Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole hóéf nie haweloses te huisves, sê Fedsas

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) sê openbare skole is nie verplig om hawelose mense tydens die staat van inperking in skoolkoshuise te huisves nie.

Volgens die federasie maak die huidige noodregulasies weens die Covid-19-uitbreking in Suid-Afrika nie vir dié plan voorsiening nie.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, het Woensdag gesê daar is versoek dat sommige skole se koshuisgeriewe tydelik gebruik word om haweloses te huisves.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys wat tans ook waarneem as LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het glo dié versoek gerig.

“Die beheerliggame het Fedsas egter losgelaat, daarom het ons besluit om tente te gebruik. Dit is die hartseer werklikheid,” sê Mabona.

Die beheerliggame het Fedsas egter losgelaat, daarom het ons besluit om tente te gebruik. Dit is die hartseer werklikheid.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, sê hulle het bloot aan beheerliggame advies gegee.

“Ons is nie ‘losgelaat’ nie en kan nie anders as om oor daardie opmerking te glimlag nie. Dit is regtig onsinnig,” sê hy.

Volgens die federasie bepaal die Skolewet dat alle openbare skole hul regte deur die beheerliggame uitoefen en dat beheerliggame dus die skoolterrein en -geboue beheer en administreer.

“Die beheerliggaam moet dus geraadpleeg word en instem tot die versoek, of ’n proklamasie moet deur middel van publikasie in die Staatskoerant gedoen word ingevolge die Wet op Rampbestuur.

“Tans maak die regulasies nie voorsiening vir die vestiging van haweloses in skoolkoshuise nie,” lui Fedsas se regsmening aan skole.

Colditz sê hulle het begrip vir die dilemma van weerlose mense en die krisis wat die land in die gesig staar.

“Maar daar is sekere reëls wat nagekom moet word. Die ramptoestand en krisis hef nie ons almal se verantwoordelikheid op om die reëls van ’n regstaat na te kom en te verseker dat ons optrede te alle tye regmatig, redelik en prosedureel billik is nie,” sê hy.

Maar daar is sekere reëls wat nagekom moet word. Die ramptoestand en krisis hef nie ons almal se verantwoordelikheid op om die reëls van ’n regstaat na te kom en te verseker dat ons optrede te alle tye regmatig, redelik en prosedureel billik is nie.

Beheerliggame is geadviseer om verskeie aspekte in ag te neem wanneer daar besluite oor die skool se geriewe geneem word.

Dit sluit in die betaling van water, elektrisiteit en verbruiksartikels soos toiletpapier en seep, asook wie verantwoordelikheid vir die hawelose mense se ander behoeftes soos kos, klere en medikasie is.

Colditz sê die kwessie oor wie orde en toesig gaan handhaaf, is ook belangrik, sowel as die moontlikheid dat hawelose mense kan weier om die geriewe te verlaat wanneer skole heropen.

“Ons het die werklikheid van maande lange struwelinge met onwettige immigrante wat kerke in die Kaap beset het,” verduidelik hy.

Algemene sekuriteit, personeel wat reeds in koshuise woon en daar ingeperk is, en skade aan skooleiendom word ook as kwessies genoem.

“Wie dek potensiële verliese of skade aan eiendom, want skole se versekering sal nie betaal nie as die gerief nie gebruik is vir die doel waarvoor dit verseker is nie.

“En wie maak doodseker dat die geriewe vanuit ’n higiëniese oogpunt absoluut veilig is vir kinders om die persele weer te betree en te bewoon?” sê Colditz.

Hy is nie bewus van enige skole wat wel hul geriewe beskikbaar gestel het nie, maar sê hy sal verbaas wees as dit in die lig van bogenoemde kwessies wel gebeur het.

“Die Grondwet waarborg kinders se beste belange as deurslaggewend in alle aangeleenthede wat hulle raak en kinders se veiligheid en welsyn is uiteindelik die beheerliggame se verantwoordelikheid.”

Meer oor:  Fedsas  |  Koronavirus  |  Covid-19  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.