Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Skole kan sluitings probeer bestuur’

Die gereelde sluiting van skole weens Covid-19-gevalle is ontwrigtend, maar onderwysorganisasies sê skole kan dit probeer bestuur sodat hulle nie geheel en al hoef te sluit en onderrigtyd verloor nie.

Al meer bevestigde gevalle kom onder leerlinge en onderwysers voor.

Die nasionale departement van onderwys sal later Donderdag die syfers in elke provinsie bekend maak en sal volgens Elijah Mahlanga, die woordvoerder, gereeld gedoen word, berig Meghan Lawrence.

Die tye wat die skole gesluit word, wissel van twee dae tot ’n week.

Volgens die onderwysdepartement se dokument oor standaard-bedryfsprosedures vir skole hoef ’n skool nie noodwendig te sluit indien iemand positief toets nie. Dit moet net oorweeg word indien die staat se gesondheidsbeamptes dit aanbeveel.

“Die tydelike sluiting van ’n skool is ’n moontlike strategie om die verspreiding van die virus in die skoolgemeenskap te voorkom of te bekamp,” lui die dokument.

Skooladministrateurs kan egter nie self hieroor besluit nie en moet die departement se prosedures volg en leiding van beamptes kry.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, beklemtoon hoewel dit ontwrigtend is om ’n skool te sluit, word dié besluit nie op skoolvlak geneem nie.

Beweging op die skoolterrein moet soveel as moontlik beperk word
Paul Colditz, Fedsas se uitvoerende hoof

“Dit is in die hande van die provinsiale onderwysdepartement en moet in oorleg met die gesondheidsdepartement geneem word. Daar is dus nie veel wat ’n skool self kan doen om sluiting te voorkom as dit nodig sou wees nie.”

Colditz sê skole het wel beheer oor die voorkoming van verspreiding, omdat oordrag van die virus nie noodwendig op die skoolterrein gebeur nie, maar van buite af ingebring word.

“Daarom kan skole sluiting en ontwrigting probeer voorkom deur die protokolle vir voorkoming van oordrag te volg en toe te pas,” verduidelik hy.

“Dit beteken beweging op die skoolterrein moet soveel as moontlik beperk word. As daar wel beweging is, soos onderwysers wat klasse moet verwissel, stel protokolle in en probeer sover moontlik tred hou van waar mense op die skoolterrein beweeg het en met wie hulle in kontak was.

Colditz raai skole ook aan om die higiëne-protokol streng toe te pas, waaksaam te bly en erns te maak met die voortdurende voorligting en indril van veiligheidsprosedures.

“As hierdie protokolle nougeset toegepas word, hoef skole nie noodwendig in geheel te sluit nie. Net daardie persone wat kontak gehad het, en oppervlakke en ruimtes wat moontlik besmet kan wees, hoef dan ontsmet en tydelik vermy te word.”

Skole soos die Laerskool Helderkruin in Roodepoort het aan die begin van die maand hul eerste leerlinge verwelkom, nadat skole vir langer as twee maande gesluit was. Foto: Felix Dlangamandla

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die onderwysvakbond Naptosa, sê dit is vanselfsprekend dat onderwysers en leerlinge die virus gaan opdoen omdat hulle in die gemeenskap beweeg, maar die vakbond is tog bekommerd oor die sporadiese sluiting van skole en die aantal gevalle.

“Is dit volhoubaar as 180 skole op een dag moet sluit, die volgende dag 240, ensovoorts? Dit is die nasionale syfers wat ons tot dusver ingesamel het. Natuurlik mis kinders skoolwerk.”

Hoewel talle skole aanlyn voortgaan wanneer die skool sluit, sê Manuel, kan dit nie die nuwe algemene manier van onderrig wees nie.

“Aanlyn leer is moeilik, omdat die meeste leerlinge nie toegang daartoe het nie. Soms is dit kwessies met data, ander kere met toestelle.”

Volgens hom is die oplossing hiervoor nie voor die hand liggend nie en hy meen die probleem gaan vererger wanneer ander leerlinge terugkeer.

As die volgende groep leerlinge terugkeer, is daar nie ekstra onderwysers nie
Basil Manuel, Naptosa se uitvoerende hoof

“Die verlies aan onderrigtyd kan op die oomblik bestuur word, want daar is ander onderwysers wat kan help, maar as die volgende groep leerlinge terugkeer, is daar nie ekstra onderwysers nie.

“Ons onderskryf die standpunt dat skole die beste plek vir kinders is om te wees. Maar as die regte hoeveelheid en kwaliteit beskermende toerusting (PPE) nie daar is nie, gaan jy meer infeksies by die skool hê,” sê Manuel.

“Ek is baie huiwerig om te sê dat ons vir die volgende groep leerlinge gereed is, want daar is steeds skole wat nie die regte hoeveelheid PPE het nie. Nou gaan talle grade terugkeer. Hoe gaan ons dit bestuur? Ek dink nie provinsies gaan gereed wees nie.”

Meer oor:  Naptosa  |  Fedsas  |  Basil Manuel  |  Paul Colditz  |  Covid-19  |  Skole  |  Koronavirus  |  Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.