Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole: ‘Ouers moet self kan besluit’

Die regering word deur regstappe vanuit verskeie oorde in die gesig gestaar ná pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging Donderdag dat die land se skole van môre af vir ’n maand gaan sluit.

Die matriekgroep van Table View High naby Blouberg op die sportveld. Dié skool het baie moeite gedoen om seker te maak die leerlinge handhaaf sosiale afstand en dra hul maskers. Foto: Marzahn Botha

Die meeste van dié partye wag net vir die staat om die regulasies te publiseer waarvolgens die sluiting van skole gereguleer gaan word voordat hulle tot aksie oorgaan.

Ramaphosa en sy kabinet het die afgelope week onder toenemende druk van onderwysvakbonde geswig en aangekondig dat staatskole vir sekere grade vir vier weke gaan sluit en die akademiese jaar tot 2021 verleng gaan word. Die uitsonderings is matrieks, wat net een week af kry, en gr. 7’s, wat ná twee weke teruggaan.

Donderdagaand se aankondiging het as ’n verrassing gekom nadat die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, net ’n dag tevore in ’n bespreking van haar begrotingspos aan die parlement gesê het dat die onderwyshoofde van al nege provinsies meen dat skole moet oop bly.

Dit is egter duidelik dat die land se onderwysvakbonde die regering in ’n hoek gedryf het omdat hulle glo dat dit te gevaarlik is vir onderwysers om te werk.

‘Dis ’n bewegende teiken . . .’

Hoewel die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) die afgelope week dikwels uitgesonder is vir kritiek, het ook die ander groot onderwysvakbonde – soos die Vereniging van Staatsamptenare (VSA) en die oorwegend Afrikaanse Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) – ewe hard vir die sluiting van skole baklei.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, sê die “groot rede” vir die sluiting is om “van die provinsies” kans te gee om hul sake agtermekaar te kry en persoonlike beskermingstoerusting vir onderwysers beskikbaar te stel. Hy sê daar is ’n “beduidende getal skole buite Gauteng en die Wes-Kaap waar daar vanjaar nog feitlik geen onderwys plaasgevind het nie weens ’n tekort aan persoonlike beskermingstoerusting.

“Ons standpunt is nie dat skole voor die voet gesluit moet word nie en dis ook nie wat gaan gebeur nie. Ons standpunt is dat skole gesluit moet word waar dit in die beste belang van kinders en onderwysers is.”

Hy sê hulle “hoor die wetenskaplike advies wat sê dat dit nie tot voordeel van kinders is om hulle uit skole te hou nie”, maar sê daar is ook “persepsies (oor die siekte) wat jy nie bloot met feite kan weerlê nie”.

Nkosana Dolopi, adjunkhoofsekretaris van Sadou, ’n vakbond wat sowat 300 000 onderwysers verteenwoordig, sê die kwessie is ’n “uiters emosionele saak waaroor ernstige verdeeldheid bestaan, selfs tussen ons lede.

“Ons besef ten volle dat dit ’n uiters ernstige kwessie is en dat dit daarop gaan uitloop dat die kloof van ongelykheid tussen arm skole en welvarender skole net al hoe groter word.

“Dis baie, baie hartseer, maar ná wye beraadslagings en peilings onder ons lede is dit die enigste manier om ’n redelike balans te vind wat in die beste belang van almal is,” sê Dolopi.

Oor die voorspellings dat die kruin van die pandemie in Gauteng aan die einde van Augustus of begin van September verwag word – juis wanneer skole weer moet heropen – sê Dolopi: “Dis ’n bewegende teiken waarvoor daar geen eksakte wetenskap bestaan nie. Ons het 24 Augustus gekies, maar as omstandighede verander, kan dit aangepas word.”

Kritici van die afgelope week se besluit is juis bekommerd dat vakbonde aan die einde van Augustus weer gaan aandring dat skole gesluit moet bly. Dit sal die onderwysstelsel finaal knak en talle skole finansieel knou, het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit-beweging, gister aan Rapport gesê.

Buys meen die welvaart van die land se kinders is Donderdagaand opgeoffer om “radikale eise” van onderwysvakbonde ter wille te wees. Hy glo skole en ouers behoort self te kan besluit of hul skole gereed is om oop te maak.

Buys sê Solidariteit en hul Skoleondersteuningsentrum (SOS) se regsadvies is dat die skoolsluiting nie rasioneel verband hou met die doel van die onderwyswetgewing nie, aangesien dit nie in belang van leerlinge en onderwysers is dat alle skole gedwing word om te sluit ongeag hul omstandighede nie.

