Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole moet help aborsies reël

Die departement van basiese onderwys stel voor dat skoolkinders vanaf 12 jaar oud toegang tot kondome moet kry en ook dat aborsies deur die skoolgesondheidstelsel beskikbaar moet wees.

Dié voorstelle is vervat in ’n konsepbeleid om tienerswangerskappe te bekamp. Die konsepbeleid was tot 31 Julie beskikbaar vir kommentaar, sê Elijah Mahlangu, woordvoerder van die departement. Die finale beleid sal eersdaags gepubliseer word.

Luidens die beleid is tienerswangerskappe ’n kritieke probleem wat skole beïnvloed.

Statistieke Suid-Afrika se nuutste data hieroor, in 2014, wys 6,6% van vroue wat in dié jaar swanger geraak het, was tieners.

Meer as ’n kwart van tienermeisies het al ’n kind teen die tyd dat hulle 19 word, het ’n onafhanklike studie bevind, berig AfricaCheck.

Die departement van basiese onderwys stel onder meer voor:

  • Kondome vir mans en vroue, asook inligting oor die voorkoming van seksueel oordraagbare siektes moet aan alle leerlinge van gr. 6 af beskikbaar wees.
  • Swanger leerlinge moet tegemoetgekom word om hul skoolloopbaan voort te sit in dieselfde skool en met redelike hulp omdat hulle meer afwesig sal wees.
  • Die skool-kurrikulums moet belyn word sodat leerlinge omvattende seksonderrig kry.
  • Inligting en dienste moet deur die skoolgesondheidstelsels verskaf word vir die voorkoming van swangerskappe, maar ook aborsies en ander opsies aan swanger meisies bied. Dit sal met vennootskappe met gesondheidsdiensverskaffers gebeur.

Ingevolge wet mag enige vrou of meisie van enige ouderdom ’n swangerskap van minder as 13 weke beëindig. ’n Minderjarige word aangemoedig om dit met haar ouers te bespreek, maar hoef nie.

Dit gaan vir kinders ’n gemaklike verskoning word.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het in 2012 ’n storm ontketen toe hy opdrag gegee het dat kondome versprei moet word by skole waar ouers toestemming gee.

Terwyl sommiges gemeen het dis ’n nodige stap om veral MIV/vigs te bekamp, het ander rolspelers gemeen dis onvanpas.

In die nuwe konsepbeleid is daar geen melding van ouers se seënwense om voorbehoedmiddels deur die gesondheidstelsel te versprei nie.

Die konsepbeleid is die afgelope weke skerp gekritiseer deur onder meer die nieregeringsorganisasie Equal Education Law Centre (EELC).

“Ons grootste probleem met die beleid soos wat dit tans uiteengesit is, is dat die inhoud en voorstelle nêrens prakties uiteengesit word nie. En as ons daaroor vra, word daar net gesê dat die details in die implementeringsfase gegee sal word,” sê Nurina Ally van EELC.

“Hoe kan ons kommentaar lewer oor iets as ons nie weet hoe dit gaan werk nie?” vra sy.

Volgens Mhlanga is hulle tans besig om deur al die terugvoering te werk.

“Sodra ons deur die konsultasieproses is, sal die minister (Angie Motshekga) ’n verslag kry wat dan met al die betrokke LUR’s bespreek sal word en uiteindelik aan die kabinet en parlement voorgelê sal word.

“Die doel van die beleid is om leerlinge aan te moedig om meer vryelik te praat oor seks en seksualiteit.”

Hy sê die regering wil beter omgewings skep waar swangerskappe verhoed word, maar swanger leerlinge ook met waardigheid behandel word.

Heléne Blignaut, ’n onderwy­seres wat al 15 jaar lank lewensoriëntering as vak aanbied by laer- en hoërskole, meen dit sal ’n groot fout wees om kinders by skole toegang tot kondome te gee.

“Dis beslis ’n nee. Dit gaan vir kinders ’n gemaklike verskoning word om dan wel seks te hê. Ek is ook gekant teen die swangerskapbeëindiging. Ons kan dit beslis nie vir leerlinge verkondig of aanbeveel nie.”

Blignaut dink wel dat meer ondersteuning vir swanger tieners en riglyne vir skole daaroor wat voorgestel word in die beleid ’n goeie stap sal wees.

“Dis goed dat hulle stipuleer gesondheidsverslae vanaf ses maande swangerskap moet beskikbaar gestel word aan skole, want skole word nogal blootgestel as daar met hierdie leerlinge iets verkeerd gaan.”

Blignaut sê die meeste beginsels in die konsepbeleid word reeds toegepas, maar daar is ’n tekort aan bevoegde onderwysers wat voorligting kan gee.

Dr. Elmari Mulder Craig, ’n seksuoloog, sê ook onderwysers moet behoorlik opgelei word.

“Praat met oortuiging en selfvertroue. Moet dit nooit ’n negatiewe onderwerp maak waar jy vir kinders preek nie.

“En as daar gefokus word op kondome, verduidelik alles – ook dat jy kondome moet gebruik om seksueel oordraagbare siektes te voorkom wanneer jy orale seks het.

“Die grootste probleem in die skole waarmee ek al gewerk het, is dat kinders dink anale penetrasie is nie seks nie. So ook nie orale seks nie.

“En nog ’n groter probleem is drank en dwelms. Sodra kinders daarmee begin eksperimenteer, raak hul inhibisies minder,” sê sy.

Gr. 6: Die verskil tussen die manlike en vroulike liggaam en dat die vrou eierselle kan produseer en die man sperms.

Gr. 7: Hoe die bevrugtingsproses vir swangerskap plaasvind.

Gr. 8: ’n Sterk fokus op veilige seks en seksueel oordraagbare siektes. Kinders word geleer dat dit voordelig is om seks so lank as moontlik uit te stel.

Gr. 9: Leerlinge word in detail geleer oor tienerswangerskappe en die emosionele, finansiële en praktiese implikasies. Veilige seks word weer bespreek. Daar word ook in detail gekyk na seksueel oordraagbare siektes.

Gr. 10, 11, 12: Min fokus op seks, eerder op die voorbereidings vir leerlinge se toekoms en die volwasse lewe.

) Bron: Heléne Blignaut, lewensoriënteringsonderwyseres; kurrikulum-handleidings

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.