Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skoleplasings in Gauteng: Proses verander

Daar heers kommer oor die aanlyn plasing van voornemende gr. 1- en 8-leerlinge in Gauteng, met die aansoekproses wat vanjaar baie later begin en boonop verander het.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het Sondag besonderhede oor die aansoekproses vir 2022 bekend gemaak.

Die proses is nou in twee fases verdeel en sal op verskillende datums vir voornemende gr. 1- en 8-leerlinge begin.

Leerlinge wat tans in graad 7 in ’n openbare skool is, kan tydens fase 1 vanaf 10 Augustus tot 3 September vir ’n plek in ’n hoërskool aansoek doen.

Tydens fase 2 kan aansoeke vir voornemende gr. 1-leerlinge vanaf 13 September tot 8 Oktober ingedien word. Gr. 7-leerlinge wat nie tans in ’n openbare skool is nie, kan ook in dié tydperk aansoek doen.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, Sondag tydens die aankondiging van 2022 se aanlyn aansoekproses. Foto: Verskaf

Die kriteria vir plasings in volgorde van belangrikheid is:

• Huisadres binne die skool se voedingsone;

• As die aansoeker reeds ’n broer of suster in die skool het;

• Ouers se werkadres binne die skool se voedingsone; en

• Huisadres binne ’n 30 km-radius in die skool se voedingsone.

Leerlinge wat teen die einde van die fases nog nie plek gekry het nie, se plasings sal teen middel Desember afgehandel word.

Riaan van der Bergh, onderwystegnologiebestuurder by die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê hulle is bekommerd oor die verandering aan die stelsel en dat veral voornemende gr. 1’s soveel later eers kan aansoek doen.

“Die verduideliking is dat gr. 7’s van openbare skole voorkeur-aansoektyd kry om Gautengse skole te beskerm, maar dit beteken dat ’n gr. 7-leerling van ’n onafhanklike skool of tuisskool eers later kan aansoek doen vir plek in ’n openbare skool, al bly hulle naby aan die skool,” sê hy.

“Dit is strydig met die huidige regulasies wat sê voorkeurplasing word gedoen op grond van die huisadres se afstand binne die skool se voedingsone.”

Van der Bergh sê die aansoekproses het laasjaar in Mei begin.

“Nou begin die proses in September vir gr. 1-leerlinge, wat omtrent 60% van die aansoeke uitmaak. Dit gaan baie druk op skole sit wat die administrasie hanteer, en ouers gaan lank onseker bly oor by watter skool hul kind ingeskryf is.

“Die plan is dat niemand later as 15 Desember geplaas moet word nie. Dis baie laat vir skole en vir ouers wat moet beplan en skoolklere koop,” sê hy.

Fedsas gaan moontlik die week die departement nader en voorstel dat die aansoeke vir gr. 1-leerlinge vroeër begin.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) sê skole doen gewoonlik baie moeite om nuwe gr. 1’s voor te berei, wat nou bykans onmoontlik sal wees.

“As ’n leerling op 15 Desember eers hoor hy het nie plek in die laerskool nie, het ouers ’n krisis om ’n nuwe skool te vind, want alle skole sluit op 15 Desember,” sê Melanie Buys, die SOS se hoof van ontwikkeling.

Fase 1: Gr. 7-leerlinge wat tans in openbare skole is

Openbare laerskole moet ouers en voogde van gr. 7-leerlinge se persoonlike besonderhede vanaf 2 tot 6 Augustus nagaan en wysig, indien nodig.

Dit sluit hul selfoonnommer, ID-nommer en huisadres in.

Vanaf 10 Augustus sal ouers ’n SMS kry wat ’n skakel na die aanlyn aansoekproses bevat. Die proses bestaan uit vyf stappe.

Ouers sal by ’n maksimum van vyf skole kan aansoek doen. Relevante dokumentasie soos ’n bewys van adres, leerlinge se geboortesertifikaat en skoolrapport moet binne sewe dae vandat aansoek gedoen is, aanlyn of by skole ingedien word.

Ouers sal tussen 15 Oktober en 30 November ’n aanbod vir ’n plasing kry, wat aanvaar moet word om ’n leerling se plek te bevestig.

Fase 2: Gr. 1-leerlinge en ander gr. 7-leerlinge

Ouers en voogde van hierdie leerlinge kan vanaf 13 September aanlyn aansoek doen. Die proses bestaan ook uit vyf stappe.

Relevante dokumentasie moet ook binne sewe dae aanlyn of by die betrokke skool ingedien word. Vir gr. 1-leerlinge moet ’n inentingskaart ook ingedien word.

Ouers sal vanaf 15 tot 30 November ’n aanbod vir ’n plasing kry, wat aanvaar moet word om ’n leerling se plek te bevestig.

Die departement het 47 inloopsentrums waar ouers vir hulp kan aanklop. ’n Lys van dié sentrums sal op die departement se webwerf beskikbaar wees.

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Onderwys  |  Gauteng  |  Skoleplasings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.