Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Fedsas meen skole is gereed vir virusgevalle

Skole is gereed en ingelig om presies te weet hoe om op te tree wanneer ’n leerling positief vir Covid-19 getoets is.

Paul Colditz, voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê hy meen dat die skole goed daarop voorbereid is.

Paul Colditz

Een van die jongste positiewe gevalle van Covid-19 by skole is ’n matrikulant aan Grey-kollege (sekondêr) in Bloemfontein. Dit is sover bekend die eerste voorval in die Vrystaat waar ’n leerling positief by ’n skool getoets is.

Colditz sê volgens die protokol moet die betrokke skool die onderwys- en gesondheidsdepartement dadelik van die geval in kennis stel. Daarna neem die gesondheidsdepartement die besluitneming oor.

“Die skool het dan nie verder regtig iets om te doen behalwe om die instruksies van die gesondheidsdepartement te volg nie.”

Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse onderwysdepartement, sê Grey-kollege was “uiters voorbereid” om die geval te hanteer en die departement meen die skool het al die voorkomingsmaatreëls tot in die fynste besonderhede gevolg.

Ndaba sê dit is daarom dat die skool die positiewe geval so vinnig kon bespeur.

Hy sê die Vrystaatse skole is voorbereid om dié gevalle te hanteer, maar hy benadruk dat dit nie ’n skoolprobleem is nie. Dit is ’n omgewings- en departementele probleem.

Die gesondheidsdepartement adviseer die onderwysdepartement in so ’n geval oor hoe die situasie hanteer moet word.

Greg Titus, die onderwysvakbond Naptosa se uitvoerende hoof in Kimberley en Bloemfontein, sê daar is nie ’n maklike oplossing oor hoe om onderrig in die tyd van die koronavirus te hanteer nie, maar een ding is seker – die lewe moet voortgaan.

Titus sê dit is moeilik om te sê wat moet gebeur indien al meer positiewe Covid-19-gevalle in die skole voorkom. Dit is nou ’n leerkurwe.

Hy sê veral asimptomatiese gevalle van Covid-19 bemoeilik sake, aangesien dié persoon talle ander kan aansteek sonder om te weet dat hy of sy die virus onder lede het.

“Die probleem is die groter moeilikheid kom nog. Die departement moet nou van sy kant af al die moontlike doen om die ding onder beheer te kry.”

Titus sê ook leerlinge moet verantwoordelikheid vir die voorkomingsmaatreëls aanvaar.

Lehuma Ntuane, woordvoerder van die Noord-Kaapse onderwysdepartement, sê daar is geen twyfel nie dat normale onderrig in ’n mate ontwrig sal word wanneer positiewe gevalle van Covid-19 in skole voorkom.

“Dit is ’n nuwe ervaring vir ons almal, en daarby veroorsaak dit vrees by die leerlinge, sowel as die onderwysers.”

Hy sê die onderwysdepartement sal nie nalaat om versigtig te wees nie en sal die veiligheid van die onderwysers en leerlinge verseker – wat uiters belangrik is.

Colditz sê volgens die navorsing waarvan hy bewus gemaak is, word kinders nie so ernstig deur die virus geraak nie en hy meen dus dat dit die regte besluit was om die skole te heropen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.