Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skoolgaan in die tyd van Covid-19

Talle leerlinge van oor Suid-Afrika heen is Dinsdag weer hok toe – by die huis.

Quezette van der Merwe van Upington, ma van Amelia (9 maande), Emmah (11) en Liviah (2), het dié prettige foto op Facebook gedeel van hul eerste tuisskooldag. Foto: Verskaf

Die tweede kwartaal sou Dinsdag amptelik hervat het, maar ná die aankondiging van die ramptoestand en die staat van inperking sal duisende leerlinge eers later na hul skole terugkeer.

In etlike huishoudings was dit Dinsdag skouer aan die wiel sit vir die meeste leerlinge en hul ma’s, en sommige pa’s, wat taamlike gemengde gevoelens oor hul nuwe beroep as onderwyser gehad het.

Terwyl sommige dit terdeë geniet het, het ander ma’s al binne die eerste uur ’n paar grys hare bygekry.

Sommige ouers het nuwe en kreatiewe maniere bedink om die kleinspan aan te spoor om hul skoolwerk te doen en heeltydse werkende ma’s wat hul werk van die huis af moes verrig, het gestoei om ’n nuwe normaliteit aan die orde van die dag te bring.

Martine Burger, ’n heeltydse werkende ma van Upington in die Noord-Kaap, het ’n bobaas- plan bedink en vir haar telge ’n snoepie op die been gebring. Die Burger-huishouding het sy eie ekonomie gekry met Burger-rande en al.

Migael en Klara Burger, onderskeidelik in gr. 7 en gr. 2, van Dewetsdorp het sedert die skole gesluit het daagliks leestake, liggaamlike oefeninge en wiskunde beoefen om nie met hul skoolwerk agter te raak nie. Die hegte boetie en sussie het Maandag saam hul skoolwerk getakel. Foto: Verskaf

Indien Henning, in gr. 2, en sy kleinsus, Mia, in gr. R, hul huiswerk en huistake netjies voltooi, verdien hulle sakgeld. Met hul sakgeld kan hulle dan versnaperinge by die snoepie en TV-tyd koop.

“My werk gaan aan soos normaal, so ek moes vinnig ’n plan maak om die kinders besig te hou. Sover werk dit goed vir ons,” skater Martine.

Quezette van der Merwe, ’n ma van drie dogters van Upington, was so reg soos ’n roer vir haar nuwe taak as onderwyser.

“Ons het besluit om so normaal moontlik aan te gaan. Die skole sou vandag begin het, nou gaan dit net by die huis aan.” Sy wil graag haar dogter, Emmah (gr. 5), stimuleer sodat haar gemoed reg is wanneer die skool begin.

“Liviah, wat 2 jaar oud is, leer net soveel nuwe woorde en dinge daagliks en Amelia, 9 maande oud, is net te bly dat haar sussies elke dag by die huis is,” sê Van der Merwe.

Luan Pretorius (6) van Kakamas was glad nie met sy ma, Elmarine, se onderwysvaardighede beïndruk nie en het haar mooi laat verstaan dat sy nie sy juffrou is nie. Foto: Verskaf

In Groblershoop het Adrienne Smith, wat haar matriekjaar aan die Hoërskool Duineveld in Upington voltooi, reeds vroeg agter haar rekenaar ingeskuif. Sy wil nie in hierdie belangrike skooljaar met haar studies agter raak nie.

In Kuilsrivier, in die Wes-Kaap, sê Clarissa Schaffers sy het nuwe respek vir die onderwys.

“Wat ’n belewenis. Ek het soveel respek vir onderwysers. Hierdie taak is my nie beskore nie, want ek het geen geduld nie.”

Haar kroos, Jordan in gr. 5, Cole in gr. 1 en Jackson in gr. RR, hou haar en haar man, Jason, op hul tone, maar was Dinsdag met Pa se hulp op hul pos agter hul boeke.

Schaffers sê sy wil eerder die kinders se roetine behou sodat hulle nie sukkel wanneer hulle weer ná ’n lang onderbreking in die klaskamer moet wees nie.

Nog ’n pa van die Wes-Kaap, Dylan Dowell-Ellis, het die onderwysleisels by sy vrou, Marisse, oorgeneem om hul bekkige 4-jarige dogter, Annabeth, te tuisskool.

Die Van der Westhuizen-tweeling, Laramae en Henlo (4), is die jongste tweeling van twee dubbeldore in een gesin. Foto: Verskaf

Dit was maar ’n stryd aangesien Annabeth graag eerder die juffrou wil speel en nie te beïndruk met pa se lesplan was nie.

In Onrus in die Wes-Kaap moes Annelize Burger met haar 8-jarige dogter, Lilian Lee, onderhandel.

“Ek moes nou wraggies eers onderhandel. Daar sal kolwyntjies gebak word en solank soos die baksel in die oond is, sal sy haar tuiswerk doen, maar geen tuiswerk voordat dit nie in die oond is nie. Sug.”

