Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole word slagveld vir bendes
Dan Plato, Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, en Thembisile Patekile, provinsiale adjunkkommissaris belas met polisiedienste. Foto: Luigi Bennet

Skoolterreine in die Wes-Kaap is deesdae die slagveld van die berugste bendes in die provinsie – ’n groot bron van kommer vir politici wat glo dat die situasie ’n tikkende tydbom is.

Die Wes-Kaapse polisie het reeds 19 skole in veral Kaapstad uitgewys, en nouer bande met politici, die provinsiale regering en skole gevorm om die probleem op te los.

Genl.maj. Thembisile Patekile, provinsiale adjunkkommissaris belas met polisiedienste, het op ’n vergadering van die Wes-Kaapse staande komitee oor gemeenskapsveiligheid gesê leerlinge se veiligheid is ’n prioriteit.

“Ons het baie bendes in skole opgemerk. Sekere leerlinge is lede van bendes en doen die bende se werk op die skoolterrein.

“Ons het ook agtergekom dat baie bendes nou na die platteland skuif. Ons sien baie meer bendeaktiwiteit in landelike gebiede en in die skole daar. Jong mans word veral geteiken.”

Volgens Patekile is die algemene voorkoms van geweld in klaskamers ’n groot bron van kommer.

“Ons het polisiebeamptes by skole geplaas. Hulle patrolleer veral in die oggende en smiddae wanneer leerlinge die skoolterrein verlaat. Die polisie kan nie in klaskamers ook polisieer nie, maar ons het goeie samewerking met skole.

Ons kan nie toelaat dat die situasie erger raak nie. Ons kinders word vermoor, hulle is geensins veilig by die skool nie. Die onderwysers is ook nie veilig nie.
Pat Lekker, ANC-LPP

“Die grootste probleem, veral in bendegeteisterde gebiede, is dat die bendegeweld in die gemeenskap na die skole oorspoel.

“Leerlinge kan nie die skool verlaat wanneer geweld voorkom nie, en soms is daar bendelede binne-in klaskamers wat allerhande misdade pleeg,” het Patekile benadruk.

In Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte het wetstoepassingsbeamptes onlangs messe, skêre, dwelms, sigaretaanstekers, sigarette en selfs kondome op skool by leerlinge gekry.

Etlike ander skole, veral op die Kaapse Vlakte, is in die provinsiale onderwysdepartement en polisie se versier.

Politici was egter nie baie beïndruk met Patekile se plan om skole veiliger te maak nie.

Mireille Wenger, DA-LPP, het gesê die polisie kan veel meer doen. “Skole veiligheid is nie ’n prioriteit vir die polisie nie. Dit is duidelik dat hul tekort aan mannekrag hier ’n rol speel.

“Ons benodig ook beter samewerking tussen alle belanghebbendes,” het Wenger gesê.

Basil Kivedo, DA-LPP, het gesê die regering moet aandag gee aan maatskaplike euwels, soos afwesige pa’s, gesinsgeweld en werkloosheid.

“Ons moet sake in die huis regkry voor ons die uitdagings op straat kan aanpak. Wes-Kapenaars moet uit hul luukse Gomma Gomma-banke opstaan en betrokke raak by die stryd teen bendegeweld,” het hy gesê.

Pat Lekker, ANC-LPP, het gesê die regering sit op ’n tikkende tydbom.

“Ons kan nie toelaat dat die situasie erger raak nie. Ons kinders word vermoor, hulle is geensins veilig by die skool nie. Die onderwysers is ook nie veilig nie.

“Die maatskaplike probleme in ons samelewing moet dadelik aandag kry,” het Lekker gesê.

Dan Plato, Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, het die polisie se plan verwelkom en beloof om saam te werk.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Bendes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.