Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skerms kom dalk tussen leerlinge

Die regering oorweeg alternatiewe vir die roteringstelsel waarvolgens leerlinge net elke tweede dag skool toe gaan. Dis omdat kinders besig is om ver agter te raak met hul skoolwerk.

Vakbonde is egter skepties of dié stelsel kan werk.

Hulle kon nie vir almal maskers gee nie, wat nog van skerms?

Tans ontvang die meeste skole net 50% van hul leerlinge op ’n gegewe dag. By sommige skole kom die verskillende grade op verskillende dae en by ander is dit meisies en seuns wat op verskillende dae skool toe kom.

Skole mag slegs meer leerlinge toelaat as die skool genoeg ruimte het om alle veiligheidsmaat­reëls, insluitend ’n afstand van een meter tussen elke persoon, te handhaaf.

Die departement van basiese onderwys oorweeg dit om fisieke skeidings tussen kinders in klasse op te rig sodat hulle veilig nader aan mekaar kan sit, het Angie Motshekga, minister van onderwys, dié week vir die SAUK gesê. Sy het gesê kinders verloor te veel leertyd met die huidige stelsel.

Vakbonde sê afskortings sal dalk in kleiner skole werk, maar dit sal moeilik wees om dit in stadskole met duisende leerlinge in werking te stel.

Basil Manuel, uitvoerende direkteur van die onderwysersvakbond Naptosa, sê party skole is reeds stampvol as net 50% van hul kinders op die terrein is.

“In sommige meer welvarende stadskole is die klasgroottes tussen 30 en 40, maar in armer skole is dit soms tussen 50 en 60. Vir hulle is 50% steeds 30 leerlinge. Die onredelike druk op skole om leerlinge te aanvaar en toe te laat al is hulle eintlik vol, kom spook nou by ons.

“Ek stem saam dat te veel leertyd nou verlore gaan, maar die skerms is net holle beloftes. Hulle kon nie eens vir almal maskers gee nie, wat nog te sê skerms?”

Marnelda de Beer, verbonde aan die Skoleondersteuningsentrum, sê uit ’n akademiese oogpunt sal dit die werklas verlig as skole na “normaal” kan terugkeer.

“Maar wat is die doel van die skeidingsmeganisme as die leerlinge dan tydens pouses en ná skool weer nader aan mekaar is? Is dit die geld werd?”

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse onderwysersunie (SAOU), sê aangesien hierdie tye buitengewoon is, moet buitengewone prosesse gevolg word. Hy sê hulle terugvoering is dat skole met koshuise die een-week-aan-een-week-af-model volg en ander skole grade elke twee dae afwissel.

Klopper en Manuel is dit eens dat onderwysers nogal uitgeput raak aangesien hulle heeltyd dieselfde lesse oor moet gee.

’n Onderwyseres by ’n groot hoërskool in Pretoria wat op voorwaarde van anonimiteit met Rapport gepraat het, sê sy dink ook glad nie die skerms sal werk nie. “Die kinders maak eintlik net wat hulle wil. Sulke maat­reëls werk vir twee weke en dan is dit verby.”

Die departement van basiese onderwys het nie op Rapport se versoeke om kommentaar gereageer nie.

Meer oor:  Basil Manuel  |  Chris Klopper  |  Angie Motshekga  |  Covid-19  |  Skole  |  Vakbonde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.