Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole bly nog oop, al dreig EFF

Die departement van basiese onderwys oorweeg dit nog nie om skole weens die derde vlaag koronavirus-infeksies te sluit nie.

Julius Malema, EFF-leier, het Donderdag gedreig as die regering nie die skole binne sewe dae sluit nie, sal die EFF dit doen.

“Al hoe meer kinders word siek en dít kan ons nie toelaat nie. Ons kinders moet veilig wees,” het hy gesê.

Die tweede skoolkwartaal duur nog tot 9 Julie, waarna die derde kwartaal op 26 Julie begin.

Julius Malema, EFF-leier. Foto: Felix Dlangamandla

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die onderwysdepartement, het Vrydag gesê daar is nog nie planne om skole vroeër te sluit nie.

Hy wou nie kommentaar lewer oor ander moontlike maatreëls wat die departement weens die nuwe vlaag infeksies oorweeg nie.

Die SAOU sê alle skole kan nie oor dieselfde kam geskeer word nie.

“Dit is nie die EFF se kundigheidsterrein nie. Dit sou veel beter gewees het as die party die onderwysowerhede genader het met ’n koherente plan,” sê Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU.

Só ’n plan moet volgens hom verskeie kwessies aanraak, waaronder skole wat as brandpunte geïdentifiseer is, die getal onderwysers en leerlinge wat siek is, die duur van die voorgestelde skoolsluiting, asook hoe dit die kurrikulum gaan beïnvloed en hoe die skoolwerk dan ingehaal gaan word.

“In die afwesigheid van só ‘n koherente en rasionele plan is dit duidelik dat die dreigemente nie in die belang van skole kan wees nie. Dit is belangrik dat die mediese wetenskap besluite en aksies rig, eerder as persepsies en emosies,” sê Klopper.

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die onderwysvakbond Naptosa, sê die vakbond vra nie op die oomblik dat skole summier gesluit word nie.

“Ons ondersteun dit dat skole oop bly solank dit veilig is. As jy 6 miljoen hoërskoolkinders op straat gaan laat ronddwaal, gaan jy waarskynlik meer infeksies hê. Die wetenskap sê skole is veiliger en die beste plek waar kinders kan wees.”

In die afwesigheid van só ‘n koherente en rasionele plan is dit duidelik dat die dreigemente nie in die belang van skole kan wees nie.

Volgens Manuel is die infeksiekoers onder onderwysers nog laag, maar die vakbond hou die getalle dop.

Onderwysvakbonde sou ook Vrydag met Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van basiese onderwys, oor verskeie kwessies vergader.

“Soos altyd sal ons die veiligheidsaspekte opper. Daar is altyd wetenskaplikes saam met ons in die vergadering wat oor die kwessie kan praat. As die wetenskap voorstel skole moet gesluit word, sal ons dit steun, maar ons glo nog nie die tyd is reg nie,” sê Manuel.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging en lid van die ministeriële advieskomitee oor entstof, het Vrydag aan Dennis Delport gesê die huidige inperkingsvlak kan bly, maar daar sal beslis na skole gekyk moet word.

“Ons sal skole vir minstens twee tot drie weke moet sluit – net om uit hierdie vlaag te kan kom."

Ons sal skole vir minstens twee tot drie weke moet sluit – net om uit hierdie vlaag te kan kom.

Brig. Vish Naidoo, polisiewoordvoerder, het by navraag oor die EFF se dreigement gesê die polisie sal die situasie monitor en ingryp by enige onwrigting indien nodig.

Meer oor:  Eff  |  Julius Malema  |  Dreigement  |  Vlaag  |  Skole  |  Oop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.