Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skool huldig 2 leerlinge wat eie lewe neem

’n Byeenkoms ter nagedagtenis aan twee gr. 11-leerlinge van die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl wat verlede week hulself binne twee dae ná mekaar om die lewe gebring het, word Maandagoggend by die skool gehou.

Zara Malherbe (17) Foto: Instagram/Zara Malherbe

Zara Malherbe (17) se dood Vrydagmiddag volg kort op dié van Jade Gouws (17) wat Woensdagaand by haar huis dood is.

Amanda Lochner, die skoolhoof, het aan Netwerk24 gesê ouers en kinders is welkom om die byeenkoms by te woon wat om 08:00 begin. Daar sal ook gepraat word oor ’n plan om die hele gemeenskap by te staan en daar sal beraders by die skool wees.

Volgens Lochner word sy bygestaan deur ’n goeie beheerliggaam en voorsitter in dié moeilike tyd. “Ná die eerste voorval het ons nie gedink ons sal so vinnig weer deur so iets gaan nie.”

Sy sê die Here hou almal staande en sy moedig ouers en hul kinders aan om met mekaar te praat.

Sy sê albei die families het versoek dat die begrafnisreëlings privaat gehou word. “Ons het nie besonderhede daaroor nie.”

Jade Gouws (17) Foto: Facebook

Lochner sê sy doen alles in haar vermoë om ’n vangnet vir elke leerling, ouer en onderwyser van die skool te skep.

“Die jong mense om ons het ’n seer en ons kan nie begin dink waar en hoe om daardie seer te verstaan nie,” sê sy.

“Al wat ons kan doen, is om seker te maak hulle weet hulle het ’n klankbord, ’n ondersteuningsnetwerk wat wil help, en seker te maak dat hulle die vrymoedigheid het om daarvan gebruik te maak.”

Sy sê met Jade se dood kon sy en haar personeel vinnig intree en die leerlinge by die skool bystaan.

“Maar nou gaan ons die onderwysers ook met ’n vangnet moet toerus, want hulle kan nie alleen intree vir die kinders nie. ’n Hele gemeenskap moet nou help.”

Lochner, wat al 19 jaar by die skool is, sê die verhoudings wat sy en haar personeel met die leerlinge en ouers het, is oop en eerlik.

“Ek moedig ouers aan om hul kinders by die huis te leer dat dit oukei en normaal is om oor hul emosies te praat.

“Deel met jou vriende hoe jy voel, hê die vrymoedigheid om te sê wanneer dit sleg gaan. ’n Mens kan net help as mens weet dat daar iets fout is.”

Totdat daardie ingesteldheid nie diep by kinders gewortel is nie, sê Lochner, kan ’n mens net aanhou om ’n toeganklike ondersteuningsbasis vir mekaar te skep.

Volgens haar het Zara en Jade nie in dieselfde vriendekring by die skool beweeg nie.

Pastoor Etienne van Heerden van die AGS-kerk Paarl, sê sy gemeente grens aan die Laer- en Hoërskool La Rochelle en het al jare lank ’n goeie verhouding met die skool.

“So ’n ding ruk die hele gemeenskap en dit is dan wat jy ernstiger moet intree om volgende gevalle te keer,” sê hy.

Van Heerden het ’n video geneem waarin hy jarelange navorsing deel oor hoe om ’n potensiële slagoffer van depressie te identifiseer en hoe om hulle te help. Die video op sy Facebook-blad is in minder as 24 uur reeds meer as 10 000 keer gekyk.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, het in ’n mediaverklaring gesê sy is bekommerd oor die nuus oor die twee leerlinge. Sy het ’n beroep gedoen op leerlinge wat emosioneel sukkel om uit te reik na hul onderwysers sodat hulle hulp kan kry.

Volgens inligting op sosiale media gaan mense ook Maandag blomme by die skool neerlê.

Kry hier hulp
  • Die departement van onderwys in die Wes-Kaap moedig leerlinge wat sukkel met hul emosionele gesondheid aan om die Safe Schools-blitslyn te skakel by 0800 45 46 47 wanneer hulle ’n behoefte het om met iemand te praat.
  • Mense kan ook die Suid-Afrikaanse groep vir depressie en angs (Sadag) bel by 0800 456 789.


Meer oor:  Zara Malherbe  |  Jade Gouws  |  Hoër Meisieskool La Rochelle  |  Paarl  |  Selfdood  |  Leerlinge  |  Byeenkoms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.