Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skoleplasings gaan voort, ondanks kommer

Die Gautengse onderwysdepartement het Woensdag voortgegaan met die plasing van leerlinge in skole vir volgende jaar, ondanks verskeie bekommernisse oor dié proses.

Die departement het wel belowe dat hy met skole beraadslaag waar onreëlmatighede aangemeld is.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU). Foto: Leánne Stander

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê die probleem het begin toe skole Vrydag lyste ontvang het van leerlinge wat in hul skole geplaas gaan word.

“Daar is vroeër tussen die departement se distrikskantore, skoolhoofde en beheerliggame ooreengekom oor hoe die plasings gedoen gaan word, en almal was gemaklik daarmee.”

Volgens Klopper het die lyste wat skole Vrydag ontvang het egter drasties verskil van dit waarop ooreengekom is.

Paul Colditz van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê dié lyste was deurmekaar en die plasings totaal irrasioneel.

“Die departement het dus hul eie regulasies nie nagekom nie.”

Volgens Colditz het 72 skole hul probleme met die plasings by Fedsas aangemeld. Dit is nie net Afrikaanse skole nie, maar sluit parallel- en dubbelmediumskole in.

“Daar is byvoorbeeld een skool met 17 sibbe waar broers en susters nie in dieselfde skool geplaas is nie. Dit maak dit moeilik vir ouers as hul kinders nie in een skool is nie.”

Klopper sê nog ’n probleem wat aangemeld is, is dat daar leerlinge is wat sekere vakke wil neem wat net by spesifieke skole aangebied word. Sommige van dié leerlinge is nie in dié skole geplaas nie en kan dus nie die vakke neem wat hulle graag wil nie.

Hy sê daar is gevalle by skole waar leerlinge wat naby aan ’n skool bly nié daar geplaas is nie, maar leerlinge wat verder weg bly wel geplaas is.

Daar is ook Afrikaanse skole waar tientalle Engelse leerlinge geplaas is, of Afrikaanse leerlinge wat in Engelse skole geplaas is.

Weens dié probleme het AfriForum Dinsdag ’n prokureursbrief aan die onderwysdepartement gestuur om te versoek dat die plasing van leerlinge vir eers uitgestel word. Die organisasie het gedreig met dringende regsaksie indien die departement nie gehoor gee aan sy eise nie.

Die onderwysdepartement se regspan het op hul beurt ’n brief aan AfriForum gestuur wat lui dat die departement die probleme by skole sal ondersoek.

In dié brief onderneem die departement om nie aanbiedinge vir plasings in skole te stuur aan die ouers van skole waar daar onreëlmatighede aangemeld is nie.

Ons weet van ouers wat wel SMS’e ontvang het met aanbiedings vir plasings in skole waar daar wel probleme is.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, wou Woensdag nie die inhoud van dié brief bevestig nie.

“Die plasing van leerlinge is nie ’n eenmalige proses nie. Ons begin vandag, 18 September, en eindig op 31 Oktober. Ons werk saam met alle skole wat bekommernisse geopper het om dit vriendskaplik op te los.”

Carien Bloem, AfriForum se bestuurder van onderwys, het Woensdag by navraag gesê dié organisasie konsulteer Donderdag weer sy regspan oor die situasie.

“Ons weet van ouers wat wel SMS’e ontvang het met aanbiedings vir plasings in skole waar daar wel probleme is. Ons sal Donderdag die pad vorentoe met ons advokate bespreek.”

Sy sê indien AfriForum wel ’n interdik gaan bring teen die onderwysdepartement, sal dit volgende week wees.

Luidens ’n verklaring wat Woensdag deur die Gautengse onderwysdepartement uitgereik is, sal die plasing van gr. 1- en gr. 8-leerlinge steeds Woensdag voortgaan.

“Aanbiedings vir plasings sal nie aan alle ouers op dieselfde dag gestuur word nie. Die departement werk stelselmatig deur die aansoeke.”

Ouers moet die aanbieding binne sewe skooldae aanvaar.

“Ons vra dat ouers kalm bly as aanbiedings vir plekke in skole nie onmiddellik ontvang word nie. Die kapasiteit van elke skool sal bepaal hoeveel leerlinge daar geplaas gaan word,” sê Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng.

Meer oor:  Chris Klopper  |  Paul Colditz  |  Gauteng
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.