Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole: ‘Dit lyk of Maandag kan realiseer’

Die onderwysvakbond Naptosa sê skole sal waarskynlik Maandag heropen, nie omdat almal gereed is nie, maar omdat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, niks gesê het oor Wes-Kaapse skole wat heropen het nie en gevolglik druk op die res van die land geplaas het.

“Ouers meen hul kinders gaan agtergelaat word,” sê Basil Manuel, uitvoerende direkteur van Naptosa.

Skole sou aanvanklik die afgelope Maandag vir leerlinge in gr. 12 en gr. 7 heropen, maar die onderwysdepartement het Sondagaand aangekondig dat skole nou eers op 8 Junie sal heropen.

Dié aankondiging is egter nie in die gewysigde regulasies in die Staatskoerant vervat nie en die datum vir die heropening van skole vir die twee groepe leerlinge is onveranderd op 1 Junie gelaat.

Ingevolge die riglyne in die Staatskoerant mag skole wat aan die Covid-19-regulasies voldoen, open. Dit beteken skole kan afwyk van die voorgeskrewe datums, mits ’n aansoek om te heropen deur die hoof van die provinsiale onderwysdepartement goedgekeur is.

Skole in die Wes-Kaap het op grond daarvan heropen.

Manuel sê hulle het Donderdagaand met Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van die onderwysdepartement, vergader en sê volgens die departement is sowat 90% van alle skole gereed.

“As die minister sê skole is gereed, vat sy en haar LUR’e volle verantwoordelikheid vir dié wat nie gereed is nie. Ons het nie die hulpbronne om elke skool na te gaan nie,” sê hy.

Die vakbond het nou sy fokus verskuif.

“Ons wil weet wat is die plan vir skole wat nie gereed is om te heropen nie. En hoe gaan skole wat voldoen aan die Covid-19-regulasies, dit volhou? Daar is nog nie vir ons ’n plan gegee vir hoe goed soos handreinigers en skoonmaakmiddels vervang gaan word nie. Hoe lyk die afleweringskedule?

“Baie is gedoen en baie moet nog gedoen word, en nou moet ons seker maak die pogings is volhoubaar. Die virus gaan nog ’n lang tyd met ons wees,” sê Manuel.

Daar is werklik ’n groot verskil tussen dit wat die onderwyshoofde aan die minister rapporteer en dit wat op grondvlak gebeur.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) sê buiten vir die Wes-Kaap en Gauteng, is daar steeds probleme met die lewering van beskermende toerusting (PPE) en die ontsmetting van skole, maar die situasie is reeds wesenlik beter as ’n week gelede.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, sê die vakbond het Vrydag met elke provinsie se sekretaris vergader.

“Daar is werklik ’n groot verskil tussen dit wat die onderwyshoofde aan die minister rapporteer en dit wat op grondvlak gebeur,” sê hy.

“Skole waar SAOU-lede die hoofde is, is gereed. Nie noodwendig omdat die provinsiale departement dit gedoen het nie, maar omdat die skole self die skool gereed gekry het. Die terugvoering is dat ons lede gretig is om te begin en skole te heropen vir leerlinge in gr. 7 en gr. 12. Dit lyk dus of Maandag kan realiseer.”

Volgens Klopper is daar wel twee praktiese kwessies waaroor daar kommer is.

“Die skandering en data-aantekening in die oggende neem langer as wat beplan is, en om in die praktyk ’n gesonde afstand te handhaaf, is moeiliker as wat vermoed is.”

Klopper sê talle skole oorweeg dit om op grond van die regulasies ander grade gouer in te faseer as wat die skedule in die Staatskoerant voorstel.

Manuel sê daar is vrae oor hoe skole gaan gereedmaak vir ander grade wat terugkeer.

“Gr. 12 en gr. 7 is nie die kwessie nie, die kwessie kom wanneer al die leerlinge terugkeer. Is die skole voldoende gelei oor die beplanning van ’n nuwe, ingewikkelde rooster?” vra hy.

Die SAOU het herhaal onderwysers moet nie net wegbly as ’n skool dalk nie gereed is nie.

“Vestig ’n papierspoor en meld aan. Verwittig die plaaslike departement as daar nie PPE is nie. Bevestig dat jy vir diens aangemeld het en bereid is om te werk as dit veilig is. Herhaal die proses die volgende dag,” sê Klopper.

Elijah Mhlanga, woordvoerder vir die departement van basiese onderwys, het Vrydag by navraag gesê die departement is besig met vergaderings en sal daarna meer inligting oor skole se gereedheid bekend maak.

Meer oor:  Basil Manuel  |  Angie Motshekga  |  Elijah Mhlanga  |  Covid-19  |  Onderrig  |  Inperking  |  Skole Heropen  |  Pandemie  |  Naptosa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.