Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole: ‘Kontaklesse sal nie verdwyn’

Skole het tydens die inperking groot spronge met aanlyn klasse gemaak, maar dit beteken nie dat dié onderrigmodel die “nuwe normaal” vir onderwys is nie.

Riaan van der Bergh, onderwystegnologiebestuurder van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het Dinsdag op ’n aanlyn bespreking gesê skole moet verder dink as die aanpassings weens die Covid-19-pandemie en fokus op die skool van die 2030’s.

Dit beteken nié noodwendig skole gaan net aanlyn voortbestaan en kontaklesse afskaf nie, maar dat veranderinge aan die onderrigmodel wel nodig is.

Dup van Rensburg, voormalige skoolhoof van Ligbron Akademie, sê baie van die skoollewe se aspekte moet verander om by die nuwe situasie aan te pas.

Van Rensburg het vanjaar die Nasionale Onderwys-prys vir lewenslange prestasie ontvang.

Dis insiggewend dat die buiteland deur die bank na ’n gewone model terugkeer – die debatte gaan juis oor die protokolle vir terugkeer na die gewone en bekende onderwyspraktyk.

“Met elke ontwrigting moet daar by die nuwe omstandighede aangepas word om te oorleef.

“Die meeste wetenskaplikes stem saam dat klasse van aangesig tot aangesig sal bly, hoewel die inhoud en assesseringsmodel gekritiseer is.

“Hulle heg waarde aan onderwysers se fisieke teenwoordigheid en ingryping, sowel as die sosialisering. “Die rol van onderwysers as versorgers in ’n veilige omgewing is vir ouers uiters belangrik en stel hulle in staat om met noodsaaklike werk voort te gaan,” sê Van Rensburg.

Hy sê persoonlike kontak sal nie sommer in die toekoms wegval nie.

“Formele of informele sport, praktiese eksperimente, probleemoplossing en die ontwikkeling van sosiale vaardighede, en samewerking tussen leerlinge is noodsaaklik.”

Volgens Van Rensburg moet die skooldag minstens met ’n uur verleng word om tyd hiervoor toe te laat.

“Die inhoudsgedrewe kurrikulum moet ook verander van inligtingsessies na uitdagings, die improvisasie van inhoud, strategiese beplanning, voorbereiding vir loopbane en samewerking om oplossings vir vrae en probleme te vind.

“Die skool wat wil oorleef, sal sy kurrikulum en aktiwiteite moet onderskei en pasmaak om die leerlinge te bevoordeel, en nie net die groep nie,” sê hy.

Onderwysers se rol kan ook nie net wees om kennis oor te dra nie.

“Studente kan deur ’n paar kliks op hulle fone of ander toestelle kennis verkry. Die rol van die opvoeder moet beweeg na iemand as ’n bydraende lid van die gemeenskap wat jong mense se ontwikkeling fasiliteer.”

‘Uitsluitlike aanlyn model is problematies’

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het aan Netwerk24 gesê die vakbond ondersteun nie diegene wat ’n uitsluitlik of ’n oorwegend aanlyn model bepleit en dat skoolbywoning vir leerlinge nie streng verpligtend moet wees nie.

“Die ‘nuwe normaal’ is gebore gedurende ’n tydperk van abnormaliteit wat binnekort verby sal wees. Die SAOU beskou die huidige aanlyn benadering gewis nie as die nuwe normaal nie.”

Klopper sê elemente van die aanlyn model sal behoue bly, maar nie tot die mate waarin dit nou toegepas word nie.

“Die aanlyn model het trekkrag gekry toe skole heeltemal gesluit was en is daarna op afgeskaalde basis aangebied toe slegs 50% van skole se kapasiteit benut kon word.

“Die verwagting is dat skole spoedig weer 100%-bywoning kan hê en hul tradisionele ritme sal moet hervat. Inteendeel, die onderwysowerhede sal dit vereis,” sê hy.

Die vakbond sê skoolbywoning sal op vlak 1 van die inperking vir alle leerlinge verpligtend wees.

“Gedeeltelike skoolbywoning vir alle leerlinge is nie werklik aanvaarbaar vir die onderwysowerhede nie. Dit sal verder uiters nadelig vir skole wees omdat dit die huidige patroon van wanbetaling of verswakte betaling van skoolgeld verder sal bevorder. Dit kan skole finansieel ruïneer,” sê Klopper.

Die vrystelling van skoolbywoning kan ook beteken dat skole minder onderwysers gaan aanstel.

“Sodra skole se buite-kurrikulêre programme hervat, sal die beskikbare tyd van opvoeders vir die ontwikkeling van aanlyn lesse dramaties minder wees. Skoolhoofde is al gekonsulteer oor die effek van gedeeltelike skoolbywoning. Die algemene gevoel is dat dit sport- en kultuurprogramme baie nadelig sal tref.”

Klopper sê volgens skole se terugvoer het nie alle leerlinge die nodige digitale toegang vir ’n aanlyn model nie.

Dié model skep ook kommer oor toesig en toesig tydens toetse en eksamens en gevolglik die gehalte van assesserings.

Volgens die vakbond sal skole spoedig die tradisionele ritme hervat.

“Dis insiggewend dat die buiteland deur die bank na ’n gewone model terugkeer – die debatte gaan juis oor die protokolle vir terugkeer na die gewone en bekende onderwyspraktyk.”

Meer oor:  Fedsas  |  Riaan Van Der Bergh  |  Dup Van Rensburg  |  Inperking  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.