universiteit nog geld verskuldig. Ek kon nie my diploma bekom voor die skuld van meer as R32 000 betaal is nie.”

En dit was Kruger se probleem. Sy het nie die geld beskikbaar gehad nie en dit het gelyk of sy nie vanjaar by die Hoërskool Montana sou kon begin waar sy reeds ’n pos gekry het nie.

“Ek het by verskeie plekke vir hulp aangeklop voor my suster Jakaranda FM se Good Morning Angels vir hulp genader het. Hulle het my saak onder die publiek se aandag gebring waarna ’n paar instansies en persone my gehelp het om die skuld te betaal,” vertel Kruger.

“Ek moet spesiaal PSG Wealth, Silver Lakes, en die 2018-matrieks van die Afrikaanse Hoër Meisieskool vir hul hulp bedank.”

Kruger gee Afrikaans vir Montana se gr. 9’s en beskou onderwys as ’n beroep waar sy werklik ’n verskil aan die lewens van ander kan maak.

“Ek glo ons almal streef daarna om ’n verskil te maak en ek dink skole is die ideale plek om dit te doen,” sê sy. “Indien leerlinge die regte onderrig ontvang kan dit ’n reusebydrae tot hul toekoms maak. Onderwys kan byvoorbeeld help om armoede uit te wis. Ek kan kinders help om hul passie te ontdek en daarin te groei.”

Dit is duidelik dat onderwys Kruger se passie is, maar sy is amper net so lief vir skryf en sy meen sy sou ’n loopbaan as skrywer wou volg indien sy nie ’n onderwyser kon word nie.

“Ek droom daarvan om eendag my skryfwerk gepubliseer te kry,” sê Kruger.

“Dit bly een van die grootste doelstellings in my lewe.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.