Ook die DA is van plan om hom tot die howe te wend.

“Ons gaan die hof nader op die basis dat dit (die besluit) polities eerder as wetenskaplik gemotiveerd is en nie in die beste belang van Suid-Afrika se 14 miljoen skoolkinders is nie,” sê John Steenhuisen, die DA se tussentydse leier.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) glo ook daar is geen regverdiging vir die besluit nie.

“Dié besluit beteken dat meer as tien miljoen Suid-Afrikaanse kinders, afhangend van hul graad, meer as 50% of 100% geskeduleerde skooldae weens Covid-19-skoolsluitings sou verloor.”

Mense na aan Motshekga het die afgelope week aan Rapport gesê sy was baie ontsteld oor die besluit.

Sy het Donderdagaand, ná Rama­phosa se aankondiging, so ver gegaan as om die president direk te weerspreek deur in haar verklaring daarop te wys dat die medici en wetenskaplikes in die ministeriële advieskomitee glo dat “leerlinge beter daaraan toe is by skole as in hul gemeenskappe en huise waar die besmetting inderwaarheid gebeur”.

In sy toespraak het Ramaphosa presies die teenoorgestelde beweer.

Hy het gesê dat die menings van “verskeie belangegroepe en kenners” in ag geneem is voordat die besluit geneem is en dat dit nodig is om te verseker “dat skole nie plekke word waar die virus oorgedra word nie”.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys (DBO), sê Motshekga sal “binne die volgende paar dae” besonderhede verskaf oor Ramaphosa se aankondiging dat die akademiese jaar tot ná 2020 verleng word.

Dit is juis die feit dat die aankondiging oor die sluiting van skole gemaak is in die afwesigheid van enige regulasie of verdere besonderhede wat sommige groepe so boos maak.

“Gewone Suid-Afrikaners moet besef ons demokrasie is op dun ys wanneer die land deur middel van toesprake regeer word,” sê Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fed­sas). “Geen van die president se bepalings – soos om skole vir ’n maand te sluit, nuwe datums te bepaal of duidelikheid oor die akademiese jaar te gee – is iewers in wetgewing vervat nie. Dit was net ’n toespraak.”

Deacon sê tegnies kan skole Maandag oopmaak aangesien die vorige kalender wat in die Staatskoerant gepubliseer is, nog geld. Hy wys daarop dat matriekleerlinge hul skooljaar aan die einde van die jaar sal moet voltooi sodat hulle kan plek maak vir die miljoene leerlinge wat van laer grade af opbeweeg.

Prof. Servaas van der Berg en dr. Nic Spaull, senior onderwysnavorsers verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, het op 15 Junie ’n omvattende studie gepubliseer oor Covid-19-skoolsluitings en die impak daarvan. Soos die reëlings op 15 Junie was, sou leerlinge afhangend van hul grade tussen 25% en 57% van “normale” skooldae mis geloop het weens Covid-19-skoolsluitings. Dit was voordat die onderbreking van vier weke, afhangend van die graad, aangekondig is. Daardie persentasies is dus nou nóg hoër.

Deacon sê “hulle hou hul harte vas” oor beheerliggaamposte wat nou, in ’n stelsel wat reeds onder geweldige druk was, nog meer bedreig word. “Daar gaan na die einde van die jaar nog baie onderwysers wees wat hul werk gaan verloor as ons hierdie trajek volg.”

Hy weet van “baie” beheerliggaamposte wat al verlore gegaan het.

Skole self is ook nie te gelukkig oor die nuwe reëling nie. Roelof Oosthuizen, hoof van Potchefstroom Gimnasium, sê hulle is redelik moedeloos. “Ons beplan en maak planne en doen baie moeite om die skool veilig te hou en die kinders ’n geleentheid te gee en nou word alles eenslag van die tafel af gevee.” Hulle wou graag oopbly.

Schalk Rabie, hoof van die Hoërskool Overvaal, sê “ ’n week of twee vakansie vir matrieks is goed, want ons het deur die hele inperking met hulle gewerk en hulle is flou. Skool sluit vir ’n maand is nie ’n goeie ding nie. Die gr. 10- en gr. 11-leerlinge het nou eers die akademiese ritme gekry en ons gr. 8- en gr. 9-leerlinge sal vyf maande by die huis wees . . . ongehoord! Ons personeel wil werk!”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.