Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skool begin projek teen 'padkraters'
Vroeër toe slaggate in die omgewing gevul is. Leon Roos van Coastal Hire staan met die toerusting, terwyl Andi Wolmarans, bemarker by die skool, en Jan-Dirk Heyns, beheerliggaamlid, die slaggat opvul. Agter hulle is Muller Janse van Rensburg, beheerliggaamlid. Foto: Verskaf

Ouers en personeellede is sat daarvoor om daagliks die “padkraters” tot by die Bethlehem Voortrekker Hoërskool in die Oos-Vrystaat te trotseer, daarom gaan die skoolgemeenskap sommer self die graaf en pik optel.

Die skool nooi mense uit om Vrydag om 08:00 met ’n graaf, pik en besem, of net hulself, daar op te daag om hul projek te ondersteun om die beroerde stand van die paaie te verbeter.

Mense kan ook R50 per slaggat borg.

Jan-Dirk Heyns, ouer en ondervoorsitter van die skoolbeheerliggaam, sê hulle gaan met die projek die vier toevoerroetes na die skool oor ’n radius van sowat 800 m herstel. Die projek begin Vrydag amptelik.

Hulle het reeds in die middel van Maart gate begin opvul, maar kon onder meer weens reën die afgelope ruk nie verder werk nie.

Daar is verskeie #OnsSalSelf-projekte in Bethlehem waar die gemeenskap self inspring om die dorp op te knap.

Heyns beskryf die dorp se paaie as chaoties.

“Daar’s een plek wat van die N5 na die skool afklim, waarvoor ons omtrent 100 sakkies teer gaan gebruik. Die slaggat is seker vyf by drie meter groot.”

Hy sê die slaggate veroorsaak ’n verkeersopeenhoping by die skool en hou ’n risiko vir die leerlinge in.

Een van die strate wat aandag verg. Foto: Verskaf
Slaggate in die omgewing van die Bethlehem Voortrekker Hoërskool. Foto: Verskaf

“Ons het omtrent so 2 000 sakkies teer nodig om al die toevoerpaaie behoorlik reg te maak. Ons gaan nie net die gate toegooi nie, ons gaan hulle uitkap en 100% regmaak.”

Heyns sê die ondersteuning van die gemeenskap is ongelooflik. Talle boere gaan Vrydag werkers beskikbaar stel om te help en Coastal Hire bied sy toerusting aan.

Daar is reeds 300 sakkies teer ingesamel voordat die projek Woensdag bemark is.

Andi Wolmarans, bemarker by die skool, het ook met die munisipaliteit gesels en heelwat sakkies teer bekom. Die aantal is nie by die 300 sakkies ingesluit nie.

Benette Brits, die skool se adjunkhoof, sê die dorp se paaie het meer gate as teer.

“Ons wil eintlik die teer opkap, dis amper makliker, maar ons gaan nou die slaggate vul.”

Brits sê mense kan Vrydag ook net opdaag om hul ondersteuning vir die saak te wys.

• Mense wat ’n slaggat teen R50 wil borg, kan die skool by 058 303 4006 kontak.

Gys Coetzee, hoof van die Bethlehem Voortrekker Hoërskool, Jan-Dirk Heyns en Muller Janse van Rensburg, ouers en lede van die beheerliggaam, vroeër besig om die paaie by die skool op te knap. Foto: Verskaf
’n Slaggat in die omgewing van die skool word gevul. Foto: Verskaf

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.