Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole se 2021 nie so voorspoedig

Een ding is seker, sê onderwyskenners: Dié skooljaar gaan dit maar sukkel.

Hulle is diep bekommerd oor wat die uitstel van die skooljaar met twee weke en die algemene onstuimigheid vir kinders in sleutelgrade kan beteken.

Prof. Irma Eloff van die departement opvoedkundige sielkunde aan die Universiteit van Pretoria sê alle kinders in alle grade is belangrik, maar gr. 1, 4, 8, 11 en 12 is veral belangrik.

Sy is “diep bekommerd” oor die gr. 8’s, 11’s en 12’s.

Die positiewe ingesteldheid wat in die eerste paar dae gevestig word, is van kardinale belang.

Vir gr. 8’s is tegnologie nie die groot probleem nie, maar wel die sosiale, emosionele dinamika van hoërskool toe gaan.

“Dit is kwessies van identiteit: Wie is ek? Wie is my maats? Wie gaan ek wees? Sommige leerlinge kom uit groot laerskole, ander uit kleines en het net een maat wat saamgekom het. Dis baie moeilik.”

Vir die gr. 11’s en matrieks is die grootste vraag oor betrokkenheid, sê sy. Hoe hou jy selfs sterk akademiese leerlinge betrokke?

“Hulle is slim genoeg om betrokke voor te kom, terwyl hulle eintlik onbetrokke is, soos deur in te teken by ’n klas en dan die videofunksie af te skakel.”

Dis vir almal nuwe terrein, sê Eloff.

Die gewone sosiale steunpilare soos om saam met jou maats te fliek, kerk toe te gaan of sportgeleenthede by te woon, het verdwyn.

Dr. Francois Naude, navorsingsgenoot aan die onderwysfakulteit van die Universiteit van Johannesburg, sê sy groot bekommernis lê by die gr. 1’s.

“Verlede jaar het ons vir omtrent agt weke skool gehad en daai graadeens kon ’n band bou met hul onderwysers en het ook oriëntering gehad.”

Die grondslag wat in die eerste twee weke gelê word, al is dit net die mees basiese leervaardighede, is baie belangrik, sê hy.

“Hierdie jaar is dit anders.”

Hy beaam dit gaan vir die nuwe gr. 4’s baie moeilik wees. Dis reeds ’n uitdaging om byvoorbeeld klasse te wissel en eksamen te skryf en om dit aanlyn te doen, gaan ’n nog groter uitdaging wees.

Melanie Buys, onderwysspesialis by die Skole-ondersteuningsentrum (SOS), sê laerskoolhoofde was einde verlede jaar veral bekommerd oor gr. 1’s wat nie geleer het om sonder hul ma klaar te kom en hulself tussen maats te handhaaf nie.

“Grondslagfase-onderwysers sê die emosionele ontwikkeling en waagmoed van die kleintjies het teen die einde van 2020 ver tekort geskiet.”

Sy sê die invloed van die inperking op die fisieke ontwikkeling van kinders moenie onderskat word nie.

“Kinders is vir lang tye tot die huis beperk en min fisieke aktiwiteite het plaasgevind. Terug by die skool was die leerlinge tot hul klaskamers beperk, terwyl onderwysers klasse gewissel het.

“Daar is dus nie tussen periodes beweeg en trappe geklim nie.

“Alle sport en buitespel is aanvanklik afgeskaf. Toe sport uiteindelik weer aan die gang kom, is heelwat beenbreuke aangemeld.”

Wilna van Rooyen, vroeëkinderontwikkelingspesialis verbonde aan die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), sê aan die einde van gr. R word “grade” by gradeplegtighede oorhandig wat die kinders baie opgewonde maak oor skooltoetrede en verwagtings daarvan skep. “Daarna is die kinders onkeerbaar, hulle fokus op die dag wanneer hulle skool toe gaan. Die klere is gekoop, die tassies is gepak, die kosblikke gelaai – maar die skool maak nie oop nie; ’n groot teleurstelling vir ’n jong kind.”

Sy sê gr. 1 is die jaar waarin kinders leer skryf en lees, leer om somme te maak en met mekaar klaar te kom, saam te werk, te kommunikeer ensovoorts.

“Die positiewe ingesteldheid wat in die eerste paar dae op skool gevestig moet word, is van kardinale belang.”

Prof. Servaas van der Berg, onderwysnavorser aan die Universiteit Stellenbosch, sê die koste om kinders nie op skool te hê nie is geweldig hoog. Dit is veral die geval wat die sosiale en emosionele uitwerking op die kinders betref; die kinders gaan deur ’n klomp dinge wat abnormaal is.

Hy sê ook onderwysers is veiliger tussen kinders as tussen ander volwassenes.

“Hul situasie is nie uniek nie.

“Hulle is nie aan groter risiko blootgestel as iemand wat ander noodsaaklike werk verrig nie.”

  • Regulasies is uiteindelik Vrydagaand in die Staatskoerant gepubliseer, kort voordat skoolbestuurspanne môre moet terugkeer skool toe. Dit bepaal onafhanklike skole mag eers op 1 Februarie leerlinge ontvang.

Ebrahim Ansur, hoofsekretaris van die Nasionale Alliansie van Onafhanklike Skole in Suid-Afrika (Naisa), sê aan Rapport hulle steun dié besluit.

  • Solidariteit sê egter net die minister van samewerkende regering het die reg om sulke riglyne uit te reik. Die hele sektor wag steeds op hete kole dat ’n nuwe, aanvaarbare skoolkalender gepubliseer word.
Meer oor:  Aanlyn  |  Onderrig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.