Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skolerugby duik weer in hek

Minder as ’n maand nadat skole toegelaat is om weer sportbyeenkomste te hou, kan Covid-19 sy wurggreep daarop verstewig.

Die Hoërskool Monument se linkervleuel Brian Bianchina op volle vaart op pad na sy uitstekende drie teen die Hoërskool Waterkloof in die eerste ronde van die Virsekerbeker-reeks op 8 Mei. Die res van die seisoen se skolerugby-wedstryde is in die weegskaal weens die Covid-19-epidemie. Foto: Frans Lombard

Die virus het reeds die afgelope week veroorsaak dat talle skolewedstryde, veral in die noorde van die land, afgelas is. Die kans lyk goed dat die departement van onderwys in die komende week kan besluit om alle skolesport weer af te las.

Die SA Skolerugbyvereniging vergader na verwagting môre met SA Rugby se mediese paneel om te besluit of bykomende voorsorgmaatreëls nodig is indien rugbywedstryde wel by skole voortgaan.

Verskeie skole en rugbyverenigings het reeds uit eie beweging besluit om oefeninge en wedstryde vir minstens twee weke te staak.

In Klerksdorp het die onderwysdepartement alle skolewedstryde in die Matlosana-distrik tot die volgende skoolvakansie, in Julie, afgelas. Dit het daartoe gelei dat gister se Classic Clash-kragmeting tussen die hoërskole Klerksdorp en Lichtenburg nie kon plaasvind nie. Albei skole vier vanjaar hul honderdste bestaansjaar en die wedstryd sou die hoogtepunt van die vieringe gewees het.

Die Queens High School se derby teen Grey PE, Affies se wedstryd teen Grey Kollege en Monument se wedstryd teen Garsfontein is almal Saterdag weens Covid-19 gekanselleer.

‘Ons is eerder veilig.’

In Pretoria is alle kontaksport in die oostelike voorstede vir die Virsekerbeker tot die einde van die maand uitgestel. Net twee wedstryde in dié jaarlikse reeks is gister gespeel.

Die webblad School of Rugby berig dat die Vrystaatse Hoërskoolrugby-vereniging besluit het om geen ligawedstryde vir die volgende twee weke toe te laat nie.

Verskeie skolewedstryde in die res van Gauteng, asook in die Noord-Kaap, Oos-Kaap en Limpopo, is ook afgestel.

Noel Ingle, hoof van die SA Skolerugbyvereniging, het aan Rapport gesê hulle sal ná môre se vergadering met SA Rugby ’n brief aan skole stuur oor die pad vorentoe.

“Daar is skole wat hul eie situasie monitor en hul eie kragmetings gekanselleer het. Daar is al hoe meer gevalle en ons hou dit dop,” sê Ingle.

“Die situasie verskil van area tot area en as hulle wel nog veilig rugby kan speel, glo ons hulle moet voortgaan. Alle protokol moet net gevolg word, en ons sê dit nie ligtelik nie.

“Ons respekteer die besluite wat geneem word en ons ondersteun dit, veral omdat dit oor die veiligheid van die kinders gaan.

“Ons weet nie wanneer die derde golf ons gaan tref nie en hoe sleg dit gaan wees nie, maar ons sal die besluite neem wat geneem moet word en ons verwag elke hoof sal doen wat nodig is. Ons is eerder veilig en konserwatief as om enigeen onnodiglik aan risiko bloot te stel.”

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van onderwys, het aan Netwerk24 gesê daar sal dié week ’n finale besluit geneem word. Die departement, en nie SA Rugby nie, het die finale sê oor skolesport.

“ ’n Vergadering word volgende week oor die saak gehou sodat ’n ingeligte besluit geneem kan word. Die infeksies by skole waar sportaktiwiteite plaasvind, is ’n bron van kommer,” het Mhlanga Vrydag gesê.

Meer oor:  Elijah Mhlanga  |  Skolerugby  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.