Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skokbewerings oor Grey in taakspan se verslag gemaak
Henry Büchner Foto: MLUNGISI LOUW

Die moontlike ontbinding van die beheerliggaam van die spogskool Grey-kollege in Bloemfontein deur die Vrystaat se onderwyshoof, is ’n kernaanbeveling van ’n onafhanklike taakspan wat die geldsake van die skool ondersoek het.

Die skoolhoof, Deon Scheepers, moet geskors en aangekla word van ernstige wangedrag betreffende die aanpassing van leerlinge se punte en omdat hy foutiewe inligting aan die onderwyshoof oor eksamens van Junie 2018 verskaf het, lui ’n aanbeveling in ’n ander verslag van ’n ander onafhanklike taakspan wat ondersoek ingestel het na die onmin tussen Scheepers en sy beheerliggaam.

Die onderwyshoof kan die ontbinding van die beheerliggaam oorweeg omdat dié raad nie sy pligte ingevolge die Skolewet nagekom het nie, lui die aanbeveling.

Dié twee vertroulike verslae is in opdrag van adv. Tsoarelo Malakoane, onderwyshoof van die Vrystaat, opgestel.

Twee van die hoofspelers in die Grey-drama, Scheepers en Henry Büchner, voorsitter van die beheerliggaam, loop ook onder die tonge van die taakspanne deur.

Die taakspan wat die geldsake ondersoek het, sê hy kon geen bewyse in notules vind dat Büchner hom onttrek het van die vergadering van die beheerliggaam waar besluit is om Honey-prokureurs vir sekere regswerk te gebruik nie.

Deon Scheepers Foto: MLUNGISI LOUW

Büchner is ’n direkteur van Honey. Die firma mag dalk onregverdiglik bevoordeel word, sê die taakspan.

Die taakspan beveel aan dat lede van die beheerliggaam wat ’n belang by ’n saak het, hulle moet onttrek wanneer dit bespreek of besluite daaroor geneem word.

Die onderwyshoof moet ook vasstel of die R173 490 wat aan Honey betaal is, vergelykbaar is met wat ander firmas vir dié werk sou vra. Indien dit te veel is, moet van die geld terugbetaal word, sê dié taakspan.

In die ander verslag word Scheepers daarvan beskuldig dat hy gelieg het. “Hy het ’n neiging om vir die beheerliggaam en ander belanghebbendes te lieg. Dit het ’n negatiewe invloed op hul verhouding.”

Hy het vir die vorige hoofseun (2018) gelieg. Dié hoofseun het hom daaroor gekonfronteer en sedertdien is daar geen vertroue tussen hulle nie, het die taakspan bevind.

Die taakspan het hom ook uitgevang dat hy vir hulle gelieg het oor die werking van sy bestuurspan. Ook oor die aanpassing van skoolpunte om die beeld van die skool goed te laat lyk, het hy glo gelieg, blyk dit uit dié verslag.

Nog ’n aanbeveling van die taakspan oor die geldsake is dat die onderwyshoof die moontlikheid moet ondersoek om die meer as R1,5 miljoen van die hoërskool te verhaal wat die beheerliggaam vir regskoste in sy hoftwis met Scheepers goedgekeur en betaal het.

Die taakspan meen nie net is die nié vir ’n opvoedkundige doel gebruik nie, maar deur die beheerliggaam om homself teen sy eie skoolhoof in die hof te verdedig. Scheepers het uit sy eie sak sy regskoste betaal.

Dié taakspan het ook aanbeveel dat die aanstelling van drie personeellede van Grey-kollege (primêr) verder ondersoek word. Geen stawende dokumente vir hul aanstellings is aan die taakspan voorsien nie.

Oor van die aanstellings sê die taakspan: “Dié personeel is oorwegend eggenote en vriende van sekere lede van die beheerliggaam, die laerskoolhoof, Jurie Geldenhuys, en die adjunkhoofde van die laerskool.

“Hierdie aanstellings grens baie aan nepotisme, veral waar stawende dokumentasie en goedkeuring vir die poste deur die beheerliggaam nie voorsien kan word nie,” sê die taakspan.

Meer oor:  Deon Scheepers  |  Bloemfontein  |  Skorsing  |  Grey-Kollege  |  Wangedrag  |  Skokbewerings  |  Beheerliggaam  |  Taakspan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.