Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole samel duisende in vir Hoërskool Driehoek

Elke sent tel en kan ’n verskil maak.

Leerlinge van die Hoërskool Stellenberg staan in ’n driehoekformasie.

Dit het ’n oudonderwyser bewys wat ná die brugtragedie by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark ’n projek begin het waarmee daar uiteindelik R88 000 ingesamel is.

Wihan Weber (26), ’n inwoner van Durbanville in Kaapstad, was voorheen ’n onderwyser in Polokwane (Limpopo) en Hartbeespoort (Noordwes), en het sy ou kollegas gekontak om hom te help.

Weber het meer as 30 skole in die land per e-pos gekontak en gevra of hulle ’n civvies-dag of muntlegging sal hou om geld in te samel. Hy was verbaas oor die reaksie wat hy van die skole ontvang het.

“Aanvanklik het ek net van een of twee skole gehoor. Ek het begin twyfel of die projek sal werk. Toe, uit die bloute, kry ek ’n e-pos van ’n skool wat sê die geld is reeds ingesamel. Dit het my baie hoop gegee,” sê Weber.

Uiteindelik het die Hoërskool Rustenburg, die Hoërskool Hartbeespoort, Sonneveld Akademie naby Brakpan, die Hoërskool Monument Park, die Hoërskool Fairmont, die Hoërskool Brackenfell en die Hoërskool Stellenberg laat weet hulle stel belang om deel van die projek te wees.

Die skole het oor twee weke hul onderskeidelike insamelings gehou en die geld in die amptelike fondsrekening vir die Hoërskool Driehoek inbetaal.

Die skole het foto’s geneem waar die kinders in hul civvies poseer, sommige in ’n driehoekformasie om hulde te bring aan die vier leerlinge wat hul lewens verloor het en die meer as 20 wat beseer is.

“Dit was wonderlik om te sien hoe Suid-Afrikaners mekaar ondersteun. Dit het my laat besef hoe goed ons God is,” sê Weber.

Johan Benade, adjunkhoof van die Hoërskool Brackenfell, sê hy was beïndruk met hoe hul leerlinge die inisiatief ondersteun het.

Die Hoërskool Brackenfellse leerlinge het in ’n hart gevorm. Hulle sê hul harte gaan uit na Hoërskool Driehoek.

“Van die dogters het met die idee vorendag gekom om geel en pers strikkies (die kleure van die Hoërskool Driehoek) te maak en verkoop,” sê Benade.

“Ons het op Valentynsdag ’n foto geneem waar sommige leerlinge in ’n hartformasie staan. Met dit wil ons sê ‘ons harte gaan uit na die Hoërskool Driehoek’.”

Santjie Harris, ’n onderwyser van die Hoërskool Stellenberg, is ’n oudleerling van die Hoërskool Driehoek. “Dit het my baie geraak, omdat ek self op daardie brug geloop het. Dit is ’n vreeslike tragedie, maar dit was baie lekker om te voel ons kon ook bydra,” sê Harris.

1 540 leerlinge van die Hoërskool Rustenburgstaan arm-om-die-lyf.

“Dit was baie werklik vir die kinders. Van die kinders het selfs meer geld gegee as wat ons van hulle gevra het.”

Weber sê dit is die skool se besluit oor hoe die geld gebruik gaan word. “Hulle kan dit aanwend soos hulle goeddink. As hulle dit vir herstelwerk of mediese onkoste wil gebruik, staan dit hulle vry.”

Hulle is innig dankbaar vir elke sent, sê Klippies Kritzinger, uitvoerende hoof van die Goue Driehoek Kamer van Koophandel, wat die skenkings aan die Hoërskool Driehoek bestuur.

“Ons is oorweldig deur die hoeveelheid hulp en ondersteuning wat ons tot dusver gekry het. Ons het ’n onafhanklike paneel aangestel om die geld te bestuur,” sê Kritzinger.

Van die geld gaan gebruik word om die mediese onkoste van sekere van die beseerde leerlinge te help betaal.

Onderwysers en leerlinge van Sonneveld Akademie naby Brakpan, wat ook geld ingesamel het.

“Een leerling se rekening is nou al meer as R200 000, en dié leerling en hul ouers behoort nie aan ’n mediese fonds nie,” sê Kritzinger.

“Ons kyk ook waar die geld anders handig te pas kan wees, byvoorbeeld om ouers met petrolgeld te help.”

Benewens die groot hoeveelhede geld het die Hoërskool Driehoek onder andere ’n rolstoelhyser present gekry. Verskeie bouers, argitekte en sielkundiges het ook hul dienste verniet aangebied.

“Dit slaan ’n mens se asem weg om te sien hoe skole vir mekaar omgee,” sê Kritzinger.

Leerlinge van die Hoërskool Fairmont maak hartjies met hulle hande.
Die Hoërskool Hartbeespoort het ’n muntlegging gehou om geld te help insamel.

Meer oor:  Brugtragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.