Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole kry die eerste keer minder geld

Vir die eerste keer sedert 2010 kry die departement van basiese onderwys minder geld as in vorige jare. Toelaes om skole met die mees basiese geriewe soos water toe te rus is ook erg verminder. Intussen styg die begroting vir gratis hoër onderwys vir die soveelste jaar.

Kenners sê dit is waansinnig.

Tito Mboweni, minister van finansies, het Woensdag aangekondig basiese onderwys kry hierdie jaar (2020-’21) R248,6 miljard teenoor R250,2 miljard in die 2019-’20 boekjaar.

Dr. Nic Spaull en David Carel van die Universiteit Stellenbosch se navorsingsgroep oor sosio-ekonomiese beleid sê as inflasie in berekening gebring word, kom die nuwe toedeling vir basiese onderwys neer op ’n reële daling van R12 miljard.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê die land belê al vir jare baie meer in onderwys as enige ander departement. “Ons het geweet dié trajek kan nie vir altyd aanhou nie. Ons het geweet hulle gaan die krane ’n bietjie begin toedraai.”

Deacon is bekommerd dat laer besteding aan skole-infrastruktuur veiligheidsrisiko’s skep wat tot regsaanspreeklikheid vir die staat kan lei. “Dan praat ons nog nie van die morele en etiese aspek nie.”

‘Óns voel Zuma se nalatenskap.’

Die infrastruktuurtoelaag sal met R1,9 miljard verminder word oor die volgende drie jaar en die toelaag vir agterstande in skole-infrastruktuur, wat gebruik word om skole met die mees basiese geriewe soos water en sanitasie toe te rus, word met R122,8 miljoen verminder oor die volgende drie jaar.

Rapport het verlede week berig 1 598 skole in die Oos-Kaap alleen het steeds onveilige puttoilette. Dit kan teen die huidige tempo van opknapping 36 jaar neem voor dié skole behoorlike toiletgeriewe het. Dit is nog drie generasies leerlinge.

Deacon sê infrastruktuur gaan waarskynlik nou deur die gewone bedryfskostes gedek moet word.

Hopolang Selebalo en Roné McFarlane, navorsers by die onderwysdrukgroep Equal Educa­tion, sê dié besnoeiings verteenwoordig die tasbare koste van staatskaping en wanbestuur.

“Terwyl finansiering vir ’n sleutelprioriteit soos onderrig besnoei word, kry staatsinstellings miljarde as reddingsboeie.”

Twee goed moet gebeur, sê Deacon. “Die eerste is as jy minder geld het, moet jy wyser daarmee werk. Daarmee saam kom ’n sterk fokus op opleiding op bestuursvlak.” Die tweede is die “vet” in die stelsel moet verminder word.

“Wat ek jou kan sê is die vet is nie in die skolestelsel nie, dís tot op die been gesny. Daar sit hopeloos te veel amptenare in te veel kantore. Die topstruktuur is te swaar.”

Melanie Buys, onderwyskenner verbonde aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê Suid-Afrika se per capita-besteding aan onderwys is vergelykbaar met dié van Eerstewêreldlande, maar die opbrengste is teleurstellend, daarom is die doeltreffende bestuur van hulpbronne so belangrik.

Terwyl basiese onderwys al hoe minder geld kry, stroom miljarde na universiteitstudente sedert oudpres. Jacob Zuma in Desember 2017 aangekondig het studente uit arm gesinne sal voortaan gratis studeer.

Terwyl die begroting vir die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) in 2017 nog R15,3 miljard was, het dit ná Zuma se aankondiging tot R22,8 miljard gestyg. Vanjaar word R37,1 miljard aan die NSFAS toegeken.

Deacon sê skole ly hieronder.

“Óns (die onderwyssektor) voel Zuma se nalatenskap. Hulle moes iewers daai geld gaan haal . . .”

Tog is dit ook belangrik dat hardwerkende topstudente nie weens ’n geldtekort toegang verbeur tot tersiêre studie nie. Dit is belangrik om vir hulle te wys “hei, hier is moontlikhede en geleenthede wat vir my wag”.

Fedsas sê egter die belegging moet eerder in die grondslagfase gemaak word waar basiese vaardighede aangeleer word, aangesien dit probleme later in die onderwysstelsel drasties kan verminder. “Hoe hoër op in die stelsel die probleem, hoe duurder is dit om dit reg te stel.”

Meer oor:  Begroting 2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.