Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole: ‘Syfers vereis nie krisis-optrede’

Dit is belangrik dat die getal gevalle van die koronavirus in skole in perspektief gesien word, sê die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) en hy meen nie die situasie vereis tans buitengewone optrede nie.

Die temperatuur van ’n leerling in Langa word gemeet nadat skole kon heropen. Foto: Reuters

Die departement vir basiese onderwys het Saterdag in ’n verklaring gesê meer as 1 000 onderwysers en meer as 500 leerlinge is die afgelope drie weke positief getoets vir die koronavirus.

1 141 onderwysers en 523 leerlinge is positief getoets en 775 skole is tydelik gesluit en ná ontsmetting heropen.

Skoolhoofde is aangemoedig om seker te maak dat die gesondheidsprotokolle vir die bestuur van die virus streng nagekom word.

“Skole is ’n integrale deel van die samelewing en ’n weerspieëling van die gemeenskap. Skole, nes klinieke, polisiestasies, winkels, myne, en ander plekke wat gereeld besoek word, moes ook sluit en heropen,” lui die verklaring.

“Dit is in reaksie op infeksies wat tydens die siftingsproses geïdentifiseer is en is in pas met die gesondheidsprotokol oor hoe ’n omgewing wat moontlik ontsmet is, hanteer moet word.”

Skole sal moet leer om onderbrekings as ’n integrale deel van die nuwe normaal te beskou.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, sê almal sal moet leer om met die virus saam te leef.

“Dit gaan minstens die volgende drie tot vier jaar nog met ons wees. Sonder om roekeloos te wees, kan infeksie tot die minimum beperk word as elkeen, jonk en oud, die regte dinge doen. Maar dit sal nooit uitgeskakel kan word nie.

“Die 1 000 opvoeders is slegs 0,025% van die totaal en regverdig nie buitengewone optrede nie. Ons is nie onsimpatiek nie, maar dit vereis nie krisis-optrede nie. “Weer is dit belangrik dat die redelike maatreëls oorweeg moet word om hulle uiteindelik te isoleer en die nodige ondersteuning te gee,” sê hy.

“Die 700 skole verteenwoordig 2,8% van skole. Die huidige benadering is om skole vir ’n dag of twee te sluit. Dit is dus nie nodig om buitegewoon lang onderrigtyd te verloor nie.

“Ons sal nie ontwrigtings, of eerder onderbrekings kan keer nie. Ons moet deurlopend verantwoordelik optree en die realiteit in ag neem. Skole sal moet leer om onderbrekings as ’n integrale deel van die nuwe normaal te beskou. Talle skole het al ’n model ontwikkel wat afwissel tussen formele en aanlyn onderrig,” sê Klopper.

Ons het nog nooit gevra vir die summiere sluiting van skole nie, maar ons het altyd aangedui dat skole net kan heropen as dit veilig is en alles in plek is.

Basil Manuel, uitvoerende direkteur van Naptosa, sê die vakbond is bekommerd oor die syfers, maar daar moet ook in ag geneem word dat dit die totale aantal gevalle is sedert skole op 8 Junie heropen het en dat dit nie die huidige situasie weerspieël nie.

Manuel sê hulle hoop Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, bestudeer die syfers fyn.

“Ons het nog nooit gevra vir die summiere sluiting van skole nie, maar ons het altyd aangedui dat skole net kan heropen as dit veilig is en alles in plek is.

“In dié stadium hoop ons die minister en haar adviseurs sal die syfers bestudeer en, as ons op pad is na die hoogtepunt van die uitbreking in Suid-Afrika soos wat wetenskaplikes voorspel, dat daar rasionaliteit sal wees.

“Is dit dalk verstandig om die vakansie vroeër te skuif en dit nou te hou en ná die hoogtepunt weer te heropen? Ons glo ook daar moet buigsaamheid wees as ons hoogtepunte bereik.”

Manuel sê skole kan nie ten alle koste oop wees nie, maar die besluit moet in die beste belang van ouers en leerlinge wees.

“Selfs net ’n verklaring in die verband sal baie doen om mense te kalmeer, want onderwysers is angstig. Die angstigheid is ook onder ouers en kinders, veral hoërskoolleerlinge. Ons soek duidelike leierskap van die departement wat moet aandui hoe ons vorentoe gaan beweeg,” sê hy.

Leerlinge in gr. 1 tot 3, gr. 6, gr. 10 en gr. 11 keer op 6 Julie terug en leerlinge in gr. 4, gr. 5, gr. 8 en gr. 9 sal op 3 Augustus terugkeer. Skole wat aan die Covid-19-regulasies voldoen, kan van hierdie datums afwyk.

Die hooggeregshof in Pretoria het op 18 Junie uitspraak voorbehou in Mmusi Maimane en sy beweging, One South Africa, se aansoek dat die besluit om skole te heropen, tersyde gestel moet word.

Elijah Mhlanga, woordvoerder vir die departement van onderwys, sê die besluit om skole te heropen word nie in die stadium heroorweeg nie.

• Die voorkoms van bevestigde Covid-19-gevalle in skoolgemeenskappe volgens provinsie is as volg:

• Noord-Kaap: Nege onderwysers en een leerling is positief getoets vir die virus die afgelope drie weke; 11 skole is tydelik gesluit en ná ontsmetting heropen.

• Mpumalanga: Agt onderwysers, sewe leerlinge; 10 skole • Limpopo: Tien onderwysers, drie leerlinge; drie skole

• Noordwes: 22 onderwysers, ses leerlinge; 14 skole

• Vrystaat: 13 onderwysers, 31 leerlinge; 12 skole

• Oos-Kaap: 271 onderwysers, 270 leerlinge; 154 skole

• Gauteng: 188 onderwysers, 58 leerlinge; 176 skole

• KwaZulu-Natal: 63 onderwysers, 13 leerlinge; 63 skole

• Wes-Kaap: 557 onderwysers; 134 leerlinge; 332 skole.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.