Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Skole moet begroot vir oorlewing’

Skole gaan sukkel om skoolgeld te verhoog en moet eerder alle luukshede uitsny en ander planne maak om ’n inkomste te genereer.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za, het Maandag tydens ’n aanlyn inligtingsessie van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) vir skole raad gegee om hulle begrotings te beplan.

Volgens Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, het die organisasie baie vrae gekry oor wat die toekoms vir skole inhou met betrekking tot onder meer salarisverhogings, rentekoerse en die regering se vermoë om personeel te voorsien en subsidies te betaal.

Schüssler sê in die huidige ekonomiese klimaat moet skole se eerste prioriteit oorlewing wees.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za. Foto: Wikus de Wet

“Ons is in ’n tyd van werksverliese en salarisbesnoeiings. Die regering het nie geld nie. Skuld gaan verhoog en druk veroorsaak.”

Hy glo die regering sal op die meeste klein salarisverhogings kan bekostig.

“Ek dink regtig daar sal vir ’n rukkie nie meer geld van die regering vir onderwysers wees nie. Of hulle gaan minder onderwysers hê.

“Van nou af los jy al die luukshede en konsentreer op die ekstra inkomste van ander bronne, wat dalk kan wees om die skoolgebou uit te verhuur,” sê hy.

“Ons moet ook verby die tradisionele dinge soos rugby en ander skoolsporte kyk; ons moet ander maniere kry. Iets soos YouTube-kanale waar skole video’s van hul skoolkore of beste rugbybewegings oplaai, kan soms geld genereer. Hoekom nie vir skole nie? ’n Mens kan ’n manier uitdink om oudleerlinge te betrek, want dit gaan oor die aantal kere wat dit gekyk word.”

Nog voorstelle wat skole kan oorweeg, is om infrastruktuur uit te verhuur, ekstra klasse ná skool aan te bied en e-sport soos rekenaarspeletjiestoernooie te reël.

Paul Colditz, voorsitter van Fedsas. Foto: Nelius Rademan

Schüssler sê meer mense gaan in die toekoms van die huis af werk en skole moet daarby probeer aanpas deur dalk later in die oggende met die skooldag te begin en nasorgsentrums te open.

Volgens hom gaan dit vir ouers baie moeilik wees om nou selfs klein verhogings in skoolgeld te bekostig. Hy stel voor dat skole meer by hul gemeenskappe betrokke raak en die munisipaliteit, plaaslike besighede en kerke vir hulp nader.

Indien skole in ’n arm gemeenskap geleë is, gaan hulle ook nie noodwendig op geldinsamelings kan staatmaak nie.

“Selfvertroue is belangrik en ons moet ouers hoopvol maak oor dit wat ons doen. Maar ons moet ook eerlik wees en sê ons het probleme om die begroting te laat klop,” het hy gesê.

Meer oor:  Fedsas  |  Mike Schüssler  |  Paul Colditz  |  Onderwys  |  Skoolgeld  |  Skole  |  Begroting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.