Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole open soos beplan, sê DBO

Al gaan die vlak 4-inperking waarskynlik vir nog twee weke verleng word, het die departement van basiese onderwys aanbeveel dat skole steeds soos beplan op 19 Julie heropen ná die vervroegde skoolvakansie.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Uit ’n vergadering wat Mathanzima Mweli, direkteur-generaal, en ander senior amptenare Saterdag met onderwysgroepe gehad het, verstaan Rapport die departement hou nou ook asem op om te sien wat pres. Cyril Ramaphosa aankondig.

Hy vergader Sondag weer met die nasionale Covid-19-bevelsraad (NCCC) en die kabinet.

Bronne het aan Rapport en sy susterkoerant City Press gesê die vlak-4-inperking sal waarskynlik nóg twee weke geld.

Dr. Jaco Deacon, waarnemende uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê hulle het Saterdag ’n tegniese voorlegging met data gesien wat verduidelik waarom die departement meen skole kan steeds op 19 Julie oopmaak.

“Ons het ’n pleidooi gerig dat die DBO dié data met ouers en die gemeenskap moet deel sodat almal hulle besluite kan verstaan,” sê hy. Maar nie almal is oortuig 19 Julie is ’n realistiese datum nie.

“Ek kan nie sien hoe dit gaan gebeur nie,” sê Basil Manuel, besturende direkteur van die onderwysersvakbond Naptosa.

“En as ons nog in die piek (van die derde vlaag) is, maak dit regtig sin?”

Hulle is “uiters ten gunste van die normalisering van skoolgaan, maar ’n mens moet besef ons is midde-in ’n pandemie. Ons het toe die skole ’n week vroeër sluit vir die minister gesê sy moenie die kalender verander nie; nou gaan hulle dit waarskynlik net weer moet doen.”

Intussen raak kinders akademies al hoe verder agter en sal ’n verdere uitstel verreikende akademiese implikasies hê.

Die vyfde sarsie Nids-Cram (National Income Dynamics Study Coronavirus Rapid Mobile Survey)-studieverslae is Donderdag uitgereik. Dit toon hoe erg die pandemie en inperkings veral laer grade in armer skole geraak het. Die navorsers het tot die slotsom gekom die leerverliese vir kinders in kwintiel 1- tot 3-skole kan tussen 70% en 100% wees. Dis die armste skole, waar ouers nie skoolgeld betaal nie en die meeste kinders nie internettoegang het nie.

“Die gemiddelde gr. 3-kind weet in Junie 2021 dieselfde as die gemiddelde gr. 2-kind in Junie 2019, so dis ’n volle jaar se leer wat weg is,” sê dr. Nic Spaull, senior navorser aan die Universiteit Stellenbosch. In sommige gevalle is dit dus of daar nie eens ’n 2020- akademiese jaar was nie.

Luidens die navorsingsverslag het byna ’n halfmiljoen meer leerlinge vanjaar uit die skoolstelsel geval. Daar word na dié leerlinge as dropouts verwys. Statistieke Suid-Afrika se algemene huishoudelike peiling het in 2018 gewys ongeveer 230 000 leerlinge tussen 7 en 17 jaar oud het die skoolstelsel voortydig verlaat. Daardie getal is vanjaar meer as 750 000.

Meer oor:  Basil Manuel  |  Mathanzima Mweli  |  Nic Spaull  |  Jaco Deacon  |  Skoolvakansie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.