Petro Scheepers van Secunda in Mpumalanga was skoon kortasem oor haar nuwe aanstelling as tuisskoolma. “Ek is nie ’n onderwyser se gat werd nie. Dis hoekom ek ’n solo-werk gekies het. Dís hoekom ek in klein groepies beweeg. Ek is só in my glory in met dié deel.”

Sy sê haar drietal het Dinsdag nog voor die TV deurgebring.

Henning (gr. 2) en Mia Burger (gr. R) is druk besig met hul tuiswerk. Hulle verrig ook huistake waarvoor hulle dan Burger-Rande verdien wat hulle by die Burger-huis se snoepie kan bestee. Foto: Verskaf

Michelle Fourie van Upington moes self ’n pouse neem nadat die dag vir haar te lank geraak het. “O nee, dit is nie vir my nie. Ek sukkel al drie uur lank om vir Jaco te leer om tot 30 te tel.”

Klein Luan Pretorius (6) van Kakamas het sy ma, Elmarine, sommer gou laat verstaan dat sy nie sy juffrou is nie.

In Dewetsdorp in die Vrystaat hou Klara Burger, in gr. 2, en ouboet Migael, in gr. 7, hulself al sedert die skole gesluit het met leeswerk en ander kreatiewe aktiwiteite besig. Stéfan Burger, ’n kliniese sielkundige van die Jimmy Roos-skool en pa van dié kroos, sê Klara het tuiswerk vir die week ontvang terwyl Migael nog op sy take wag.

“Ons het die hele vakansie tyd gemaak vir lees, begripstoetse en ’n bietjie wiskunde. Ons laat die kinders ook liggaamlike oefeninge doen en hou hulle besig met kuns en kultuur.”

Pa Dylan Dowell-Ellis van die Wes-Kaap help Annabeth (4) met haar skooltakies. Foto: Verskaf
’n Matriekleerling van die Hoërskool Duineveld in Upington, Adrienne Smith, het nie op haar laat wag nie. Sy was reeds vroegdag agter haar rekenaar en besig om te leer. Foto: Verskaf
Martine Burger, ’n heeltydse werkende ma, moes op haar voete dink om haar telge, Henning en Mia, besig te hou. Sy het vir hulle ’n snoepie op die been gebring met hul eie geldeenheid, Burger-Rande, waar hulle versnaperinge kan koop as hulle hul tuiswerk en ander take voltooi het. Foto: Verskaf
Willem van Aarde, ’n gr. 2-leerling van Kanoneiland, oefen om die letter i te skryf terwyl sy hond Jasper ’n ogie hou dat dié kleinman sy skoolwerk voltooi.
Lilian Lee (8) van Onrus in die Wes-Kaap het eers streng met haar ma onderhandel dat sy haar tuiswerk sal doen mits hulle kolwyntjies kon bak.
Kendrick en Caleb van der Westhuizen (8) is die oudste tweeling in die Van der Westhuizen-gesin van Upington.
In Kuilsrivier was dié drie, Jackson, Jordan en Cole, druk besig met hul tuiswerk. Hul pa, Jason, het ’n ogie gehou terwyl ma Clarissa haar heeltydse werk moes doen.

In die Van der Westhuizens van Upington se huis is die lewe in die algemeen altyd in rep-en-roer, want hier woon niks minder nie as twee stelle tweelinge. Soek jy na ’n uitdaging sal hul ma, Lana, ’n onderwyseres van beroep met haar eie kleuterskool, jou hartlik vir tee nooi.

Sy sê sy geniet dit om vir Kendrick en Caleb (8) en Laramae en Henlo (4) tuisonderrig te gee, maar by tye het dit sy eie uitdagings en kan dit uiters frustrerend raak wanneer sy ook soos ander ma’s moet aanhoor: “My juffrou doen dit nie so nie”, of “My juffrou doen dit op ’n ander manier”.

Van der Westhuizen sê dit het ook sy voordele, want met haar twee peuters kan sy sien waar hul fyn motoriese funksies nog nie lekker ontwikkel het nie en daarmee kan sy dan help.

Maar omkopery met ’n pakkie Smarties verrig ook wondere. “Vir elke taak wat hulle voltooi, gooi ek ’n Smartie in ’n glasie. Wanneer al die take voltooi is, kan hulle die lekkernye eet.”

Sy sê dit voel vir haar tans asof sy aan onttrekkingsimptome ly, want sy mis haar manier van skoolgee en haar nasorg en kleuterskool wat nou met die staat van inperking gesluit moet wees.

Dit leer haar ’n ander soort geduld met haar kinders, sê Van der Westhuizen, en lag dan lekker wanneer sy sê hoe belangrik die rol van oumas en oupas is. “Sjoe, as dit nie vir hulle was nie het ek seker al lankal Laramae en Henlo se monde met kleefband toegeplak.”

Haar man, Heinrich, het besluit om hom eerder van die tuisonderrig te distansieer voordat hy dalk “een van die kinders vir aanneming buite los”.

Sy sê sy het ook besluit om nie weer haar grys hare te kleur nie, maar hulle eerder te dra as ’n kroon om die Here te dank vir nog ’n dag.

Meer oor:  Koronavirus  |  Inperking  |  Onderwys  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.