Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole wat nie gereed is, kan nie ander terughou – VF Plus

Die VF Plus verwerp die standpunt dat skole eers moet heropen wanneer almal gereed is en sê skole wat wel gereed is, kan nie deur ander teruggehou word nie.

“Terwyl dit noodsaaklik is om geleenthede te skep vir leerlinge wat agterraak om in te haal, kan die tempo van vordering nie deur die instellings of persone wat die swakste voorbereid is, bepaal word nie. Dit klink na nog ’n erfenis uit die ANC se stryd om die mag te verkry, toe ‘pass one, pass all’ ’n gewilde strydkreet was,” lui ’n verklaring wat Woensdag deur Wynand Boshoff, die party se woordvoerder oor onderwys, uitgereik is.

Hubert Mweli, direkteur-generaal (DG) van die departement van basiese onderwys, het Woensdag in ’n voorlegging aan die portefeuljekomitee vir onderwys gesê as alles volgens plan verloop, sal onderwysers Maandag terugkeer skool toe en die gr. 12- en gr. 7-leerlinge twee dae later. Die res sal daarna stuksgewys terugkeer.

Daar is egter onsekerheid oor dié plan omdat Reginah Mhaule, adjunkminister van basiese onderwys, in vraetyd gesê het die onderwysers sal eers op 11 Mei vergader om veranderinge aan die kurrikulum te bespreek voordat die matrieks op 18 Mei terug by die skool sal wees.

Die VF Plus beywer hom vir ’n staatsbedeling waar besluitneming na die laagste moontlike vlak afgewentel word.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, kon nie die vergadering bywoon nie omdat sy deel was van die nasionale Covid-19-bevelsraad se vergadering waar ’n finale besluit daaroor moontlik geneem sal word. Motshekga sal na verwagting Donderdag op ’n mediakonferensie ’n aankondiging maak.

Die VF Plus sê hy steun die geleidelike oopstelling van skole en dink dit kan in sekere gevalle selfs versnel word.

“Die VF Plus beywer hom vir ’n staatsbedeling waar besluitneming na die laagste moontlike vlak afgewentel word. Dit is immers sinneloos dat sekere skole, kolleges of universiteite gesluit bly omdat ander nie in staat is om die krisis te hanteer nie.”

Verskeie onderwysunies het Woensdag aan Netwerk24 gesê skole is nie gereed om Maandag vir personeel en leerlinge te heropen nie.

Debbie Schäfer, LUR vir onderwys in die Wes-Kaap, sê skole in dié provinsie sal nie volgende week in ’n posisie wees om leerlinge te ontvang nie.

Schäfer sê in ’n verklaring die provinsiale onderwysdepartement kan eers ná Motshekga se aankondiging kommentaar lewer, maar het benadruk dat leerlinge in die Wes-Kaap nie aanstaande week reeds na skole sal kan terugkeer nie.

Die menseregtegroep Amnestie Internasionaal Suid-Afrika het Woensdag gesê skole moet slegs heropen indien alle maatreëls in plek is om personeel en leerlinge se veiligheid te verseker.

“Ons doen ’n beroep op die onderwysdepartement om deursigtig, verantwoordelik en progressief in sy beplanning te wees sodat ouers, onderwysers en almal betrokke weet wat presies hul kan verwag en watter maatreëls vir openbare gesondheid, water en sanitasie in plek is.”

Volgens die groep het 4 358 skole in die land nog puttoilette en 37 skole het geen sanitasiegeriewe nie.

“Die onderwysdepartement moet dringend saam met die departement van water en sanitasie werk om te verseker alle skole in Suid-Afrika het toegang tot water en sanitasiegeriewe.”

* Die departement van basiese onderrig het Woensdagaand in ’n verklaring gesê hy sal Donderdag ’n gekonsolideerde plan wat voorstelle van alle partye in ag neem aan die kabinet voorlê. Motshekga sal daarna verdere inligting gee oor finale datums en gedetailleerde planne vir die stelselmatige heropening van skole.Luidens die verklaring is die veiligheid van kinders die belangrikste oorweging vir die departement tydens hierdie proses.

Meer oor:  Vf Plus  |  Hubert Mweli  |  Covid-19  |  Skole  |  Koronavirus  |  Onderwysers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.