Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Skole mag oop bly tót regulasies gewysig of herroep is’

Openbare skole wat Maandag leerlinge ontvang het ten spyte van pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat dié skole gaan sluit, kan tegnies voortgaan omdat die huidige regulasies en skoolkalender geldig is totdat dit in die Staatskoerant herroep of gewysig word.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê Ramaphosa se aankondiging dat skole vir vier weke sluit, was slegs ’n toespraak wat nog nie in wetgewing vervat is nie.

Angie Motshekga

“Tog is daar nou ’n geskarrel in 23 076 openbare skole om aan die president se bepalings te voldoen. Dit wil-wil herinner aan ’n tyd toe ’n sekere vingerswaaiende staatspresident ook van podiums af die land regeer het. Suid-Afrika het in 1994 weggestap van daardie stelsel af en ons leef nou in ’n demokratiese bedeling waarin die oppergesag van die reg erken en eerbiedig moet word.”

Deacon sê die aankondiging het die kar voor die perde ingespan en nie leiding gegee nie, maar eerder meer onsekerhede en vrae geskep.

“Natuurlik het die staat die mag om sodanige wet of regulasie af te kondig, maar dan moet dit gebeur. Daar is geen nuwe regulasie of direktiewe vir skole afgekondig nie, daar is geen gewysigde skoolkalender opgestel en in die Staatskoerant gepubliseer nie. Almal spring oor ’n toespraak,” sê hy.

Volgens Ramaphosa sal matriekleerlinge op 3 Augustus terugkeer skool toe, gr. 7-leerlinge op 10 Augustus en die res van die grade op 24 Augustus.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê hoewel die vorige regulasies nog geld, sal skoolhoofde hulself onnodig op risiko plaas om opdragte van die werkgewer summier te ignoreer.

Fedsas wag nog vir terugvoering van die verskillende provinsies, maar weet van ten minste een skool wat nié beplan om vir vier weke te sluit nie.

Deacon vermoed egter skole sal versigtig wees omdat die studenteorganisasie Cosas reeds gedreig het om private skole te dwing om hul deure toe te maak indien hulle sou oop bly terwyl openbare skole gesluit is. Private skole is nie by Ramaphosa se aankondiging ingesluit nie.

Fedsas gee toe dat daar skole, onderwysers en leerlinge is wat nou al vir 15 weke sonder ophou afstandsonderrig doen.

Gr. 1-leerlinge het egter in die meeste gevalle vanjaar nog net 45 dae skoolgegaan.

Deacon hoop die huidige regulasies wat voorsiening vir skole maak om van die skoolkalender af te wyk en meer grade in te faseer indien hulle gereed en veilig is, nie sal verander nie.

“Skoolgemeenskappe weet wat is die beste in die lig van hul eie omstandighede en daarom behoort skoolbesture toegelaat te word om hierdie besluite in die belang van die leerlinge te neem.”

Klopper sê skole wat reeds van die huidige skoolkalender afgewyk het, sal waarskynlik ook op 3 en 11 Augustus vir ander grade kan heropen, onderhewig aan die bepaling dat net 50% van die leerlinge op ’n gegewe tyd by die skool kan wees.

Totdat nuwe regulasies gepubliseer is, raai Fedsas skole aan om besluite te neem wat in die leerlinge se belang is.

“Daar is skole wat al in hulle vyftiende week van onderrig is – kontak- en afstandonderrig – sedert ons ingeperk is. ’n Gewone skoolkwartaal is gewoonlik tien weke lank. Daardie leerlinge en opvoeders het kliphard gewerk en ’n blaaskans kan almal bevoordeel.”

Faktore wat skole moet oorweeg is onder meer die stand van onderrig, die Covid-19-risiko in die bepaalde gebied en die skool se voedingskema.

“Dié wat kennis gegee het om leerlinge vroeër te ontvang, kan die vryheid binne die bestaande regulasies gebruik om die program aan te pas om wel ’n ruskans in te bou. Skole moet egter nie nou langtermynbesluite neem totdat nie daar nie eers nuwe regulasies afgekondig is nie. Ons hoop dit gebeur vinnig,” sê Deacon.

Volgens Klopper is dit moeilik om nou al te bepaal hoe die situasie en infeksiekoers teen 24 Augustus gaan lyk, maar die vakbond sal dan meningsopnames doen, deskundige advies inwin en volgens elke provinsie se omstandighede ’n aanbeveling maak.

Ons is net besig om hofstukke af te handel. Sodra ons dit ingedien het, sal ons dit kommunikeer.

“ ’n Eenvormige benadering is nie so maklik nie en skole en veral skoolbesture sal die nodige outonomie en professionele diskresie moet kry om skole volgens die heersende omstandighede, ná oorlegpleging met onderwyspersoneel, te bestuur.”

Belinda Bozzoli, DA-woordvoerder oor hoër onderwys, sê Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, se versuim om die regulasies te publiseer, het die onderwysstelsel in wanorde en onsekerheid gedompel.

“Die president se woord is nie wet nie en tegnies gesproke moes skole nie vandag sluit nie, omdat daar geen wetlike vereiste daarvoor is nie.”

Azola Mboniswa, woordvoerder vir John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, sê daar is in hierdie stadium nog nie ’n hofdatum vir die party se beoogde aansoek oor die sluiting van openbare skole nie.

“Ons is net besig om hofstukke af te handel. Sodra ons dit ingedien het, sal ons dit kommunikeer.”

Die DA is nie ten gunste van die sluiting van skole nie.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, sê Motshekga sal vandeesweek vergaderings hou om die skoolkalender en ander dringende kwessies te bespreek.

“Die gesprekke is daarop gemik om na die praktiese implikasies van die kabinet se besluit te kyk. As dié werk afgehandel is, sal die inligting bekend gemaak word.”

Lebogang Montjane, uitvoerende hoof van die Independent Schools Association of Southern Africa (Isasa) het aan News24 gesê dit is jammer dat Cosas private skole in die oog het, berig Sesona Ngqakamba.

Volgens Montjane gebruik die meeste private skole in elk geval afstandsonderrig en was hulle, behalwe vir hul vasgestelde vakansie, nooit gesluit nie.

Hy sê Cosas moet eerder sy energie gebruik om te vra dat alle leerlinge in die land toegang tot aanlyn onderrig kry.

Meer oor:  Skole  |  Dr. Jaco Deacon  |  Inperking  |  Koronavirus  |  Regulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.