Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skool raadop oor sy hulpkrete nie gehoor word

Of dit nie genoeg is dat ’n groep skoolkinders in die Pretoriase Moot mobiele toilette moet gebruik en in donker klasse sit nie, moet hulle ook in hul pasoppens wees vir die kragdrade wat van ’n ander gebou na hul klaskamers loop.

Die Laerskool Wonderboom-Suid het dié kragdrade wat na vyf mobiele klaskamers loop met veiligheidslint gemerk. Foto’s: Elizabeth Sejake

Die Gautengse onderwysdepartement het in Februarie ná ’n vreeslike gesmeek vyf mobiele klaskamers by die Laerskool Wonderboom-Suid afgelaai. Dis bedoel vir 79 leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes (LSOB) tussen agt en 13 jaar oud.

Dié klasse staan, soos die mobiele gr. R- en gr. RR-klaskamers, oorkant die straat van die skool se hoofgebou en het geen water, toilette en elektrisiteit nie.

Die kragdrade is van ’n gr. R-klaskamer na die LSOB-klasse aangelê.

Rapport kon tydens ’n besoek aan die skool vasstel daar word net genoeg krag herlei om die LSOB-klasse se interaktiewe witborde te kan gebruik, maar die vertrekke was redelik donker, al het die son helder geskyn.

“Ons wil net ons kinders veilig hou.”

Deon du Toit, beheerliggaamvoorsitter, sê in die winter was dit ysig koud in dié klasse en hulle is bekommerd oor die hitte wat voorlê, om nie eens te praat van die donderstorms nie.

Hulle bedek die kragdrade met vullissakke as dit reën. Du Toit sê die skool wíl alles reg en veilig maak, maar het eenvoudig nie nou die geld daarvoor nie.

“Ek wens net ons kan die hulp kry wat ons nodig het.

“Ons wil net ons kinders veilig hou en hulle gee wat hulle regtens toekom.

“Ons wil vir ons kinders die beste gee en volgens die wet doen ons dit nie in dié stadium nie. Ons gee hulle nie ’n veilige leerplek nie.”

Die mobiele toilette wat vir gebruik deur leerlinge met spesiale leerbehoeftes is. Foto: Elizabeth Sejake

Op die skool se hoofterrein is twee klaskamers al byna twee jaar lank met draad en veiligheidslint afgesper.

Die skool het destyds gevra dat daar na dié vertrekke gekyk word weens ooglopende strukturele probleme soos pilare wat skuif en groot krake in die mure. Die leerlinge wat daar moes skoolgaan, is eers tydelik in die saal gehuisves en sedertdien by ander klasse ingedeel.

Du Toit sê hy het al tred verloor met hoeveel keer die departement belowe het om na die probleme om te sien.

“Ek weet nie meer wat om vir die ouers te sê nie. Elke keer belowe die departement nóg twee weke, dan belowe ek die ouers twee weke en dan gebeur niks. Dis nou reeds weer drie maande (sedert die laaste onderneming).”

Twee klaskamers is al byna twee jaar afgesper omdat dit as struktureel onveilig verklaar is.

Marius Botha van Marius Botha Konsultante, ’n groep onderwysbestuur en -regskonsultante wat skole bystaan met onder meer dissiplinêre probleme, sê verlede week het die skool ’n oproep van ’n amptenaar van die departement gekry wat wou bevestig dat alles afgehandel is.

“Maar niks het dan gebeur nie,” sê hy.

Hulle meen daar is ’n kommunikasiegaping in die departement.

Die departement het die skool ook ingelig dat geen verdere LSOB-leerlinge daar geplaas sal word totdat al die probleme opgelos is nie.

“ ’n Ou waardeer dit, want jy wil nie nog druk plaas nie, maar waarnatoe gaan daai kinders?

“Wat is in hul beste belang?” sê Botha.

Die skool het op 3 September deur die prokureursfirma Hurter Spies ’n derde brief geskryf om die departement se hulp te vra.

Dit het ook onbeantwoord gebly.

Die skool, wat in ’n armer deel van die Moot is, gee al van die begin van die inperking aan sowat 100 gesinne kospakkies.

Dis benewens die toebroodjies wat hulle by die skool aan behoeftige leerlinge uitdeel.

“Ons oorleef elke maand op genade van Bo,” sê Botha.

Die departement het nie op Rapport se versoeke om kommentaar gereageer nie.

“Die skool en die staat en die beheerliggaam het die verantwoordelikheid om vir die kind ’n veilige leeromgewing te skep waar bevorderlike onderrig kan plaasvind.

“Dit gebeur nie hier nie,” sê Botha.

Meer oor:  Deon Du Toit  |  Marius Botha  |  Pretoria  |  Die Moot  |  Laerskool Wonderboom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.