Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole sluit Woensdag, maar verlore dae sal ingehaal word

Die departement van basiese onderwys het Sondag gevra dat skole nie dadelik gesluit word nie, maar dat twee ekstra dae gegun word sodat ouers die nodige reëlings vir hul kinders kan tref.

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand ’n nasionale ramptoestand afgekondig en gesê skole sal amptelik Woensdag sluit.

Volgens Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sal skole op 14 April weer open en dus tien dae op die skoolkalender verloor.

Motshekga het Maandag op ’n nuuskonferensie in Pretoria die departement se planne vir die skoolkalender verduidelik.

Angie Motshekga Foto: Argief/City Press

Die nuuskonferensie is deur die interministeriële komitee oor Covid-19 bygewoon.

“Die Junie-vakansie sal met ’n week verkort word en die September-vakansie sal met 3 dae verkort word om dié dae op te vang,” sê Motshekga.

Volgens haar moet skole die langer vakansie benut en kinders moet take gegee word om by die huis te oefen.

“As ons meer as tien dae verloor, sal die skoolkalender ook moontlik einde vanjaar verleng word.”

Op ’n vraag oor leerlinge wat van maaltye by die skool afhanklik is en of die departement se besluit deeglik bespreek is, sê Motshekga die departement het reeds Sondag gevra vir twee ekstra dae sodat ouers onder meer hul kinders by koshuise kan gaan haal.

“Daar is geen manier waarop ons as departement na 12 miljoen kinders in die vakansie kan kyk nie. Ons vra gemeenskappe om te help om na kinders by die huis te kyk en ouers om verantwoordelikheid vir hul kinders te neem.”

Volgens Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, is ’n Covid-19-span saamgestel wat bestaan uit verteenwoordigers van universiteite en kolleges.

“Instellings stel noodmaatreëls op grond van hul eie situasie in. Ons vergader egter Dinsdag met die hele sektor vir ’n omvattende strategie,” sê Nizimande.

“Ons het ooreengekom dat kontak by instellings verminder moet word. Die Universiteit van Kaapstad is gesluit en sommige universiteite het kontaklesings gestaak. Ons moedig alle universiteite aan om dit te doen, maar ons beplan nog nie ’n totale sluiting nie. Ons sal Dinsdag bespreek of die situasie vereis dat die universiteite toegemaak moet word.”

Daar is ook reeds genoem geleenthede soos gradeplegtighede en groot sportbyeenkomste gekanselleer moet word, asook internasionale reise wat met die universiteit verband hou, sê hy.

Volgens Nzimande is die Universiteit van die Witwatersrand reeds besig om diegene wat kontak met die besmette student gehad het op te spoor.

’n Dosent van die Universiteit van Kaapstad het ook positief getoets en daarom het die universiteit besluit om sy Paasvakansie vroeër te skuif en studente is gevra om koshuise te verlaat.

Die Nelson Mandela-Universiteit in Port Elizabeth het Maandagmiddag aangekondig dat sy akademiese en ander groot bedrywighede gestaak word.

Ook die Universiteit Stellenbosch het in ’n verklaring aangekondig dat alle akademiese aktiwiteite van Dinsdag 17 Maart opgeskort word. Besluite oor die Tygerberg-kampus sal later bekend gemaak word.

Suid-Afrika het tans 62 bevestigde gevalle van Covid-19.

Meer oor:  Angie Motshekga  |  Covid-19  |  Skole  |  Gesluit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.