Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole: Dís wat Angie die naweek moet sê

Inentings vir onderwysers en die plan met skole te midde van die derde vlaag koronavirusinfeksies is van die kwessies wat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, na verwagting Saterdag gaan takel.

Minister of Basic Education, Ms Angie Motshekga gi
Angie Motshekga Foto: Argief

Motshekga hou dan ’n mediakonferensie oor Covid-19-kwessies in die onderwyssektor.

Onderwysorganisasies vergader voor die konferensie met Motshekga. Volgens dr. Jaco Deacon, waarnemende uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), is onderwysers se inentings die enigste item op die agenda.

’n Inentingsprogram waarvoor 300 000 dosisse Johnson & Johnson-entstof vir die onderwyssektor bekom is, sal na verwagting binnekort begin.

“Ek aanvaar die minister gaan meer besonderhede gee oor wie in watter ouderdomsgroep eerste ingeënt gaan word. Ons hoop regtig dat dit vinnig kan gebeur, want die onderwyssektor is seker een van die bes georganiseerde sektore,” sê Deacon.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê hulle wil graag hoor dat die inentingsveldtog Maandag begin en dat daar ’n kommunikasieveldtog vir provinsies en distrikte is.

Ander kwessies waaroor die vakbond duidelikheid vra, is of die plekke waar onderwysers ingeënt gaan word reeds geïdentifiseer en maklik bereikbaar is, en of goed opgeleide mediese personeel die entstof sal toedien.

“Kortom, dat dit goed georganiseerd sal wees en dat dit nie, soos wat dikwels gebeur, mooipraatjies is en dan op grondvlak in wanorde eindig nie,” sê Klopper.

Ons wil nie sien dat onderwysers uit die skool onttrek word en dan vir ure in toue moet gaan staan nie. Skole kan nie die verdere ontwrigting van onderrigplanne bekostig nie.

“Ons wil nie sien dat onderwysers uit die skool onttrek word en dan vir ure in toue moet gaan staan nie. Skole kan nie die verdere ontwrigting van onderrigplanne bekostig nie.”

Die SAOU wil ook versekering hê dat inenting vrywillig is en dat onderwysers wat kies om nié ingeënt te word nie, nie gebrandmerk sal word nie.

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die onderwysvakbond Naptosa, sê hulle sal ook in die vergadering vra wanneer die res van die sektor ingeënt gaan word.

“Die publiek wil hoor dat Motshekga na die mense op grondvlak, en veral onderwysers, se bekommernisse luister,” sê hy.

Volgens hom sal dit dus ’n fout wees as die stygende infeksiekoers nie aandag kry nie. Daar is oproepe uit verskeie oorde dat die skoolvakansie, wat op 9 Julie begin, vroeër geskuif moet word.

“Naptosa het nog nooit die summiere sluiting van skole ondersteun nie, maar ons sê wees meer kreatief (met oplossings) en skuif dalk die vakansie. Die infeksies by hoërskole is veral kommerwekkend,” sê Manuel.

Dit beteken as Bloemfontein ’n hoërisikogebied is, hoef ons nie die skole in Alexanderbaai ook te sluit nie.

Fedsas glo egter nie skole moet vroeër sluit nie. Volgens Deacon maak die huidige regulasies daarvoor voorsiening dat skole in brandpunte kan sluit.

“Dit beteken as Bloemfontein ’n hoërisikogebied is, hoef ons nie die skole in Alexanderbaai ook te sluit nie. Ons ondersteun daardie beginsel. Maar dit beteken die provinsiale departemente en distrikte moet baie wakker wees en nou met die gesondheidsdepartement skakel sodat ons die regte skole op die regte tyd toemaak en nie kinders onnodig uit skole hou nie. Dis ’n fyn balans en ons hoop dit word nie versteur nie,” sê hy.

“Skole wat veilig kan voortgaan, moet gelos word om aan te gaan. Daar is baie skole wat nou eksamen skryf of toetsreekse het, so die skooldae is in elk geval korter.”

Deacon hoop die minister doen weer ’n beroep op mense om die veiligheidsmaatreëls na te kom.

“Kinders is ’n lae risiko en gewoond aan die maatreëls, maar die volwassenes moet ook streng daarby hou. Ons kry berigte van mense in personeelkamers wat nie maskers dra nie of oor naweke kuier. Die ding gaan nie verbygaan as ons almal nie saamwerk nie.”

Meer oor:  Angie Motshekga  |  Covid-19  |  Laerskole  |  Koronavirus  |  Onderwysers  |  Pandemie  |  Inentings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.