Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole: Uitstel sal ‘strook met vorige besluit’

Die heropening van skole is verlede jaar uitgestel weens stygende koronavirusinfeksies, daarom sal ’n besluit om die heropening van skole onder dieselfde omstandighede uit te stel, “konsekwent” wees.

Dit is die kommentaar van die Universiteit van Johannesburg (UJ) se sentrum vir maatskaplike verandering en die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) ná ’n opname oor dié netelige kwessie.

Volgens die opname, waaraan 10 618 mense deelgeneem het, dink sowat 53% van volwassenes skole moet nie heropen totdat die situasie oor Covid-19 verbeter nie.

Sowat 19% van deelnemers glo skole moet slegs vir leerlinge in gr. 7 en gr. 12 heropen en 19% voel alle leerlinge moet terugkeer. Die res van die deelnemers het aangedui hulle “weet nie” of en hoe die heropening moet geskied nie.

Volgens die skoolkalender heropen skole op 25 Januarie vir onderwysers en bestuurspersoneel en op 27 Januarie vir leerlinge. Die departement van basiese onderwys se plan vir die heropening is Dinsdag op ’n vergadering aan die nasionale koronavirusbevelsraad voorgelê.

Elijah Mhlanga, woordvoerder vir die departement, het Woensdag gesê vergaderings oor die kwessie vind Donderdag weer plaas.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - JANUARY 12: Shops pre
Winkels in Suid-Afrika het hierdie week begin regstaan vir ouers wat nog uniforms en benodigdhede moet aanskaf vir die nuwe skooljaar wat in hierdie stadium nog op 27 Januarie begin. Foto: Gallo Images

Luidens die UJ/RGN se verklaring oor die bevindinge is deelnemers met ’n laer inkomste meer gekant teen die heropening. Onder diegene wat minder as R1 000 per maand verdien, het 53% gesê skole moet nie heropen nie, terwyl net 41% van diegene wat meer as R20 000 per maand verdien daarteen gekant is.

“Houdings oor die heropening van skole het ook onder rasse verskil. Indiër-volwassenes was die sterkste gekant teen skole se heropening, met 77% wat sê skole moet nie heropen totdat die situasie verbeter nie. Bruin (63%) en swart (52%) volwassenes was ook gekant daarteen. In teenstelling hiermee is net 37% van wit volwassenes gekant teen die heropening,” lui die verklaring.

Sowat 56% van deelnemers wat in townships bly, wil nie hê skole moet nou al heropen nie, terwyl net 44% van deelnemers wat in voorstede bly, dieselfde voel.

Luidens die verklaring toon die bevindinge die ongelykhede in die samelewing, omdat ryker ouers wat in voorstede bly meer vertroue het dat skole ’n veilige omgewing is, in teenstelling met armer ouers in townships en informele nedersettings.

Die opname is tussen 30 Desember en 6 Januarie gedoen en die bevindinge is geweeg om met Statistieke Suid-Afrika se data oor ras, onderrig en ouderdom ooreen te stem en kan in die breë as verteenwoordigend van die algemene bevolking beskou word.

Geen grondige rede om skole later te heropen

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) sê dis belangrik dat leerlinge so gou moontlik terugkeer skool toe om verdere akademiese agterstand te voorkom.

Volgens die SOS is skole veiliger as ander openbare ruimtes en is toesig oor kinders ’n kopseer as ouers moet terugkeer werk toe. Die organisasie sê verdere verliese aan onderrigtyd gaan leerlinge benadeel, veral in skole wat nie aanlyn kan voortgaan nie.

Die SOS meen dis uiters belangrik vir sleutelgrade, soos gr. 1, gr. 4, gr. 8 en gr. 11, om nie verder onderrigtyd te verloor nie.

Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die SOS, sê hulle besef daar is druk op onderwysers se getalle en dat Covid-19 hierdie druk verhoog.

“Die tweede vlaag van die virus is vir ons almal ’n bekommernis, maar skole het tot dusver baie goed gedoen om ’n veilige omgewing vir sowel onderwysers as leerlinge te bied.

“Die huidige tekort aan onderwysers kan getakel word deur finalejaaronderwysstudente tydelik aan te stel of deur gekwalifiseerde onderwysers wat buite die beroep staan, terug te lok. Stadige aanstellingsprosesse kniehalter ongelukkig dié proses,” sê hy.

“Onderwysers met onderliggende siektetoestande kan onderrig voortsit deur middel van aanlyn leerplatforms wat gedurende die eerste inperking in 2020 deur baie skole ingestel is.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Heropening  |  Covid-19  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.