Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Skool nié rassisties,’ sê swart ma

“My kind huil as sy nie kan skool toe kom nie, sy is baie gelukkig hier. Die skool is nié rassisties nie, swart en wit kinders word nie apart van mekaar gehou nie.”

Schweizer-Reneke
Die ma stap met haar dogtertjie buite die skool. Foto: Susan Cilliers

Só het die ontstelde ma van ’n swart kind gesê toe sy haar gr. 1-dogter Maandagmiddag by die Laerskool Schweizer-Reneke gaan haal het. Die ma het gevra dat haar naam nie gepubliseer word nie. Sy was na aan trane nadat ’n EFF-lid glo toegang tot die skoolterrein probeer verkry het deur valslik te beweer die vrou se dogter is sy kind.

Die skool se beheerliggaam het ’n private veiligheidsmaatskappy aangestel om Maandag toegang tot die skoolterrein te beheer om seker te maak die kinders en onderwysers is veilig sedert die rasseherrie verlede Woensdag by die skool losgebars het oor ’n foto wat wys dat swart en wit kinders in ’n gr. R-klas by aparte tafels sit.

Ouers het hul kinders verlede Donderdag by die skool gaan haal nadat betogers daar opgedaag het. Maandag het net sowat 60 kinders skool toe gegaan uit vrees dat daar weer oproer kan uitbreek terwyl Noordwes se onderwysdepartement en die Menseregtekommissie (MRK) met ’n ondersoek na die beweerde rassisme by die skool begin het.

Daar was Maandag geen oproer by die skool nie. Thami Moremi van die EFF was egter woedend toe hy teen middagete die skoolterrein wou binnegaan, maar die veiligheidswagte hom voorgekeer het en wou weet wie hy kom haal.

Moremi het hulle van rassisme beskuldig. Hy het aan die media gesê hy het sy niggie se kind kom haal. Volgens die veiligheidswagte het hy vir hulle gesê die meisie wat saam met haar ma op pad uit was, is sy kind.

“Dis was ’n leuen. Ons vra elke persoon, swart en wit, watter kind hulle kom haal,” het een van die veiligheidswagte gesê.

Gopolang Valtyn, die Noordwes-onderwysdepartement se subdistriksbestuurder in die Schweizer-Reneke-omgewing, sê die ondersoek na die beweerde rassisme kan tot drie maande duur.

“Die situasie by die skool sal nog hierdie week normaliseer sodat die kinders kan terugkeer.”

Die ondersoek gaan moontlik ook na ander skole in Noordwes uitgebrei word.

Thami Moremi, ’n EFF-lid, trek Maandag te velde voor die Laerskool Schweizer-Reneke omdat hy toegang tot die terrein geweier is. Veiligheidswagte sê hy het gejok dat hy ‘n kind in die skool het. Moremi het aan die media gesê hy het sy niggie se dogter kom haal. Die kind was nêrens te sien nie. Foto: Susan Cilliers

Amanda Naudé, ’n ouer wat ook haar kinders voorlopig uit die skool hou, meen dis nie verkeerd dat oor die foto gekla is nie, maar sê die situasie word uit verband geruk ten koste van die kinders.

Adv. André Gaum, ’n kommissaris by die MRK verantwoordelik vir die reg tot onderwys, het gevra dat alle rolspelers koelkop bly en die ondersoek ’n billike kans gee.

“Net soos wat sterk opgetree moet word teen bewese rassisme, mag niemand as rassiste gebrandmerk word indien daar nie bewyse is nie. Die MRK ondersoek die saak onpartydig, ons loop nie dinge vooruit nie.”

Die MRK is deel van ’n taakspan vir transformasie wat die onderwysdepartement saamgestel het om die skool te ondersoek. Arbeidsregtelike kwessies oor die hantering van die betrokke onderwysers sal ook ondersoek word.

Elana Barkhuizen, wat die gewraakte foto in Elsabé Olivier se gr. R-klas geneem het, is geskors hangende die ondersoek. Olivier is egter nie geskors nie. Die kinders is na bewering geskei omdat die swart kinders nie Afrikaans of Engels kan praat nie en hulle apart aandag gekry het met die hulp van ’n tolk. Gaum sê die MRK ondersoek ook of onderwysers se regte geskend is, die skool se taalbeleid en of die skool ’n rassistiese beleid het.

“Ons is veral bekommerd dat so min kinders nou skoolgaan en hul reg tot basiese onderwys geskend word.”

Valtyn het die private veiligheidswagte wat gewapen was, Maandagoggend beveel om hul wapens van die terrein te verwyder omdat skole wapenvrye gebiede is. Lede van die SAKP wat by die skool opgedaag het, is ontevrede omdat daar glo te veel wit kinders en personeellede by die skool is.

“Die skool is nie getransformeer nie,” sê Sandile Kgosieng, een van die lede.

Regslui van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) staan onderwysers by die skool in die ondersoek by. Die vakbond Solidariteit verteenwoordig Barkhuizen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.