Nou rus die onus op die leerlinge om skouer aan die wiel te sit en die jaar suksesvol te voltooi.

'n Klas by die Eduplex High School, Pretoria. Foto: Lee Warren
Só sê Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), ná ’n vier uur lange vergadering met Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, vakbonde, senior amptenare in die departement en beheerliggaamorganisasies gistermiddag.
Volgens teenwoordiges het die departement gesê skole maak môre oop, kom wat wil. Dié wat nie gereed is nie, bly toe en daar is spesiale planne om hulle by te staan.
Deacon sê Fedsas is dankbaar skole kan môre oopmaak. Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê hul lede is reg om te begin.
Volgens Klopper en Deacon is groot vordering die afgelope week gemaak om skole gereed te kry om te open. Klopper sê wel uitdagings is ook geïdentifiseer. Praktiese probleme sluit in skanderings soggens wat lank neem, die daaglikse skoonmaakproses en termometers wat soms nie onder 9 °C werk nie.

Graad 12-leerlinge verlede Maandag by die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. Foto: Nardus Engelbrecht
Skole is onder druk van ouers en beheerliggame om vinniger vir ander grade ook oop te maak, maar verstaan nie altyd die praktiese uitdagings nie, sê Klopper.
Hy en Basil Manuel, hoof van die onderwysvakbond Naptosa, sê die aanvul van reinigingsprodukte gaan ’n probleem word.
Manuel sê die leierskap van die departement van basiese onderwys die laaste ruk was ellendig.
’n Nuwe skoolkalender moes reeds beskikbaar gewees het, sê hy. Volgens iemand op die vergadering word dit glo volgende week gepubliseer.
Manuel sê ook daar was goeie vordering die afgelope week. “Sonder die druk wat ons op die departement geplaas het, sou daar nooit soveel skole gewees het wat so gou water en toilette gekry het nie. Dis die positiewe van hierdie hele ding.”

'n Ouer betoog verlede Maandag in Kaapstad teen die heropening van skole. Foto: Mike Hutchings
Sommige provinsies, waaronder die Oos-Kaap met sy reuse-infrastruktuurprobleme by skole, het egter nog groot agterstande.
Yusuf Cassim, provinsiale DA-woordvoerder oor onderwys, beskryf die situasie daar as “chaoties”. Cassim sê hy weet vir ’n feit van skole waar daar nog geen watertenks of water vir die tenks afgelewer is nie.
In ’n portefeuljekomiteevergadering twee weke gelede is bekend gemaak 913 skole benodig watertenks en 2 427 skole benodig water in die tenks.
Hoewel die situasie nou al kan anders lyk, kon die departement onmoontlik by ál daardie skole uitgekom het, sê hy.
“Maandag gaan ’n probleem wees. Sommige skole gaan definitief nie kan oopmaak nie. Ek is bang ander gaan wel oopmaak al is hulle nie gereed nie.”
Volgens ’n voorlegging wat gister voor die vergadering gedien het en wat Rapport onder oë gehad het, het nog net 26 uit 756 Oos-Kaapse skole wat water nodig het, dit al ontvang.

Dié handewas-toestel sal leerlinge laat besef hoe belangrik dit is om hul hande te was en gesond te bly, sê Tshepo Phejana, hoof van Diphetogo Primary School in Noordwes.
In Mpumalanga is dié getal 6 uit 435 en in Noordwes 102 uit 248.
Die Gautengse Covid-19-bevelsraad het in die afgelope week bevestig 351 skole in die provinsie is al deur vandalisme, diefstal en brandstigting geraak. Altesaam 13 skole kan nie môre oopmaak nie.
Die bevelsraad het gewaarsku as enige skool in enige stadium onveilig raak, sluit dit. “Ons moet gereed wees om die aftog te blaas.”
Alle skole in Gauteng het beskermende drag gekry, sê die raad.
Altesaam 1 725 skole “bestuur hulself” en doen self die diepreiniging by skole.
AfriForum het ingespring om skole wat nog niks van die departement ontvang het nie te help en het al 300 hulppakkette aan skole uitgedeel.
Daarin is Covid-19-inligtingstukke, patrone vir gesigmaskers, klaskamerplakkate, elektroniese termometers, handreiniger en handreinigerstaanders.