Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole: ‘Infrastruktuur ’n groot geldelike uitdaging’

Oorbevolking in klaskamers, om asbes te vervang, asook puttoilette is van die projekte wat die departement van basiese onderwys in skole gaan aanpak.

Provinsies het Dinsdag voorleggings oor hul infrastruktuur op ’n vergadering gelewer en bespreek wat hulle in die vorige boekjaar vermag het en wat hulle van voorneme is om in die huidige boekjaar aan te pak.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het op die vergadering gesê infrastruktuur is ’n groot uitdaging vir haar departement. “Finansieel gesproke is dit een van die grootste uitdagings wat ons as sektor in die gesig staar,” het sy gesê.

Die provinsies se uiteensetting vir die vorige en huidige boekjaar:

Noord-Kaap

In die Noord-Kaap gaan ’n groot deel van die 2021-’22-infrastruktuurbegroting aan nuwe skole. Die provinsie probeer meer skole bou om die toename in leerlinge te akkommodeer.

Dit gaan ook die departement R3,8 miljard kos om strukture wat nie geskik is vir leerlinge nie, te vervang, onder meer asbes-infrastruktuur en deur skole te skuif.

Daar is 16 876 leerlinge wat nie genoeg of voldoende skoolmeubels het nie, dus moet 40 817 stoele en 37 620 lessenaars aangeskaf word.

KwaZulu-Natal

R2,6 miljard is vir infrastruktuur in die 2021-’22-boekjaar begroot.

Die departement beoog om ontslae te raak van asbes in 908 skole in die provinsie, waarvan 445 skole deel is van fase een.

Die meeste skole is in die Ugu-distrik (81), Umlazi-distrik (81), Ilembe-distrik (81) en King Cetshwayo-distrik.

Die uitwissing van die 1 377 puttoilette, die installering van 1 158 boorgate en die opknapping van skole wat deur storms beskadig is, is op die provinsie se prioriteitslys.

Die provinsie beplan ook om drie fokus-skole te bou; The Agricultural School of Excellence in die uMgungundlovu-distrik en die Maritime School of Excellence. Die plekke is geïdentifiseer waar die skole opgerig kan word.

Die Covid-19-pandemie het die inwerkingstelling daarvan vertraag. Die derde fokus-skool is The School of Autism in uMlazi.

Limpopo

Die plan vir die huidige boekjaar is om die interne sanitasieprogramme te voltooi en sommige geld sal gebruik word om mobiele klaskamers aan te skaf. In die 2020-’21-boekjaar is R1,258 miljard vir infrastruktuur in die provinsie begroot. Elektrisiteit is vir 68 klaskamers aangelê, water is aan 24 skole verskaf en Rand Water het watertenks aan 522 skole verskaf.

In 2020 is 689 chemiese toilette aan skole verskaf waar ’n tekort aan sanitasiefasiliteite geïdentifiseer is.

Gauteng

Luidens die voorlegging het dié provinsie die volgende infrastruktuur-uitdagings – 29 skole is van asbes gebou, 87 is mobiele skole, 1 228 skole het probleme met instandhouding en 566 skole het ablusie-probleme. Daar is 723 skole in die provinsie wat saam ’n tekort aan 5 554 klaskamers het, waarvan 3 166 laerskole en 2 388 hoërskole. Daar is ’n agterstand van nuwe skole. In nuwe townships is 132 skole nodig, naamlik 75 laerskole en 57 hoërskole.

Wes-Kaap, Mpumalanga, Vrystaat en Noordwes

Luidens die voorlegging is vyf uit sewe skole in die Wes-Kaap meer as 40 jaar gelede gebou en bereik hulle die einde van hul lewensduur. Die uitdagings vir projekte in die Wes-Kaap is die toenemende nood wat die konstruksiebedryf ervaar as gevolg van die ekonomiese afswaai en kapasiteitbeperkings.

In die 2021-22-boekjaar in Mpumalanga wil die departement sanitasie en puttoilette pak. Met die vorige boekjaar se begroting het die provinsie die Thaba Cheweu-koshuis gebou, drie skole opgeknap, opgraderings by drie skole gedoen, boorgate by skole gesink en 172 van die 225 sanitasieprojekte afgehandel.

Nuwe infrastruktuur, opgradering, aanbouings en omheinings in die Vrystaat wat nie in die vorige boekjaar voltooi is nie, sal in die huidige boekjaar voltooi word.

In Noordwes is daar in die vorige boekjaar 307 klaskamers opgerig, vier nuwe skole is gebou of voltooi, terwyl vier nuwe skole steeds onder konstruksie is. Instandhoudingsprojekte is by 172 skole gedoen en omheinings met sekuriteit is by 70 skole aangebring.

Meer oor:  Infrastruktuur  |  Angie Motshekga  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.