Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole: Vakbonde steun uitstel van twee weke

Onderwysers, ouers en leerlinge sal Vrydag weet of die skole se heropening tot 15 Februarie uitgestel is wanneer Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, ’n mediakonferensie hou oor skole se gereedheid rakende Covid-19.

Dit volg nadat die departement van basiese onderwys Woensdagaand met verskeie rolspelers in die onderwyssektor vergader het oor ’n voorstel van die nasionale koronavirus-bevelsraad om die heropening van skole met twee weke uit te stel.

Volgens die skoolkalender heropen die skole op 25 Januarie vir die onderwysers en bestuurspersoneel, en op 27 Januarie vir die leerlinge. Netwerk24 het bevestig 15 Februarie word as die nuwe datum oorweeg.

Al vyf die onderwysvakbonde het die besluit om die heropening met twee weke uit te stel, verwelkom.

Chris Klopper, hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê dit bied genoegsame tyd om steeds die skooljaar te red sonder om mense se veiligheid in gedrang te bring.

Ons standpunt is hulle moet ’n dag of twee voor die leerlinge begin. Die virus hou die grootste risiko vir onderwysers in. Om te wil sê hulle moet nou vir twee weke net by die skool gaan sit, maak nie sin nie.

Die SAOU het talle aspekte uitgelig wat nog nie afgehandel is nie. “Daar is onder meer nie genoeg maskers vir gr. 1-leerlinge by alle skole afgelewer nie. Die ooreenkoms oor onderwysers met onderliggende siektetoestande is ook nie afgehandel nie,” sê Klopper.

In 2020 het ’n kollektiewe ooreenkoms van die Raad op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (ELRC) bepaal onderwysers met onderliggende siektetoestande kan tydens vlak 2 en vlak 3 van die huis af werk.

Klopper sê hulle ondersteun nie die voorstelle dat onderwysers steeds op 25 Januarie moet aanmeld nie.

“Ons standpunt is hulle moet ’n dag of twee voor die leerlinge begin. Die virus hou die grootste risiko vir onderwysers in. Om te wil sê hulle moet nou vir twee weke net by die skool gaan sit, maak nie sin nie.”

Basil Manuel, hoof van die onderwysvakbond Naptosa, sê hulle soek ook duidelikheid oor hoe die heropening gaan werk en of alle grade hulle gaan moet aanmeld.

Naptosa steun ’n uitsteltydperk totdat die piek van die tweede vlaag van infeksies verby is.

Ebrahim Ansur, sekretaris-generaal van die Nasionale Alliansie van Onafhanklike Skole in Suid-Afrika (Naisa), sê in ’n brief aan sy lede die kabinet sou ná Donderdag se bevelsraad-vergadering ’n finale besluit neem.

“Dit is aan ons beklemtoon dat die versoek om die heropening uit te stel, nie van die departement af kom nie, maar van die bevelsraad om sodoende die druk op die gesondheidstelsel te verlig,” sê hy.

Onafhanklike skole wat reeds heropen het, mag voor die nuwe amptelike datum ’n paar dae as ’n vensterperiode gebruik om nuwe leerlinge te verwelkom en te oriënteer.

Naisa raai onafhanklike skole wat nog nie heropen het nie aan om die nodige reëlings te tref om hul aanlyn leerprogramme so gou as moontlik te begin.

“Dit was duidelik dat die sektor vir onafhanklike skole nie ’n eensydige standpunt kon inneem nie, gegewe die nasionale noodsaak om die tweede vlaag se kurwe af te plat,” sê Ansur.

Nie almal stem egter saam met die besluit nie.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê nie een van die beheerliggaam-organisasies het die voorstel gesteun nie.

“Ons kon nie ’n standpunt inneem nie, want daar is nie genoeg inligting aan ons gegee nie. Die direkteur-generaal (Mathanzima Mweli) sê hulle het ’n verslag oor skole se gereedheid aan die bevelsraad voorgelê. Ons weet nie wat in daai verslag staan nie; dis nooit vooraf met ons bepreek nie.”

As jy sê dinge het verander, moet jy dit met mediese getuienis staaf. Ons weet dit is ’n nuwe variant (van die virus), maar ons weet nie wat die verskil is en wat die effek daarvan gaan wees in gekontroleerde omstandighede nie.

Volgens Colditz het dit verlede jaar by die meeste skole goed gegaan en vrese dat leerlinge mekaar of onderwysers kon aansteek, is nie bewaarheid nie.

“As jy sê dinge het verander, moet jy dit met mediese getuienis staaf. Ons weet dit is ’n nuwe variant (van die virus), maar ons weet nie wat die verskil is en wat die effek daarvan gaan wees in gekontroleerde omstandighede nie. Volgens my kennis en ervaring van verlede jaar is dit veiliger vir kinders op skool as in die strate,” sê hy.

“Ons is volkome ten gunste van veiligheid, maar ek kan nie met verantwoordelikheid ’n ingeligte besluit neem nie. Daar word gesê ons is nog nie by die piek nie en ons weet nie wanneer die piek gaan wees nie. As dit oor twee weke kom, wat dan? En as dit oor drie weke kom? Stel ons die heropening dan weer uit?”

• Sarel van der Walt berig Julius Malema, EFF-leier, het op ’n aanlyn mediakonferensie gesê die EFF is ten gunste daarvan dat skole in die lig van die nuwe variant van die virus eers later heropen.

“Ons hoop die regering luister na ons gebede en beskerm ons kinders. Ons is baie gelukkig dat dit nie ons kinders is wat nou sterf nie.

“Dink net daaraan as ons ons kinders verloor. Laat ons kinders liewer veilig by die huis bly totdat ons die virus oorwin het,” het Malema gesê.

Meer oor:  Chris Klopper  |  Paul Colditz  |  Uitstel  |  Covid-19  |  Skole  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.