Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skool sê jammer ná LGBTQI+-voorval

Die hoof en beheerliggaam van die Hoërskool D.F. Malan in Bellville het om verskoning gevra vir gebeure die afgelope week by die skool nadat daar glo teen leerlinge van die LGBTQI+-gemeenskap gediskrimineer is.

Dié skool was vandeesweek in die spervuur nadat daar glo nie opgetree is teen die skuldiges wat teen leerlinge van dié gemeenskap gediskrimineer en hulle glo beledig het nie.

André Roux, voorsitter van die Hoërskool D.F. Malan se beheerliggaam. Foto: Jaco Marais

’n Groepie LGBTQI+-leerlinge en hul ondersteuners wou iets reël om Pride-maand by die skool te vier, maar die skool het dit van die hand gewys omdat dit “nie inklusief is nie”.

Nadat die groepie toe self besluit het om Maandag tydens pouse vir ’n klein viering bymekaar te kom, is hulle glo uitgejou en is daar volgens die skool “onaanvaarbare opmerkings heen en weer geslinger”.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, en die Menseregtekommissie (MRK) het Woensdag hul kommer oor die voorval uitgespreek.

Die skool het Donderdagaand in ’n verklaring om verskoning gevra.

“Ons verwelkom die ondersoek van die MRK met die veronderstelling dat dit in die skool en ons kinders se belang is om nie net die gebeure deeglik te ondersoek nie, maar ook om ons te help om ’n herhaling van hierdie week se ongelukkige gebeure te vermy,” sê André Roux, die skool se beheerliggaamvoorsitter, in die verklaring.

Ons verwelkom die ondersoek van die MRK met die veronderstelling dat dit in die skool en ons kinders se belang is om nie net die gebeure deeglik te ondersoek nie, maar ook om ons te help om ’n herhaling van hierdie week se ongelukkige gebeure te vermy.

Roux het gesê hulle het nog geen amptelike skrywe van die MRK ontvang nie.

Intussen het die herrie weer Woensdagaand op sosiale media opgevlam nadat ’n leerling van die skool ’n video op IGTV op Instagram gelaai het.

Die leerling het intussen die video verwyder, maar Netwerk24 het ’n kopie daarvan ontvang.

“Julle moet verstaan D.F. is ’n Christelike skool,” sê die leerling in die video.

“Homoseksualiteit is teen Christus. Respekteer net die skool se reëls en as jy nie die skool se keuses respekteer in gelowigheid en geloof nie, dan moet jy vir jou ’n ander skool vind, want dan is die skool nie die regte skool vir jou nie.

“Ek respekteer jul keuse, ek respekteer nie die community nie.

“Julle kan oral buite die skool jul vlaggies gaan waai en as julle dit binne die skool doen, dan word julle gespot. Dan word julle depressief en julle wonder dan hoekom.

“Maar dan is dit eintlik jul eie skuld, want julle sit en vlaggies waai en wys vir almal ‘ek’s gay’.”

Simónn Meyer, ’n oudleerling en LGBTQI+-aktivis, sê dié soort diskriminasie gebeur nie net by D.F. Malan nie.

“D.F. is nou die voorbeeld. Die volwassenes in beheer van skole het nie altyd die nodige kundigheid om LGBTQI+-kwessies te hanteer nie. Dit blyk hulle glo om die regte van LGBTQI+-leerlinge te respekteer, is net ’n mening.”

Meyer het ook gehelp om ’n Google Docs-dokument op te stel waarin verskeie leerlinge wat in D.F. Malan is of was, van hul LGBTQI+-ervarings vertel het.

“Dit is belangrik dat die skool moet weet dié is nie ’n unieke geval nie,” sê Meyer.

’n Vrou wat op Change.org ’n petisie oor die voorval begin het wat al meer as 13 500 handtekeninge gelok het, het die dokument saam met Meyer geskep.

Ek voel op hoërskool word jy erg in boksies ingedruk en jy word nooit uitgedaag om buite daardie boksies te dink nie.

Sy was ook in D.F. Malan en verkies om anoniem te bly.

“Ons hoop die dokument gaan mense se oë oopmaak oor LGBTQI+-diskriminasie in alle skole.

“Ek voel op hoërskool word jy erg in boksies ingedruk en jy word nooit uitgedaag om buite daardie boksies te dink nie,” sê sy.

Die vroue beplan om die dokument so gou moontlik aan die skool te stuur.

Roux het aan Netwerk24 gesê dit is nou duidelik dat “die situasie anders gehanteer kon word”.

“So ’n geleentheid sal nie weer verbied word nie. Ons sal graag met toekomstige organiseerders wil saamwerk om te verseker dat die geleentheid binne die konteks en beperkinge van die skool geskied en komplementêr tot die skool se onderrigprogram gehanteer word,” sê hy.

Die beheerliggaam het onderneem om ’n onafhanklike ondersoek te begin wat nie net die homofobiese gebeure van die week ondersoek nie, maar ook wyer kyk na hoe inklusiwiteit wat minderheidsgroepe betref, verbeter kan word.

So ’n geleentheid sal nie weer verbied word nie.

Teen die leerlinge wat verkeerd opgetree het, sal “daadwerklik en remediërend met inagneming van opvoedkundige uitkomste opgetree word” nadat die ondersoek afgehandel is.

Volgens Roux het die skoolbestuur reeds voor die week se gebeure gepaste programme beplan vir onderwysers en leerlinge wat “nie goed ingelig is nie”.

“Betroubare diensverskaffers sal gebruik word om die nodige steun te verleen. Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het ook hul ondersteuning in dié verband aangebied,” sê Roux.

Meer oor:  Hoërskool D.F. Malan  |  Bellville
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.