Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole heropen beslis van 1 Junie af – Motshekga
Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Dinsdagaand op ’n mediakonferensie in Pretoria aan die woord.Foto: GCSI

Die land se skole sál op 1 Junie heropen – ook dié in stedelike gebiede waar die meeste Covid-19-gevalle voorkom, het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Dinsdagaand op ’n mediakonferensie in Pretoria gesê.

Die nasionale Covid-19-bevelsraad en die kabinet het die heropeningsplan goedgekeur.

Die eerste leerlinge van die land se sowat 16 miljoen wat sal terugkeer skool toe, is die gr. 12’s en gr. 7’s. Almal sal gesigskerms of maskers moet dra en gereeld hul hande moet was.

Elke leerling sal twee maskers van die departement ontvang.

Leerlinge in ander grade sal mettertyd toegelaat word om terug te keer, maar daardie datums is nog nie beskikbaar nie. Dit sal eers later afgekondig word.

Motshekga sê ouers sal betyds gewaarsku word.

Onderwysers in al nege provinsies sal van 25 Mei (eerskomende Maandag) af begin terugkeer skool toe.

Dit sou vroeër gewees het, maar weens ’n gebrek aan persoonlike veiligheidstoerusting, is dit met ’n week uitgestel. Die skole sal reeds ontsmet wees wanneer die onderwysers terugkeer.

Sy sê klagtes dat sommige skole nog net twee bottels ontsmetmiddel ontvang het, is ongegrond aangesien dit net vir die bestuurslede se gebruik was wat Maandag moes terugkeer.

Die res van die goedere sal binnekort afgelewer word.

Kinders hoef nie terug te keer, maar . . .

Dit was volgens haar van die begin af ’n prioriteit dat die land se skole weer sál heropen.

Hoewel die sluiting van skole vir sowat twee maande selfs ’n impak op volgende jaar se akademiese jaar sal hê, was dit ’n goeie ding om hulle te sluit om die verspreiding van die virus te vertraag voordat dit die land vernietig.

Verskeie maatreëls word ingestel om skole te help om die akademiese jaar te voltooi.

Die matrieks se kurrikulum sal nie aangepas word nie, maar wel dié van ander grade.

Die veiligheid van kinders, onderwysers en werkers by skole is nou die hoofprioriteit. Dit is ook belangrik dat die heropening van skole nie tot die verdere verspreiding van die virus lei nie.

Ouers sal ook nie verplig word om hul kinders skool toe te stuur nie, maar hulle sal dan moet reël dat hul kinders goedgekeurde tuisonderrig ontvang.

“Die veiligheid van kinders, onderwysers en werkers by skole is nou die hoofprioriteit.

“Dit is ook belangrik dat die heropening van skole nie tot die verdere verspreiding van die virus lei nie.”

Sielkundiges op bystand

“Skole is goed vir kinders. As jy nou in die townships gaan kyk, sal jy sien kinders speel al van vroegoggend af op straat.

“As ons genoeg ruimte by ons skole gehad het, sou ons al die kinders gelyktydig teruggestuur het skool toe.

“Omdat daar nie genoeg spasie is om ’n veilige afstand tussen die kinders te handhaaf nie, volg ons die ingefaseerde benadering,” sê Motshekga.

Skole met min leerlinge kan hul eie planne volg solank daar genoeg afstand tussen die leerlinge en onderwysers is.

“Alle leerlinge en personeel sal eers georiënteer en opgelei word.

“Ons besef die inperking het ongekende druk en angstigheid onder ons almal veroorsaak.

“Daarom werk ons ook aan sielkundige bystand,” sê sy.

Geen sportaktiwiteite

Geen sportaktiwiteite sal toegelaat word nie omdat sport die verspreiding van die virus kan aanblaas. Die geld wat daarvoor begroot is, sal nou vir ander dringende sake aangewend word.

Daar sal daagliks streng siftingstoetse – wat van provinsie tot provinsie sal verskil – wees.

Dit is ook belangrik dat ouers en gemeenskappe skole inlig as daar kinders en ouers met onderliggende siektetoestande is.

“Ons het maatreëls getref en mense wat met die kos werk sal ook persoonlike beskermende toerusting kry. Ons werk ook met departement van vervoer saam om te verseker dat daar aan veiligheidsmaatreëls voldoen word wanneer kinders vervoer word.”

Ons het maatreëls getref en mense wat met die kos werk sal ook persoonlike beskermende toerusting kry. Ons werk ook met departement van vervoer saam om te verseker dat daar aan veiligheidsmaatreëls voldoen word wanneer kinders vervoer word.

Wat spesiale skole betref, sê die minister haar departement werk met verskeie organisasies saam oor hoe hul heropening moet geskied. Hulle sal ook so vroeg moontlik kan heropen.

“Dit is omdat van dié skole ook terapeutiese sentrums vir leerlinge met gestremdhede is. Sulke leerlinge se gesondheid kan geraak word as hulle vir te lank van skole weg is.”

Motshekga sê ’n plan word ook oorweeg vir die oopstelling van vroeë-kinderontwikkelingsentrums.

Monitering die groot taak

“Ons grootste taak met die heropening sal monitering wees. Riglyne daaroor sal so gou moontlik bekend gemaak word.

“Ons sal dit van Woensdag af op die departement se webtuiste publiseer.

“Daar is ook ’n onafhanklike konsortium aangestel om die uitvoering van al ons planne te monitor.

“Die publiek word ook aangemoedig om met ons te kommunikeer as daar iewers probleme is, soos byvoorbeeld ’n gebrek aan water en sanitasie by skole.”

Die minister het haar kommer uitgespreek oor die vlaag van vandalisme landwyd. Sowat 1 577 skole het reeds onder die hande van vandale deurgeloop en is beskadig of afgebrand.

Die meeste van dié voorvalle (463) was in KwaZulu-Natal en meer as 300 in Gauteng.

Meer oor:  Koronavirus  |  Skole Heropen  |  Angie Motshekga  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.