Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole: Kwartaal begin goed; kommer oor volgende week

Die eerste dag van die derde kwartaal het oorwegend glad verloop, maar daar is kommer oor hoe die Covid-19-regulasies gehandhaaf gaan word wanneer alle laerskoolleerlinge volgende week terugkeer.

Skole het Maandag heropen ná ’n vakansie van drie weke.

Tensy skole reeds aansoek gedoen het dat alle laerskoolleerlinge mag terugkeer, kom dié leerlinge steeds op ’n rotasiebeginsel skool toe. Teen 2 Augustus moet alle laerskoolleerlinge weer op die skoolbanke wees.

As skole voel hulle kan nie volgende week al hul leerlinge akkommodeer nie, kan hulle om vrystelling aansoek doen.

Hoërskoolleerlinge gaan steeds op ’n rotasiebasis skool toe, tensy ’n skool aansoek gedoen het dat almal terugkeer.

Chris Klopper

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê talle skole het aangedui dit is onmoontlik om alle laerskoolleerlinge te akkommodeer terwyl ’n gesonde afstand van 1 m gehandhaaf word.

“Etlike skole het aansoek gedoen om vrygestel te word van die verpligting. Die provinsiale departemente keur egter aansoeke af en sê ’n gesonde afstand van 1 m is nie nodig nie, solank die leerlinge maskers dra,” sê hy.

Volgens hom sal die onderwysdepartement die departement van samewerkende regering en tradisionele sake en die nasionale Covid-19-bevelsraad moet oortuig om dié regulasie te verslap.

“Dis feitlik onmoontlik om dit in ’n vol skool te handhaaf. Dit blyk toenemend asof die onderwysdepartement net wil stoomroller,” sê hy.

Basil Manuel, uitvoerende direkteur van die onderwysvakbond Naptosa, sê hulle vergader Woensdag met die departement oor die kwessie.

“Mense moet nou hul klasse organiseer om weer rondom 40 leerlinge te akkommodeer. Dit gaan moeilik wees, want ’n afstand van 1 m kan nooit só gehandhaaf word nie,” sê hy.

“In laerskole word gewoonlik dubbel-lessenaars gebruik waarin twee leerlinge sit. Jy kan nie meer lessenaars in ’n klas sit sonder om dié soort lessenaar te verander nie en nie die skole of die departement het geld daarvoor nie.”

Klopper sê ’n balans moet gevind word.

As jy gekies het om in die onderwyssektor te werk, het jy gekies om ’n bepaalde diens in die openbare sektor te lewer en kinders veilig te hou.

“Die SAOU ondersteun die oogmerk om na normaliteit terug te keer, maar dit kan nie tot elke prys, en veral ten koste van gesondheid en selfs die dood wees nie,” sê hy.

Volgens dr. Jaco Deacon, waarnemende uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), wys die mediese data dat kinders jonger as 12 nie groot verspreiders van die virus is nie.

“Ons het boonop die skole gesluit toe onderwysers nie ingeënt was nie. Nou heropen ons met 89% van geregistreerde onderwysers wat ingeënt is. Dit verander die situasie,” sê hy.

“Ons moet nou gaan opweeg en vra of ons kan bekostig dat laerskoolleerlinge nié almal terugkeer nie. Met die inligting wat ons het en die getal skooldae wat ons verloor, sê ons maak die skole vir almal oop dat onderrig kan plaasvind.”

Volgens Deacon lyk hoërskole se risiko-profiel anders, maar ’n terugkeer na die normale rooster moet ook vir dié leerlinge oorweeg word.

Die SAOU ondersteun die oogmerk om na normaliteit terug te keer, maar dit kan nie tot elke prys, en veral ten koste van gesondheid en selfs die dood wees nie.

Fedsas ondersteun die proses waarvolgens skole kan aansoek doen om vrystelling, want dit kan keer dat skole kanse vat. Hulle moet geldige redes verskaf vir hoekom hulle wil roteer.

Deacon het onderwysers wat nog nie ingeënt is nie, aangemoedig om te heroorweeg.

“As jy gekies het om in die onderwyssektor te werk, het jy gekies om ’n bepaalde diens in die openbare sektor te lewer en kinders veilig te hou. Daar rus ’n groot morele verpligting op jou,” sê hy.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, sê die departement ontvang Maandagmiddag die provinsies se verslae oor hoe die heropening verloop het en sal later daaroor kommentaar lewer.

Meer oor:  Basil Manuel  |  Chris Klopper  |  Onderwys  |  Laerskoolleerling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.