Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole ly só onder swak bestuur

Suid-Afrika se onderwysstelsel is in ’n krisis en in aanloop tot die verkiesing ontbreek die politieke wil om iets te doen. Dit blyk uit ’n 2017-’18-opname van die departement van basiese onderwys wat Maandag uitgereik is, berig Landi Slatter. Hier is vyf van die kernprobleme.

Onderwysers nie aangestel

Luidens die verslag is daar nie ’n enkele provinsie in die land waar alle onderwysposte gevul is nie. Dit sluit hoër- en laerskole in, kwintiel 1 tot 5.

In 2017 was slegs 78% van alle onderwysposte in die land gevul. In die Oos-Kaap was die situasie die ergste, met net 65% van laerskole en 55% van hoërskole waar die personeelkorps op volsterkte was. In die Noord-Kaap was net 54% van poste by hoërskole gevul.

Dit beteken egter nie dat daar ’n tekort aan onderwysers in die land is nie. Inteendeel, sê Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU). Volgens hom is daar eintlik ’n ooraanbod van onderwysers in die land. “Verlede jaar het die departement 6 000 onderwysers oortollig verklaar. Verder wag 4 000 Funza Lushaka-beurshouers om by skole geplaas te word.”

Kloppers sê daar is 380 000 poste in die onderwysstelsel wat goedgekeur is en waarvoor finansiering beskikbaar is.

“Ek kan nie vir jou sê wat gebeur met die geld wat vir poste beskikbaar gestel is nie. Ek kán sê dit vind nie neerslag in die bou van nuwe skole of vir handboeke nie,” sê Klopper.

Hy meen poste word nie gevul nie weens ’n swak administratiewe stelsel en dit het ’n rimpeleffek op die res van die stelsel.

Te min handboeke

Vir die doeleindes van die verslag is die beskikbaarheid gemeet van handboeke vir huistaal, huistaal-fiksie, eerste addisionele taal en fiksie asook wiskunde onder gr. 6-, gr. 8-leerlinge en matrieks.

Slegs 78,8% van gr. 6-leerlinge en 75,5% gr. 8-leerlinge het toegang tot al die handboeke. Vir gr. 12’s is handboeke in wiskundige geletterdheid ook in ag geneem. Slegs 83,2% van matrieks het toegang tot al dié handboeke.

Beheerliggaam-probleme

Luidens die verslag is slegs 54,5% van beheerliggame in hoërskole landwyd doeltreffend. In die Noord-Kaap funksioneer net 40% van beheerliggame by hoërskole optimaal.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê kragtens artikel 19 van die Skolewet moet provinsiale onderwysdepartemente met die aanstelling van nuwe beheerliggame betaal vir ’n opleidingsprogram vir dié liggaam. Die provinsiale onderwysdepartement is ook verantwoordelik daarvoor om voortgesette opleiding aan beheerliggame te bied.

“Waar dit wel plaasvind, word dit afgeskeep,” sê Colditz. “Dit word gedoen deur amptenare wat nie ’n idee het van ’n beheerliggaam se verantwoordelikhede en die skoolgemeenskappe nie.”

Colditz sê Fedsas skryf elke drie jaar wanneer nuwe beheerliggame verkies word, aan die nege provinsiale departemente en bied hul dienste aan omdat hulle kennis en hulpbronne het om opleiding aan beheerliggame te bied.

Colditz sê sewe uit die nege provin­siale departemente erken nie eens ontvangs van hul skrywe nie.

Swak infrastruktuur

Die departement se eie doelwit was dat alle skole teen November 2016 minstens toegang tot elektrisiteit, water en sanitasie moes hê. Teen 2017 het slegs 38% van skole (klaskamers bygereken), aan die minimumvereistes vir infrastruktuur voldoen. Wanneer klaskamers uit die berekening gehaal word, het net 59,4% van skole aan die vereistes voldoen.

Die departement se ander doelwit is voldoende klaskamers (nie meer as 40 leerlinge per klas nie), veilige omheinings en internet, wat teen November 2020 bereik moet word.

Die pad ná skool

Luidens ’n verslag van Statistieke Suid-Afrika (SSA) het die getal studente wat aan openbare universiteite gegradueer het tussen 2000 en 2016 amper verdubbel. Dit het in dié tyd van 92 874 toegeneem tot 203 076.

Terselfdertyd toon ’n huishoudelike opname wat SSA in 2017 gedoen het, dat net 33,8% van jeugdiges tussen 18 en 24 jaar in daardie jaar opvoedkundige instellings bygewoon het.

Van die 33,8% was 22,2% van die jeugdiges nog in die skool, terwyl net 11,6% studente by ’n tersiêre instelling was. Meer as die helfte van jeugdiges wat nié in die tyd aan ’n opvoedkundige instelling verbonde was nie, het ’n gebrek aan geld aangevoer as rede.

Tog het die regering in die 2017-’18-boekjaar R320 miljard aan onderwys bestee, waarvan R216 miljard aan basiese onderwys toegeken is. Volgens die tesourie gaan daar na verwagting R385 miljard in die 2019-’20-boekjaar aan onderwys bestee word.

SSA sê een van die grootste uitdagings in die onderwys is die lae getal leerlinge wat van skoolvlak af vorder tot op tersiêre vlak. Boonop verlaat baie steeds tussen gr. 10 en matriek die skoolstelsel. Luidens ’n akademiese artikel wat in Maart deur die Internasionale Monetêre Fonds gepubliseer is, behaal minder as 5% van Suid-Afrikaanse laerskoolleerlinge uiteindelik ’n universiteitskwalifikasie.

Met verwysing na die departement van basiese onderwys se verslag, sê Klopper dit meet slegs die kwantitatiewe aspekte van onderwys. Dit meet nie die gehalte van onderwys, onderwysers se vakkennis of die gehalte van hoofde nie.

Volgens Klopper het daar nie veel in die onderwysstelsel verander sedert die opname in 2017 nie, aangesien die politieke wil daarvoor ontbreek.

Meer oor:  Chris Klopper  |  Paul Colditz  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.